Ek loop my nou die oggend amper disnis teen ’n man wat agteruit na my toe aangestap kom. Onmiddellik dink ek: wie is nou só simpel!
My irritasie wil my net op ’n knop ruk toe ek sien die man is besig om met ’n kierie op die grond te tik. Nogal met mening. Tik! Tik! Tak!
En so twintig tree verder kom ’n klein seuntjie, seker so ses jaar oud, al agter die geluid aangestap. Ligblou sweetpakbaadjie en die tradisionele grys skoolbroekie. Soms so ’n bietjie van koers af, maar as die man dan harder op die grond kap, korrigeer sy interne GPS hom en zone hy op die geluid in.
Want sien hy is blind. En die man was besig om hom te leer om in ’n besige winkelsentrum koers te hou. Agter op die sweetpakkie staan daar iets soos In Training geskryf, maar ek kon nie mooi lees nie…
Want lank nadat die man en die alleen figuurtjie al om die volgende hoek verdwyn het, het die wasigheid eers uit my oë verdwyn. En ek het skielik begin wonder watter geluide ek volg?
Is dit die geluid van die kasregister wat my lok? Geld en materiële dinge om my te laat voel die lewe is die moeite werd.
Of is dit dalk die geluid van applous in my ore? For he’s a jolly good fellow en ons sê almal so. Almal se pel. Gewild of die middelpunt van die attraksie.
Of dalk die geluid van jou nuwe selfoon waarsonder jy nerens kan gaan nie? Daai ene waarop jy kliphard in die bussie oppad na die vliegtuig praat.
Of dalk loop jy agter die geluid van jou eie liggaam aan? Die looks, die klere, die lyf. Die ewigdurende gimsessies om beter te wil lyk.
Of loop jy al agter die geween en gekners van tande aan? Saam met al die smartvrate wat glo hulle verdien beter as dit wat hulle reeds het.
Ek sien weer die alleen kleinmensie wat agter die geluid van ’n kierrie aanloop en ek sê dankie Here.
Dankie vir alles wat ek het en nie elke dag waardeer nie.
Dankie vir mense wat bereid is om te sê: Volg my!
Al wat dan nog oorbly om te vra, is: Watter geluid maak ek?
The Future’s So Bright, I Gotta Wear Shades. – Timbuk3
There are three classes of people: those who see. Those who see when they are shown. Those who do not see. – Leonardo da Vinci
Wie ore het en kan hoor, moet luister. – Mark 4:9
Image: Danilo Rizzuti/FreeDigitalPhotos.net
Ag dankie. Ek was vanmiddag bietjie teneurgedruk omdat dit voel die wereld druk van alle kante maar na jou pragtige stukkie besef ek weereens dat ek soooo baie het om voor dankie te se! Dankie vir daardie pragtige stukkie!
Vreugde, Alet! Ek wou die klein mannetjie net gryp en vasdruk. Dit was een van die alleenweesste prentjies wat ek nog gesien het.
Moes dit vandag lees!So ‘n ligte,welverdiende tik oor die kneukels! 🙂
Sal beslis weer hier kom inloer! Dankbaarheid in my hart x
Stem so saam met Marlise – sal ons dan nooit leer nie? Dankie vir wonderlike gedagtes, inspirasie en soms, gelukkig net soms, die allernoodsaaklike tikkies.
Baie dankie Rian!
Dit is nou n lekker steak waaraan mens kan herkou. Dankie vir die kap op die grond waarmee jy vir my en my generasie rigting wys.
Jys n inspirasie!
Ek het Dinsdagaand lekker by Beyers geskinder oor jou wynmaakvaardighede!
d
Dankie, Dieter! Lekker om van jou te hoor. Jy moet kom dat jy die wyn proe wat ons gemaak het! Laat weet dan drink ons ‘n ietsie en vang net weer op.
I am deeply touched by this piece. I was referred by Marlise to this blog and, you know what, if only we all could remember this simple yet true message. Thank you for sharing your thoughts with us – a timely reminder about paying attention to that which is valuable rather than that which has a value!
Regards
Jaidev
Thank’s Jaidev! Appreciate your kind words. Thank’s for visiting P&J. Hope to see you back. Mooi loop!
Sjoe, sit met trane in my oë!!! Ek ken die man van wie jy hier praat! Die einste man het diep spore in ‘n baie kort rukkie in ons lewens getrap! My eie seuntjie het ook een keer ‘n week ‘n draai saam hom gaan maak in die winkelsentrum en agter die tik tik aangeloop …
Sy “uitstappie” een keer ‘n week was ook altyd gevul met reuke!! ‘n Groot bederf vir hom was die vinnige inloer in Stuttafords om al die tannies te gaan groet en te ruik watter geure parfuum die lekkerste ruik. “Mamma, kan jy ruik hoe lekker ek ruik”. Dan weet ek, dit was weer OM, hoogtepunt van sy week om agter die tik tik aan te stap … ‘n bekende geluid …
Dankie, Annelize. Jy weet meer hiervan as ek. Dankie vir die lees van P&J. Mooi loop!
More Rian, hier gaan dit woes,kinders wil skole afbrand en ouers sluit hekke!Nie eers hofsake kan blykbaar help nie.Tog gaan dit by ons skool goed en ons kan of behoort nie te kla nie.Voel vanoggend skaam, het my oor’n nietigheid vererg.Dankie vir die ”reality check”.
Hier is Sean Willard se kontak besonderhede: http://www.smswillard.com
Groete
Dankie, Chris!