Tag Archives | Roeping

Raad vir die Minister van Onderwys

Van waar nou weer Gehasi? Of moet ek liewer sê ge-Angie?

Vingerafdrukke vir onderwysers. Bid jou aan!

Seker ook iets wat ons apartheid voor kan blameer, want behalwe vir die dompas is almal voor die voet, bedoel vinger, geafdruk.

Kan ook nie help om in my gedagtes oom PW met sy formidabele vinger te sien nie.

’n Oplossing vir die land se onderwysprobleme? Helaas nie. Net nog ’n foefie om die ware seerplekke mee te verdoesel.

Kom ek help die agbare Minister van Onderwys met hierdie ene:

1. Dit gaan nie help om  miljoene (R480 miljoen as ek reg is) op elektroniese skandeerstelsels te mors om te bepaal wie kom werk en wie nie kom werk nie. Veral as jy nie ’n werkbare siteem het vir as jy uitvind wie nie werk nie.  Dit is soos ’n hond wat kan blaf, maar nie byt nie. En van hierdie keffers is daar genoeg in die staatsbestel.

As u met die nuwe sisteem bepaal het wie nie kom werk nie, wat dan? U weet nou reeds, net so goed soos ek, wie nie werk nie, maar daar word boggerol aan diegene gedoen. Nou hoe gaan hierdie nuwe biometriesevingerafdrukskandeermasjien dié probleem oplos? Wie gaan dit polisieer as daar hierdie week helder oordag ‘n skool in die Weskaap  tot op die fondament afgebreek en weggedra word. En niemand keer of doen iets daaraan nie? Of as miljoene rande se rekenaarsentrums nie eens ingeprop is nie en bokse vol boeke in biblioteke onder die stof staan?

U probleem is dat daar reeds te veel onderwysers by die skool is wat betaal word, maar nie onderrig of opvoed nie. Tegnies gesproke het hulle die vingertoets geslaag. Miskien sal dit help as u masjien nie net inklok nie, maar ook inspuit? Soos jy inklok, spuit die masjien ’n gesonde dosis opgewondenheid en passie in die inklokvinger in. Dit kan werk …

2. Gebruik liewer dié geld om die boeke in Limpopo af te lewer wat nog nie daar is nie. En hou op om te maak of dit wel daar is.

3. Gebruik liewer dié geld om die skole in die Oos-Kaap se onderwysers, wat nie deur die staat betaal word nie, te betaal. Ek praat hier van die onderwysers wat wettig op die skole se diensstaat is,  maar nie deur u provinsiale departement betaal word nie.  En nou moet die ouers daarvoor opdok. Dan wil u  hulle nog verder invinger terwyl hulle nie betaal word nie. Ek dink ek hoor hulle vra: watter vinger verkies u?

4. Bou skole vir daardie toegewyde onderwysers in die platteland wat onder sambrele skool probeer hou. En terwyl u daarmee besig is, sommer ook genoeg toilette en lê sommer krag ook aan.

5. Plant gras op Mitchells Plain se skoolgronde. Geen kind of onderwyser wil skool toe kom as dit soos ’n woestyn lyk nie.

6. Hou op om waar dit nie jeuk nie te krap. Suid-Afrika se onderwysers, die wat elke dag by hul werk is, is professioneel. Hulle het nie ’n sisteem nodig om in te klok vir werk nie. As u my nie glo nie, gaan kyk maar Saterdae op die sportvelde van ons land as hulle nie daar hoef te wees nie.

7. Laaste maar nie die minste nie. Kry tande vir die hond! Fire onderwysers wat nie wil werk nie. U weet wie hulle is.

Onderwys is nie ’n job nie. Onderwys is ’n roeping, agbare minister. Mense wat ’n roeping volg, klok nie met masjiene in of uit nie.

Hulle is 24/7 ingeklok!

How many legs does a dog have if you call the tail a leg? Four. Calling a tail a leg doesn’t make it a leg. – Abraham Lincoln

Public service must be more than doing a job efficiently and honestly. It must be a complete dedication to the people and the nation. – Margaret Chase Smith

Teachers are out there with a very difficult job, which they pursue with tireless dedication. – Chi McBride

Image: digitalart/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Lig in die Onderwystonnel?

‘n Onderwyser vra my nou die dag of ek regtig glo dat daar lig in die onderwystonnel is? Of sê ek sommer net so om hulle beter te laat voel?

