Tag Archives | Siel

Die Here sal jou seën, Meneer.

My bakkie staan nou die oggend in die oprit, want ek moes weer uit om iets te gaan haal.

’n Fout, want lyk my ’n voertuig in die oprit is ’n ope uitnodiging vir almal wat verby loop om die deurklokkie te kom lui.

Eers die fietspatrollieman wat rekenaaronderdele vir sy kind soek.

Net my sit agter die rekenaar gekry, toe lui die voordeurklokkie weer!

Ek is skielik vies vir my wat die bakkie buite gelos het en vir almal wat die klokkie lui.

Seker weer iemand wat iets kom bedel!

Met ’n beswaarde gemoed ruk ek die deur oop en daar staan sy. Middeljarig en netjies.

Het meneer nie iets vir…

En voor sy die bekende rympie kan voltooi, vertel ek haar dat tussen haar en die vorige hulpbehoewendes, die kerk en die belastinggaarder is ek een van die mooi dae saam met haar besig om voordeurklokkies te lui.

Want sien, speel ek my troefkaart, net gister het ek vir meer as vyf uur by die Departement van Arbeid gaan toustaan om my werkloosheidversekering te gaan kollekteer.

Eintlik soek sy hulp by die verkeerde mense, want ek is ook hulpbehoewend. Dink sy, ons wat hier bly, is ryk en daarom kom soek sy hier hulp?

Meneer, dis nie eintlik wat ek gemeen het nie. Ek was ’n seamster wat met die overlocker gewerk het en verlede Desember het die baas ons net so gelos en verdwyn.

Nou bly ek by die inlaws in die agterplaas.  Toe ek gewerk het, het hulle graag die groceries by my gevat.  Nou eet hulle voor die kinders!

Het meneer nie dalk net ’n glas yswater vir my nie? En ek wonder wat is dit met mense wat bedel en yswater? Is koue water nie goed genoeg nie?

Terug kombuis toe om die water te gaan haal, moet ek by my beursie verby en dié praat met my. Amper soos die advertensie op TV.

Ek haal ’n groen noot en ’n paar muntstukke uit en neem dit saam met die yswater deur toe.

Wat is jou naam? vra ek.

Lillian, meneer.  Dankie meneer, en haar oë skiet vol trane toe sy die geld en water vat.  Ek het nog nooit die soort ding gedoen nie. Dankie meneer, die Here sal meneer seën.

Terug by my lessenaar kry ek nie my sit nie, want Lillian se oë kyk te diep in my siel.

Ek staan op en vat die groot noot uit my beursie en gaan soek na Lillian in die straat.

Twee huise verder af sien ek haar. Sy stap stadig.

Lillian, roep ek haar en stap tot by haar.

Ek het jou geld gegee, sê ek.  Ek wil dit terug hê.

Lillian se oë rek, maar sy grawe in die sak en haal die geld uit en gee dit vir my.

Ek het nou só groot geskrik! Het ek iets verkeerd gedoen?

Nee, wil ek sê, dis nie jy wat iets verkeerd gedoen het nie, dis eintlik ek.

Nee, Lillian. Daar is nie fout nie.  Ek wil net die geld wat ek vir jou gegee het, met dié omruil.

En toe breek die damme agter Lillian en my oë en spoel twee vreemdelinge vir ’n oomblik saam op die eiland van menswees uit .

Meneer, ek gaan nou dadelik huis toe. Die Here sal jou seën, meneer!

Dankie, Lillian. Dis eintlik nie nodig nie, wil ek sê.

Want ek het net vanoggend weer besef dat die Here het my al lankal geseën het!

 

Grace is not part of consciousness; it is the amount of light in our souls, not knowledge or reason. – Pope Francis

I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us. – Anne Lamott

I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And I will not let what I cannot do interfere with what I can do. And by the grace of God. I will. – Edward Everett Hale

 

 

 

 

 

Continue Reading

Balanseer jou siel

 

John Ortberg en Philip Yancey is skrywers wat my ’n dieper insig in die Bybel en die lewe gee.

Soms wil ek so ver gaan om te sê dat ek in hulle boeke meer stof tot nadenke kry, as sommige Sondae in die kerk!

Ook nou weer so met John se nuwe boek, Soul Keeping: Caring for the most important part of you.

Die boek het my met ’n skok laat besef dat ek my siel amper 61 jaar tweede viool laat speel het! Terwyl ek my worrie oor my al groter wordende omtrek,  het ek bitter min sleg geslaap oor my siel.

Dat ek ’n siel het, daarvan is ek deeglik bewus, want oorkoepelend is die siel tog in alle godsdienstige praktyke teenwoordig. Ons sing daarvan, ons lees daarvan in die Bybel en as ’n skip vergaan, praat ons van die aantal siele wat omgekom het.

In Soul Keeping vertel John van die Barna Research Group wat ’n nasionale aanlynmeningspeiling in die VSA geloods het om vas te stel wat mense ten opsigte van sonde as hulle topversoekings ervaar.

Alweer sonde! hoor ek jou sug.

Sterk wees. Hierdie is nie nog ’n preek oor wat jy nie mág of móét doen nie. Onthou net, sonde en jou siel is nie maatjies nie!

Terug by die meningspeiling. Topversoekings? Natuurlik dink ons dadelik aan die sondes wat ander doen. Veral in Suid-Afrika sal woorde soos korrupsie, geweld, misdaad, jaloesie, pornografie en rassisme by die meeste mense opkom.

Wat egter interessant was, was dat die nommer een versoeking wat die anonieme deelnemers gelys het, iets was wat hulle nie in die tronk sou laat beland nie! Jy kan dit jou hele lewe lank doen en niemand sal dit eens weet nie.

Nommer een op die lys was, bekommernis.

Of anders gestel, worrie.

Ja, dit is daardie ding wat ons laat wakker lê in die nag. Wat maak dat ons maagswere, siektes en peste ontwikkel van al die dink daaraan. Dit is daardie ding waarvan ons sing if you worry you die, so why worry maar niks toepas van wat ons sing nie!

Hoeveel ure al deur worrie gemors is, is seker onberekenbaar. En ons weet uit ondervinding dat die meeste van dit waaroor ons ons bekommer, nooit waar word nie. Maar steeds hou ons aan met worrie.

Nou hoe kom ons daarby dat bekommernis sonde is, wil jy weet.

Jy sien, worrie word ‘n gewoonte. ’n Gewoonte wat sê dat ek God nie genoeg vertrou nie.

’n Slegte en sondige gewoonte, want ons navigeer ons lewens met die gewoontes wat ons vorm en ontwikkel. Goeie gewoontes maak ons vry en maak dat ons goeie dinge kan doen en sê. Sondige gewoontes perk my en my siel in en verhoed dat ek die goeie doen waarvan Paulus praat, want ek is te besig om te worrie.

Genoeg oor bekommernis. Jy wonder seker wat in die tweede plek was?

Tweede was uitstel. En dan het te veel eet, sosiale media en luiheid gevolg.

Gaan lees gerus Soul Keeping as jy jou lewe en die ewigheid in balans wil bring.

 

Food for the body is not enough. There must be food for the soul. – Dorothy Day

Prayer is not asking. It is a longing of the soul. Mahatma Gandhi

For truly we are all angels temporarily hiding as humans.Brian L. Weiss

 

Continue Reading