Tag Archives | Vaardigheid

Luister lekker!

Ek lees nou die dag op ’n plek dat die meeste leiers met hulle monde oop sterf.

Ja, met hulle monde oop, want hulle is gedurig aan die praat. Besig om mense te vertel hoe om dít of dát te doen of om raad te gee, want leiers moet mos altyd die antwoorde hê.

Dit het my laat wonder oor hoe goed ek luister? Wanneer laas het ek meer gekonsentreer op wat die ander persoon sê as wat my antwoord gaan wees?

Suksesvolle leiers, en dit sluit ouers in, is goeie luisteraars. En natuurlik goeie sprekers, maar jy kan net regtig in mense belangstel en vir hulle omgee as jy na hulle luister.  En laat ek dadelik bysê: met volle oorgawe na hulle luister!

Dit is hier waar die meeste van ons se voorneme om te luister in die hek duik. Al is ons mond dalk toe, is ons brein op ’n ander plek. Ons dros eintlik so ’n bietjie uit die gesprek en terwyl die persoon voort babbel, dink ons aan ander dinge.

Hopelik sal ons, as sy stilbly, net instemmend kan knik of ’n ekspressiewe geluid kan uiter om valslik te wys dat ons met die gesprek bygebly het.

Ongelukkig is stilbly nie luister nie. Om regtig intensief na iemand anders te luister, beteken dat die persoon na wie jy luister, die middelpunt van jou totale belangstelling word. Al jou sintuie is gefokus op wat die persoon sê en ook nie sê nie. Baie keer hoor jy meer uit die persoon se liggaamstaal, gesigsuitdrukkings en uit dit wat die persoon nie sê nie, as die woorde.

Om na iemand te luister, sê dat jy respek vir hom of haar het. Al is jy die meerdere. Uit respek ontwikkel daar vertroue wat hopelik tot groter verdraagsaamheid en tot minder konflik sal lei.

As ons meer luister, gaan ons beslis ook meer weet.  Meer weet van die wêreld waarin ons leef en van die mense wat dié aarde saam met ons bewandel.

Jy gaan agterkom hoe effektiewer jy luister, hoe rustiger en kalmer gaan jy word. Nie omdat dit makliker is om te luister nie. Inteendeel; luister verg baie meer inspanning en vaardigheid as praat! Maar omdat jy fokus en daarom alle ander bollie uit jou kop en lewe skuif.

As ons meer luister as praat, sal ons ook dalk minder spyt wees oor goed wat ons nie moes gesê het nie.

Onthou die wyse raad: ’n Toe bek is ’n heel bek!

 

No man ever listened himself out of a job. – Calvin Coolidge

The first duty of love is to listen. – Paul Tillich

The greatest gift you can give another is the purity of your attention. – Richard Moss

Image: David Castillo Dominici/FreeDigitalPhotos.net

 

Continue Reading