Sy sê sy byt nou nie meer aan daardie seesterstorie nie, want daar is net te veel seesterre wat teruggegooi moet word. En boonop is daar net hopeloos te min hande vir die teruggooislag!

Natuurlik glo ek dit!  Ek glo dit met my hele hart en verstand, maar ek is ook nugter genoeg om te weet die lig gaan nie sommer môre al só helder skyn dat ek ’n donkerbril moet dra nie!

Haar vraag het my onwillekeurig aan my goeie vriend Claude Moller se geliefkoosde gesegde, it’s better to light the candle than to curse the darkness, laat dink.

Hoe dan gemaak om die flou liggie helderder te laat brand?

Daar is baie moontlike antwoorde op dié vraag. Baie geesdrif, passie, omgee, regte pedagogiek, visie, missie, tonne geloof en al dié begrippe is van toepassing. Maar as die branders voel of dit net te veel word en die liggie al dowwer skyn, wil ek die volgende voorstel.

Gaan soggens vroeër skool toe. Ja, jy het reg gehoor. Vroeër.

Moenie personeelkamer toe gaan nie. Gaan reguit na jou klas toe. Maak die deur toe en gaan sit in een van die banke voor jou lessenaar. Sit nou eers net ’n tydjie daar.  Staan dan op en gaan sit heel agter waar Mixit Maans en Facebook Francine wegkruip. En dan wonder jy …

Of die volgende Nelson Mandela dalk nie vandag in hierdie bank gaan sit nie? Of dalk die volgende Louis Pasteur? Of die volgende Moeder Theresa? Mahatma Gandhi? Of dalk jou kind of my kleinkind?

Steek dan jou hand uit en verbeel jou jy raak aan die volgende Nelson Mandela.

Wow! Jy is bevoorreg! Jy raak aan die toekoms!

Nie die tandarts, dominee, burgemeester, of self president JZ, kan dieselfde sê  nie. Net jy!

‘n Laaste oefeninkie voor jy personeelkamer toe gaan: Klim bo-op een van die banke (moenie bang wees dat iemand jou sien nie) en kry die groter prentjie van waarmee jy besig is. Staan stil. Moenie vroetel of selfbewus wees nie. Maak toe jou oë en vergeet ’n slag van al die assessering en ander departementele rompslomp. Jy is hier vir ’n groter taak as net dít.

Jy is nie hier vir ’n job nie, jy het ’n roeping. Jy is by die naam geroep om ’n onderwyser te wees. Die Here wil jou daar waar jy nou is gebruik. Jy hoef nie weg te foeter na ’n sendingveld wie weet waar nie. Hierdie is jou sendingveld. Moenie een oomblik aan die belangrikheid van jou werk twyfel nie. Moenie dat moangatte, slapgatte en natbroeke jou vlammetjie blus nie.

Onthou die volgende woorde van Marianne Williamson: Our deepest fear is not that we are inadequate. Our deepest fear is that we are powerful beyond measure. It is our light, not our darkness that most frightens us. We ask ourselves, who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous? Actually, who are you not to be? You are a child of God. Your playing small does not serve the world. There is nothing enlightened about shrinking so that other people won’t feel insecure around you. We are all meant to shine, as children do. We were born to make manifest the glory of God that is within us. It’s not just in some of us; it’s in everyone. And as we let our own light shine, we unconsciously give other people permission to do the same. As we are liberated from our own fear, our presence automatically liberates others.

Ja, jy gaan moeg en geirriteerd raak.  Jy gaan soms twyfel.  Jy gaan dink jy word nie genoeg betaal nie, maar onthou altyd net dit: as jy eendag in die hemel kom (onderwysers gaan volgens my soontoe, want hulle hel was op aarde J) gaan die grootste onderwyser van alle tye vir jou wag en Sy hand na jou uitsteek en sê:

O Captain! My Captain!

OK.  Klim van die bank af. Jy is nou gereed!

Sit jou donkerbril op en gaan personeelkamer toe.

En as mense jou vra wat is dit dan  nou met dié bril, dan klap jy hulle met Oprah W: die toekoms skyn so helder dat ek ’n donkerbril móét dra!

Carpe diem!

I touch the future. I teach – Christa McAuliffe

Teachers can change lives with just the right mix of chalk and challenges. – Joyce A. Myers

A teacher affects eternity he can never tell, where his influence stops. – Henry B. Adams

Foto: adamr/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading