Dis hoe jy eindig wat saak maak!

Daar word baie gesê dat dit nie is hoe jy die wedloop begin nie, maar hoe jy die wedloop voltooi.

As jy dit voltooi …

Om halfpad op te hou, lyk dit vir my, het ’n aanvaarbare norm van ons tyd geword. Ons het dan ook nog genoeg, goed gemotiveerde verskonings gereed om dié ophou mee te regverdig.

Verby is die dae dat jy dit wat jy begin, tot op die einde deurvoer.

Miskien het dit tyd geword dat ons weer ons kinders leer dat ’n mens alles wat jy aanpak, met dieselfde geesdrif moet afsluit as waarmee jy dit begin het. Al wen jy nie die resies nie.

Want dit gaan nie altyd oor wen nie. Dit gaan oor die klaarmaak. Om te kan sê ek het die Comrades gehardloop of ek het die Argus gery. Niemand wil eintlik weet hoeveelste jy gekom het nie. Die belangrikste is dat jy deelgeneem en klaargemaak het.

Saam met die klaarmaak, kan ons dalk ook ons kinders van deelname vertel. Ons staan deesdae so lekker op die kantlyn en kritiseer, want dis makliker om ander se pogings te beoordeel en te kritiseer as jou eie.  ’n Mens stel jou mos net nie meer só bloot nie!

En terwyl ons nou besig is om ons kinders te onderrig, kan ons hulle ook leer dat die klaarmaak baie meer van jou karakter vertel as wat die wegspring ooit kan.  Die finale oordeel oor ‘n poging lê baie keer in die strompel oor die wenstreep. In die val oor die hekkie en die weer opstaan. Dit lê in die strikkie om die geskenkpakkie en dit word vergestalt in die dankie-sê-briefie na die lekker kuier.

Dit is wat die mense gaan onthou. Die einde.  Nie die wegspring uit die blokke nie. Almal kan wegspring, maar nie almal kan klaarmaak nie.

John Stephen Akhwari, marathonatleet van Tansanië, het tydens die Olimpiese Spele van 1968 in Mexiko nie die goue medalje verower nie. Ook nie die silwer of die brons nie. Inteendeel; hy het meer as ‘n uur na die wenner reeds aangekondig is, die wedloop voltooi! In die heel laaste plek.

Daar was nog net ’n paar toeskouers in die stadion oor toe Akhwari, stuikelend en met ’n bebloede verband om die been, die stadion instrompel. Maar van handdoek ingooi was daar geen sprake nie.

Die klein skare se applous het John Stephen oor die wenstreep gedra. Toe ’n verslaggewer hom vra waarom hy nie opgehou hardloop het nie, want daar was geen kans dat hy kon wen nie, het John Stephen verbaas geantwoord:    My country did not send me to Mexico City to start the race. They sent me to finish.

Luister mooi: they send me to finish!

Dit is nie hoe ek begin nie, maar hoe ek klaarmaak.

Finish en klaar!

 

It is not the critic who counts: not the man who points out how the strong man stumbles or where the doer of deeds could have done better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood, who strives valiantly, who errs and comes up short again and again, because there is no effort without error or shortcoming, but who knows the great enthusiasms, the great devotions, who spends himself for a worthy cause; who, at the best, knows, in the end, the triumph of high achievement, and who, at the worst, if he fails, at least he fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who knew neither victory nor defeat. – Theodore Roosevelt

Inside a ring or out, ain’t nothing wrong with going down. It’s staying down that’s wrong. – Muhammad Ali

Success is the ability to go from one failure to another with no loss of enthusiasm. – Winston Churchill

Image: 312010/FreeDigitalPhotos.net

  

(Visited 1,061 times, 3 visits today)

, , ,

4 Responses to Dis hoe jy eindig wat saak maak!

  1. Leon March, Monday 19 2012 at 8:45 am #

    Rian, Dit is so waar…ek ervaar dit byna elke dag ook hier in die werk situasie dat baie van die jongmense van vandag sukkel om klaar te maak…dit raak net te maklik om tou op te gooi…dit het die norm geraak!! Hoe ons dit omkeer, veral in ons skole weet ek nie

    • Rian Truter March, Monday 19 2012 at 12:57 pm #

      Miskien sien hulle nie genoeg voorbeelde van vasbyters nie? Miskien is dit OK vir pa en ma dat hulle ophou. Drop hulle nou net uit die eerste span en pa is die eerste wat se hy moet ophou, want die afrigter weet niks! Dankie vir die kommentaar, Leon.

  2. Chris Viljoen March, Tuesday 20 2012 at 9:47 am #

    Rian
    Pas die voorreg gehad om as senior deelnemer, in oudste groep, die SA driekamp kampioenskappe te voltooi. Wat ‘n wonderlike ervaring om saam met twee oudleerlinge aan so’n byeenkoms te kon deelneem en te kon ”klaarmaak”! Vasbyt het ook vir my nuwe betekenis gekry. Dankie vir jou ”finish” en klaar.
    Groete

    • Rian Truter March, Tuesday 20 2012 at 4:03 pm #

      Geluk, Chris! Dis jou tipe voorbeeld wat wys hoe dit gedoen moet/kan word.

Leave a Reply