Huisie by die see

Wie van ons het nog nie tydens ’n strandvakansie geloop en huise kyk nie? Meer spesifiek, na die name van die huise gekyk nie.

Hoekom ’n huis ’n naam moet hê, weet ek ook nie mooi nie. Die bousel het mos ’n naam. Huis. Waarom dit nog iets anders gaan noem? As jy dan meer as een het, noem die een huis, die ander strandhuis en as jy nóg het, plaashuis, dorpshuis en só voorts.

Wat my die meeste van hierdie naamgewing ontstem, is die eienaars se gebrek aan kreatiwiteit. (Seker weer die arme juffrou in graad 3 se skuld wat hul kleinspierkoördinasie opgefoeter het!)

Daar is veral drie kategorieë wat die witwaks uit my irriteer:

Eerstens daardie name wat met die see te doen het. Klaarblyklik het niemand hulle geleer jy spel see met ’n S nie. Lekker by die C, Come C why, C uitsig en ….

Die tweede groep is daardie arme drommels wat totaal en al nog nie eens die woord kreatief gehoor het nie. Hulle beste poging is om dele van almal in die gesin se name tot een of ander monstrositeit tevervoeg. Jomasage. Vang jy dit? Nie? Dis maklik; kom ek ontrafel dit vir jou. Dit is ’n neologisme van pa Johan, ma Marie, sus Sarie en kleinboet Gert! Dom van jou, né!

Laastens is daar die met die bousels wat die koningin skaam maak om te sê sy woon in Buckingham Paleis. Hierdie mense is tog só nederig met name soos Ookmaar-net, Trek-maar-swaar, Pondok en Nessie.

Maar die nommer een op my terefferparde bly nog Hier wurg Willie … terwyl die branders saggies in sy ore klots.

Erens, nie te ver van Willie se wurgery nie, is daar mense wat niks het om aan te wurg nie.

Wat nog te sê om hulle sinkplate ’n naam te gee!

Foto: Kleinmond

(Visited 1,633 times, 1 visits today)

No comments yet.

Leave a Reply