Tag Archives | Vroue wynmaker van die jaar

Debbie Thompson: Nie bang om voor te stap nie!

 

Saam met Debbie op Simonsig

Boesmanland vat my hand …

Hoe gebeur dit dat ‘n meisie van Springbok as Suid-Afrika se vrouewynmaker van die jaar aangewys word?

Wyn is mos amper, net soos Engels, ’n vreemde besigheid daar tussen die gousblomme en amperse woestyn! Brits word net in ekstreme omstandighede, soos vir selfsverdediging, gepraat en wyn net by die nagmaal gebruik.

Maar soos met baie goed in Namakwaland, moet jy nie dat dit wat jy sien jou mislei nie. Wat vir jou soos sand lyk, is eintlik ’n swanger blomtuin en die matriekmeisie van die Hoërskool Namakwaland is een van Suid-Afrika se toekomstige wynmaaksterre.

Debbie Thompson (Burden) is ’n gebore en getoë Namakwalander. Nie so duidelik waarneembaar as jy na haar uitspraak luister nie, maar as jy tog mooi oplet, kan jy die Namakwalandse oorronding optel.

Sy het as kind op Oranjemund gebly en later op Springbok groot geword. Gematrikuleer aan die plaaslike hoërskool en deelgeneem aan netbal en alle ander aktiwiteite denkbaar gedoen.

Haar aanvanklike gedagte was om ’n veearts te word, maar omdat die keuring streng en die toelating min was, besluit sy om eers net vir B.Sc. by Universiteit Stellenbosch in te skryf.  Dalk sal sy na haar eerste jaar aansoek doen vir Veeartsenykunde in Pretoria.

 Gelukkig vir wyndrinkers reg oor die wêreld, en ongelukkig vir die diere, byt die wyngogga Debbie gedurende haar eerste maande op Stellenbosch. Na verskeie wynproeë verander sy haar kursus na B.Sc.Agric. met spesialisering in Wynkunde.

Sy voltooi die finale praktiese komponent van haar kursus op Hazendal onder toesig van Ronell Widd en word gedurende hierdie tyd vir ’n onderhoud op Simonsig Landgoed genooi.  En later vir ’n tweede onderhoud. En Johan Malan sien raak dat hierdie student van Springbok die eerste vrouewynmaker van Simonsig kan word. Die res is geskiedenis.

 Debbie vorm vandag, as rooiwynmaker, saam met Johan Malan as keldermeester en Hannes Meyer as witwynmaker Simonsig se formidabele span.

Volgens Debbie was haar eerste pars op Simonsig vir haar die ergste. Sy was ’n totale groentjie en boonop ’n vrou in ’n manswêreld. Sy was nie net in beheer van die pars nie, maar moes ook leiding gee en vir die ou hande wys dat sy voor kan stap.

Sy sê sy het baie gestres en baie gehuil. Maar met harde werk en tipiese Namakwalandse vasbyt, het sy die eerste toets geslaag.

Sedert daardie eerste pars het Debbie baie toekennings en eerbewyse ontvang. Tussen al die Veritas Dubbelgoud en die ABSA Top Tien-toekennings bly die aanwysing as Vrouewynmaker van die Jaar in 2005 vir haar die kosbaarste. Sy skryf haar toekennings toe aan harde werk, maar ook aan goeie spanwerk. Prestasies behaal jy nie op jou eie nie en sy praat met groot trots en deernis van die manne saam met haar in die kelder.

Sy is intussen getroud met, soos sy sê ’n Engelsman, Simon Thompson (ook in die wynbedryf) en is die ma van een. Die tweede gaan sy/haar opwagting tydens volgende jaar se pars maak.

Om Debbie beter te leer ken het ek haar die volgende vrae gevra:

Waarom het jy ’n wynmaker geword?

Wynmaak is ’n proses waarin jy jou kreatiwiteit kan uitleef en ook jou persoonlike stempel kan afdruk. Dit kombineer die praktyk en teorie vir my. En ek kry die kans om soms buite te werk!

• Wat is die beste wyn wat jy ooit gemaak het?

Simonsig Redhill Pinotage 2003

 • Wat is die beste wyn wat jy gedrink het?

Châteauneuf du Pape 1995

As jy nie ’n wynmaker geword het nie, wat dan anders?

Veearts of dalk wildbewaarder.

• Wat is onafgehandel op jou bucket list?

Baie oorsese reise. Veral na Toskane in Italië.  Die fliek Under the Tuscan Sun is een van my gunstelinge en dan Mauritius. Die laaste een moet saam met die hele familie en al die kinders wees.

• Troeteldier(e)

Honde. ’n Boerboel en Jack Russel.

Gewildste TV-program

Brothers and Sisters en mag ek sê … 7e Laan!

• Watter liedjie sing jy in die kelder/stort/kar?

AC/DC – You shook me all night long. Dit was die instapliedjie op ons troue.

• Jou lewensmotto?

Aanhouer wen!

Wat dink jy van bokswyn?

Daar is beslis ‘n plek vir bokswyn;  so lank die mense net wyn drink! Ek is baie gekant teen die snobisme wat met wyn gepaard kan gaan. Ons kan te ernstig raak oor wyn.

Watter wyn drink jy as jy nie jou eie drink nie?

Oldenburg Vineyards se Cabernet Sauvignon of Cabernet Franc.

• In watter kultivar het Jesus die water by die troue in die Nuwe Testament verander?

Pinot Noir. Dit is ’n moeilike kultivar om goeie wyn van te maak.

• Tent of Hotel?

Hotel

• Hoe ontspan jy?

Draf. Ek draf elke dag in my etensuur so 5 kilometer. Dit maak my kop oop en ek kom buite.

In die proeglas: Simonsig Redhill Pinotage 2009

Analysis: Provided by Simonsig

Alcohol: 15% vol

Residual Sugar: 2.1 g/l

Total Acidity: 6.05 g/l

Ph: 3.34

Style: Full bodied wood matured Pinotage from a specific vineyard site.

Wine Description: Dense opaque colour. A tapestry of dark luscious fruit. Effortless expression of intense notes of plum and mulberry. A thread of cinnamon spice and vanilla pod adds dimension to this tapestry. Tightly knitted yet smooth tannins sculpture a lingering palate of fruit filled delicacies.

Wood Maturation: 17 months oaking.

Serving Suggestions: Cape Malay bobotie, seared tuna, slow roasted belly of pork, oven roasted rack of lamb, crispy duck salad with hazelnut praline.

www.simonsig.co.za

021 888 4932

 

The real Antichrist is he who turns the wine of an original idea into the water of mediocrity. – Eric Hoffer

Life is too short, and I’m Italian. I’d much rather eat pasta and drink wine than be a size 0. – Sophia Bush

Always carry a corkscrew and the wine shall provide itself. – Basil Bunting

   
 
 

Simonsig Landgoed se imposante ingang

 

Restaurant en proelokaal

 

Daar is beslis genoeg wyn!

 

Studie in nuwehout

Simonsig laat die Kaap vonkel!

 

  

  

   

  

  

Continue Reading