Tag Archives | Sandkasteel

SA Sport soos ‘n Sandkasteel!

En daar gebeur dit weer!

Ek bou weer ‘n keer my hoop op ‘n groen-en-goue sandkasteel! Weer bars my bubble soos ‘n oorwerkte Chappies in ‘n senuweeagtige openingskolwer se kake.

Ons Springbokke speel soos slaapwandelaars teen ‘n opponent wat nie eens in dieselfde asem as ons genoem behoort te word nie. Maar Heyneke hou voet by stuk die saak is nie so swak soos dit lyk nie. Ons span is nog jonk en hulle moet leer…

Ek verstaan hom nie mooi nie. Is rugby dan nie ‘n spel vir jongmanne nie? Ek sou sy verweer verstaan as die manne almal in hul veertigs was, maar te jonk? Miskien bedoel hy in ondervinding te jonk? Maar dit klop ook nie met die statistiek wat Naas en irriterende Ashwin op hul flatscreen wys nie.

Ek dink eerder daar waar Meyer se kop in die sand gedruk is, kan hy nie mooi die modder van die sandkorrels onderskei nie. Of miskien probeer hy vir Peter Div napraat, maar dit gaan hy nie sommer regkry nie! Peter kon ten minste praat!

Ons jongmanne – die 0.20’s – maak skande in Frankryk. Trek weg teen ‘n power VSA en almal dink die wêreldkampioene gaan hierdie jaar amok maak. Rom rom rom! Maar helaas. Weer vee die eerste beste ou brandertjie ons sandkasteel se fondasie onder hom uit. Nóg ‘n span chokers en ek huil saggies in my groen trui.

En dan die cherrie op die koek. Ons ware chokers, die Proteas kry dit weer reg om te wys hoe swak Suid-Afrikaanse sport nou regtig is. Hoeveel keer het ek nie gesê dat ek nou klaar is met hulle nie? En elke keer dwing my patriotisme en hoop my terug om nóg ‘n keer te kyk. Nóg ‘n keer te hoop. En om nóg ‘n keer met my hoop in flarde in my hande te sit.

Nóú is ek klaar.

Maar vir wie moet ek nou ondersteun? Die Bafana Bafana? Ons netbal of hokkie? Ek weet nie so mooi nie.

Maar miskien begin die nate al in ons skoolsport lostorring. Veral as ‘n pa ‘n skool vir R2 miljoen wil dagvaar omdat hulle nie sy seun as hul skool se eerste krieketspan se kaptein wil kies nie! En dan is die skool sommer ook nog rassiste op die koop toe. Verregaande, maar wat verwag jy as ons Minister van Nasionale Onderwys glo 30% is goed genoeg? As drie uit tien ‘n slaagsyfer is, dan is verloor seker nie te vrot nie!

O, ja. Amper vergeet ek van ons Minister van Sport. Fikile Mbalula wil miljoene spandeer om ‘n Oscaraand vir ons sportmanne en –vroue te hou. Ek wil weet vir wát en vir wie? Wie van hulle verdien meer as koue water en die sout van ‘n nasie se trane?

Of het dit iets met ons nasionale embleem te make? Verbeel ek my of verlep ‘n protea net makliker as wat ‘n springbok kan pronk?

Maar wie weet? Eendag wen ons vir Switzerland in kaasmaak.

Of gaan my hoop my hier ook beskaam?

Losers make promises they often break. Winners make commitments they always keep. – Dennis Waitley

Boom, crush. Night, losers. Winning, duh. – Charlie Sheen

We must accept finite disappointment, but never lose infinite hope. – Martin Luther King JR.

Continue Reading