Tag Archives | Overpromise

Is ‘n matrieksertifikaat nog die papier werd?

As ek na die 7-uur nuus kyk, verstaan ek nogal waarom mense dink Suid-Afrika is besig om op die spreekwoordelike piesangskil te gly.

Veral as jy verlede week gesien het hoe die 2012-matrieks hoopvol toustaan om by ‘n tersiêre inrigting te registreer.

‘n Man met ‘n megafoon skreeu dat hulle seker moet wees hulle is in die regte ry. Watter ry? Daar is dan net een! En boonop ’n baie lang een!

Die woordvoerder van die instelling vertel met trots van die online registrasieproses wat kwansuis so goed werk. Lyk nie so nie, want waarom dan die lang ry? Miskien omdat onlineregistrasie ‘n rekenaar en internettoegang benodig, dommie! En goeie voorligting by die skole van wat om wanneer te doen.

‘n Matrikulant met sterre in haar oë sê sy registreer nou eers, want sy was nie seker oor haar points nie.  Maar noudat sy haar points op die sertifikaat gekry het, kan sy enige iets doen.

Enige iets?  Wie lieg so oop oë vir dié kind?

Die leuenaar in hierdie geval is ons onderwyssisteem wat aan kinders ‘n sertifikaat uitreik wat in baie gevalle nie die papier waarop dit gedruk is, werd is nie.

Kras, hoor ek jou sê. Miskien kras vir jou as jy aan goeie onderwys in een van die plus minus 3 000 funksionele skole (of is dit minder?) in Suid-Afrika blootgestel was.

Hopeloos nie moerig genoeg nie, as jy in ‘n skool was waar die onderwysers nie opdaag vir hul klas nie en waar daar slegs een toilet vir die hele skool is. Of as jou klaskamer ‘n plaaslike bende se sitkamer is.

Ons regering belowe aan ons kinders dat hulle enige iets kan doen, sonder om aan hulle die B-kant van hierdie vervelige seven single te verduidelik. Soos met alles, van behuising tot misdaad, overpromise en underdeliver die politici.

Die matrieksertifikaat overpromise deur vir baie punte op papier te druk waarmee niks gedoen kan word nie. Hoe studeer jy ingenieurswese met 49% vir Wiskunde en hoe word jy ‘n vegvlieënier as jy nie eens Wiskunde op jou papier het nie!

Die probleem lê myns insiens in die underdeliver. Die matrieksertifikaat leer nie die toustaners dat …

1. Harde werk nodig is om sukses te behaal nie. Al sê die matrieksertifikaat dat jy universiteit toe kan gaan, beteken dit nog nie dat jy ‘n sukses daarvan gaan maak of toegelaat gaan word nie. Nie as die points op jou sertifikaat so aangepas en ‘n make over gehad het wat enige realiteitsprogram na sy asem sal laat snak nie. Sukses kom net deur jou eie harde werk en nie deur iemand ander se manipulasie van jou pogings nie.

2. Standaarde oor die wêreld nie soos in SA reggetrek word om  leerders met waardigheid die stelsel te kan verlaat nie (Verstommende woorde van die minister van basiese onderwys, Angi Motshekga, rakende die 30%-slaagstandaard). In sommige plekke in die wêreld is ‘n A nog steeds ‘n A.  Nie soos hier waar die swakste onderwysprovinsie in die land skielik die drie top matrikulante optower nie. Dit is nie onmoontlik nie, hoor ek jou sê. Maar tog ietwat onwaarskynlik, moet jy toegee.

3. Realisme behoort in alles te seëvier. Die spreekwoord if you can dream it you can do it is goed en wel, maar moet net nie die werklikheid vergeet nie. Lees daarmee saam ook dat man must know his limitations. Nie almal is universiteitsmateriaal nie. Universiteit is nie die begin en die einde nie; daar is baie ander opsies.

Wanneer gaan ons beleidmakers wakker word en besef dat hulle met die toekoms van hierdie mooi land dobbel?

Wanneer gaan ek weer na ‘n simbool op ‘n matrieksertifikaat kan kyk en nie wonder of dit die ware punte is nie? Selfs die leerders wat kliphard gewerk het, se punte staan as gevolg van die swakheid van dié sisteem onder verdenking. Wat ’n belediging vir alle matrikulante wat hard gewerk het! En daarom hul eerlike en ware punte verdien.

Wanneer gaan die standaard van ons onderwyssisteem so wees dat ons universiteite nie meer ekstra toetse hoef af te neem om die ware akademiese vaardigheid van ons leerders te bepaal nie?

Ek weet nie.

Miskien eers as dit hopeloos te laat is …

Dit maak geen sin om te probeer bewys dat jy in ‘n eksamen met 30%-slaagsyfer kan uitblink nie. – Jonathan Jansen

Die onverskillige selfbedrog van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel gaan tot ekonomiese rampspoed lei. – Leonard van der Dussen

As dit eg is, moet Suid-Afrika ‘n onderwysstelsel hê wat die heel vinnigste in die wêreld verbeter. – Tim Gordon (na aanleiding van die geloofwaardigheid van ‘n slaagsyferverbetering van 13,7 persentasiepunte oor vier jaar.)

Image: africa/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading