Wat is dit met ons rolmodelle dat hulle so sukkel om staande te bly?
Raak al die aandag en geld net te veel? Maak al die bewondering en gedurige in die kollig wees dat hulle onaantasbaar en verhewe bo die gewone en alledaagse begin voel?
Eers is dit Hansie wat aan ’n duur Indiese samoesa verstik. Toe Tiger wat oor sy gholfstok struikel en daarna vriend Lance wat hom uit sy fiets uit verneuk. En nou is dit onse Oscar wat dink hy is die enigste sheriff in Pretoria.
Paddy Upton (prestasiebestuurder van die Proteas) meen dat mense geneig is om kampioene spesiaal te behandel. Maar hy waarsku ook dat 80% van bergklimmers wat die hoogste piek bereik, hulle nadat hulle die kruin bereik het, doodval. Dieselfde gevaar staar kampioene wat op die kruin van die golf ry, volgens hom, in die gesig.
Behalwe die naar kol op my maag oor my rolmodelle se doen en late, maak hulle eskapades dat ek al my aanbiedings oor rolmodelle moet gaan oordoen. Ek kan hulle nie meer op die rolmodeltroontjie sit en aan mense as die voorbeeld van waarna ons moet strewe, voorhou nie.
Of miskien kan ek nou juis, want dit is dalk ons wat vergeet dat hierdie rolmodeltroontjie nie uit klip gekap is nie, maar uit klei. Net soos die klei waarin ons met ons eie ou voetjies staan.
Al weet ons baie goed dat mense feilbare wesens is, plaas ons hierdie kampioene, helde en celebs tog te graag op die troontjie. En as hulle daar affoeter, is ons geskok. Ons gryp na ons harte en snak na ons asem en wonder hoekom. Hoe kon hulle? Meer nog; hoe durf hulle!
Die Bybel waarsku ons tog al vir eeue: Vertrou nie op prinse, mensekind, by wie geen heil is nie (Ps. 146:3). Maar steeds luister ons nie!
Ons gaan voort om mense te verafgod omdat hulle ’n bal kan skop of ’n noot kan sing. Of ’n filmster omdat sy woorde kan opsê wat iemand anders vir haar geskryf het. Self het hulle niks meer as ek en jy bereik nie. Meer in die kollig en meer geld ja, maar niks minder voete van klein as ons nie.
Ek is oortuig, nou meer as ooit, dat dit tyd geword het dat ons na die ware helde in die wêreld gaan soek. Gewone mense wat elke dag hulle bes probeer om hulle werk so goed as moontlik te doen en onder die moeilikste omstandighede vir hulle kinders kos op die tafel sit.
Daardie skoonmaker op die skoolgronde wat nie die voorreg gehad het om teologie op Potch te gaan swot nie, maar wat Saterdag na Saterdag in die derdeklaswa vir die dronkes en eensames op pad na nêrens preek.
Die vrou wat nooit geleer het om ’n musiekinstrument te bespeel nie, maar elke week die siekes in Worcester se hospitaal begelei en voorgaan in die sing van lofliedere.
Die bode en sy vrou in Heideveld wat nou al tien kinders in hul huis het. Net twee hul eie. Die res wees- en hawelose kinders van die gemeenskap. En elke keer as daar nog een aankom, kry hulle nog ’n gaatjie waar hy/sy kan slaap!
Hierdie is ons ware helde! Hulle dra nie make-up of verdien miljoene in borgskappe nie. Van hulle kan nie eens ’n bal slaan of skop nie. Sommige van hulle sing erg vals en party is nie eens mooi om na te kyk nie. Gelukkig weet hulle nie van die kollig nie, want die meeste het nie eens elektrisiteit nie!
Terwyl ons helde met vervelige reëlmaat om ons val, is dit dalk nou die tyd dat ek en jy weer ons supermanonderbroek aantrek en die rolmodelle word wat van ons verwag word. Moenie skrik nie! Jy hoef nie die wêreld oor heldedade te gaan verrig nie.
Net daar waar jy moet. In jou gesin, by die werk en tussen jou vriende.
Dit is nou tyd dat ons land se kinders weer soos hulle ouers wil wees. My pa is die sterkste en my ma die mooiste …
Al is hulle voete is van klei. Hulle gly en val, maar staan elke keer weer op.
Maar op die wêreld se prinse vertrou hulle nie.
A hero is a man who does what he can. – Romain Rolland
A hero is someone who understands the responsibility that comes with his freedom. – Bob Dylan
A hero is not braver than an ordinary man, but he is brave five minutes longer. – Ralph Waldo Emerson
Image: siraphat/FreeDigitalPhotos.net