Ek besef nou die dag, terwyl ek met ’n groep oor hoe om by die maan uit te kom praat, dat ek eintlik nooit die ander rigting bespreek nie. So alsof almal weet hoe moer toe gebeur.
Daarom wil ek vandag so ’n bietjie oor die ander rigting van maan toe, naamlik moer toe, gesels.
Nou hoe gebeur dit? Die moer-toe-ding.
Eerstens: Dit gebeur net!
Jy staan een oggend op en bekyk jouself in die spieël en tot jou skok besef jy dít hét gebeur. Jy ís moer toe!
En dan begin wonder jy wanneer en wat het dan gebeur dat jy só agteruit geboer het. Miskien is die verval in die eens trotse borskas wat nou ’n hangkas is, of nog erger… Jou gemoed en gedagtes het meer potholes as ’n pad in Noordwes Provinsie!
Sonder dat ons dit besef, laat ons almal toe dat dinge en goeters verval. Of dit nou die geute van jou huis is of die spiere in jou lyf, almal het onderhoud en versorging nodig. Niks bly dieselfde of in dieselfde topkondisie nie! As jy nie daarna kyk nie, sál dit uitmekaar begin val.
Tweedens: Skaarsheid teenoor oorvloed.
Stephen Covey praat van die abundance mentality. As jy eers begin glo daar is nie meer genoeg vir jou oor nie, dan moet jy weet jy is volstoom op pad moer toe!
As jy net versamel, bymekaar maak en opgaar vir die verbeelde ramp en hongersnood wat kom, het jy reeds die grens na moer-toe-land oorgesteek. Jou paspoort is gestempel en jy kan maar net so wel om burgerskap aansoek doen!
Maar as jy besef jou taak is om weg te gee, want daar is oorgenoeg vir ieder en ’n elk om ’n bestaan te maak… dan is jy beslis op pad maan toe.
Dan verstaan jy die wêreld het oorgenoeg go-getters, maar beslis nie genoeg go-givers nie!
Derdens: Die mense en dinge wat jou beïnvloed.
Kom ons noem hulle sommer net jou beïnvloeders, want dit is hulle wat jou die rigting van moer toe aandui. Wat ontstellend van hierdie beïvloeders is; hulle is die mense en dinge naaste aan jou.
Soms besef jy met ’n skok jy gebruik dieselfde woord as jou beste vriendin! Die regering is só hopeloos en die onderwysers by die skool is net totaal useless! En daar is tog nie hoop vir ons kinders nie, maar dit is nou seker te laat om die land te verlaat.
Wat jy net nie besef nie, is dat jy dié land al lank al verlaat het! Nie in die vlees nie, maar in die gees. Jy is nou ’n burger van die Republiek van Moer Toe!
Maar dit is egter ook die nuus wat jy kyk en die artikels wat jy lees. Dit is die TV-programme wat jy kyk. En al dié word later die stories wat jy glo… En meer nog; jou besittings wat jou hele bestaan definieer!
En dit alles, word jy!
Moer toe!
The most basic human impulse is towards entropy and laziness. The less we have to do to grow spiritually, the more likely we are to do it. – Alexandra Fuller
An abundance mentality springs from internal security, not from external rankings, comparisons, opinions, possessions, or associations. – Stephen Covey
The people you surround yourself with influence your behaviours, so choose friends who have healthy habits. – Dan Buettner
Puik gestel soos gewoonlik
Dankie vir die lees, Nadia! Waardeer.
Hel Rian dis baie raak gepraat.
Groete uit Yzerfontein.
Mooi loop, Pikkie!