Tag Archives | Seën

Die Here sal jou seën, Meneer.

My bakkie staan nou die oggend in die oprit, want ek moes weer uit om iets te gaan haal.

’n Fout, want lyk my ’n voertuig in die oprit is ’n ope uitnodiging vir almal wat verby loop om die deurklokkie te kom lui.

Eers die fietspatrollieman wat rekenaaronderdele vir sy kind soek.

Net my sit agter die rekenaar gekry, toe lui die voordeurklokkie weer!

Ek is skielik vies vir my wat die bakkie buite gelos het en vir almal wat die klokkie lui.

Seker weer iemand wat iets kom bedel!

Met ’n beswaarde gemoed ruk ek die deur oop en daar staan sy. Middeljarig en netjies.

Het meneer nie iets vir…

En voor sy die bekende rympie kan voltooi, vertel ek haar dat tussen haar en die vorige hulpbehoewendes, die kerk en die belastinggaarder is ek een van die mooi dae saam met haar besig om voordeurklokkies te lui.

Want sien, speel ek my troefkaart, net gister het ek vir meer as vyf uur by die Departement van Arbeid gaan toustaan om my werkloosheidversekering te gaan kollekteer.

Eintlik soek sy hulp by die verkeerde mense, want ek is ook hulpbehoewend. Dink sy, ons wat hier bly, is ryk en daarom kom soek sy hier hulp?

Meneer, dis nie eintlik wat ek gemeen het nie. Ek was ’n seamster wat met die overlocker gewerk het en verlede Desember het die baas ons net so gelos en verdwyn.

Nou bly ek by die inlaws in die agterplaas.  Toe ek gewerk het, het hulle graag die groceries by my gevat.  Nou eet hulle voor die kinders!

Het meneer nie dalk net ’n glas yswater vir my nie? En ek wonder wat is dit met mense wat bedel en yswater? Is koue water nie goed genoeg nie?

Terug kombuis toe om die water te gaan haal, moet ek by my beursie verby en dié praat met my. Amper soos die advertensie op TV.

Ek haal ’n groen noot en ’n paar muntstukke uit en neem dit saam met die yswater deur toe.

Wat is jou naam? vra ek.

Lillian, meneer.  Dankie meneer, en haar oë skiet vol trane toe sy die geld en water vat.  Ek het nog nooit die soort ding gedoen nie. Dankie meneer, die Here sal meneer seën.

Terug by my lessenaar kry ek nie my sit nie, want Lillian se oë kyk te diep in my siel.

Ek staan op en vat die groot noot uit my beursie en gaan soek na Lillian in die straat.

Twee huise verder af sien ek haar. Sy stap stadig.

Lillian, roep ek haar en stap tot by haar.

Ek het jou geld gegee, sê ek.  Ek wil dit terug hê.

Lillian se oë rek, maar sy grawe in die sak en haal die geld uit en gee dit vir my.

Ek het nou só groot geskrik! Het ek iets verkeerd gedoen?

Nee, wil ek sê, dis nie jy wat iets verkeerd gedoen het nie, dis eintlik ek.

Nee, Lillian. Daar is nie fout nie.  Ek wil net die geld wat ek vir jou gegee het, met dié omruil.

En toe breek die damme agter Lillian en my oë en spoel twee vreemdelinge vir ’n oomblik saam op die eiland van menswees uit .

Meneer, ek gaan nou dadelik huis toe. Die Here sal jou seën, meneer!

Dankie, Lillian. Dis eintlik nie nodig nie, wil ek sê.

Want ek het net vanoggend weer besef dat die Here het my al lankal geseën het!

 

Grace is not part of consciousness; it is the amount of light in our souls, not knowledge or reason. – Pope Francis

I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us. – Anne Lamott

I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And I will not let what I cannot do interfere with what I can do. And by the grace of God. I will. – Edward Everett Hale

 

 

 

 

 

Continue Reading

Strome van seën.

God have blessed you with grandchildren. You are só blessed, is die gevleuelde woorde van my nuutgevonde Zim-nutsman, Francis.

You are só blessed…

Hierdie so blessed het my opnuut laat wonder waarom ek nie ook altyd dié seën wat Francis so maklik raaksien, kan sien nie.

Is dit dalk omdat ek tot by my kroontjie in dié seën staan dat ek dit nie meer kan sien vir wat dit is nie?

Francis was opgewonde oor die weggooibekers wat hy huis toe kon neem. Baie opgewonde.

Amper té opgewonde, want die bekers was reeds vir die weggooidrom bestem!

Maar miskien is die feit dat ek reeds so baie het, die oogklappe wat verhoed dat ek soos Francis kan sien.

Selfs as dit lewensgroot voor my staan!

Lyk my hoe minder jy het, hoe makliker sien jy die seën in dinge raak.

’n Totale gawe uit die hand van God.

’n Gawe wat ek nie kan verdien nie, maar tog so oorvloedig ontvang.

En skielik is ek weer klein en die gemeente sing uit volle bors:

Strome van seën van bowe,

Dit het die liefde beloof;

Heerlike tyd van verkwikking

Vloei uit ons Heiland en Hoof…

 

 

One of the main reasons that we lose our enthusiasm for life is because we become ungrateful… we let what was once a miracle become common to us. We get so accustomed to His goodness it becomes a routine. – Joel Osteen

Blessings are oftentimes not valued till they are gone. – Thomas Fuller

When you are grateful – when you can see what you have – you unlock blessings to flow in your life. – Suze Orman

Continue Reading