Baie dankie aan almal wat gesê het hulle gaan Potato Foundation se Kaalvoetdag ondersteun.
Skoolhoofde het belowe om hulle skole te mobiliseer en self kaalvoet te loop en oumas het laat weet hulle bang nie kaalvoetloop nie.
Veral nie vir ‘n goeie saak nie.
Soos met alle praat kom daar altyd ‘n tyd waar jy moet wys dat jy bedoel wat jy gesê het, want praat is maklik en doen moeilik.
Ek het intussen met die mense by Potato Foundation gepraat en gesê dat dit nie vir elke Piesang & Jellietotter moontlik gaan wees om op 16 April sonder skoene hulle dagtaak aan te durf nie.
Geen probleem nie, want ons het ooreengekom dat jy maar jou skoene kan aanhou as jy net daadwerklik tot die projek gaan bydra.
Hoe maak ‘n mens dan om betrokke te wees?
1. Koop ‘n paar skoolskoene en stuur/gaan gee dit vir hulle daar in Pretoria. Miskien bietjie moeilik vir mense wat nie in Pretoria bly nie?
2. Skenk geld vir ‘n paar skoolskoene. Ons het ooreengekom dat dit so plus minus R150 ‘n paar sal kos. Teen die bedrag kan jy dalk twee paar gee? Of een paar vir elk van jou kinders of kleinkinders.
Ok. Nou weet ons hoe om te maak. Doen nou net een van die volgende as jy opsie twee gaan kies:
- Doen ‘n elektroniese oorbetaling aan Potato Foundation en spesifiseer jou bydrae as: Kaalvoetdag. Hier is hulle bankbesonderhede:
Naam: The Potato Foundation
Bank: Standard Bank
Rekno: 420234616
Takkode: 012 345
- Besoek hulle webtuiste en klik op DONATION bo-aan die blad.
As jy vergeet het waaroor hierdie saak presies gaan of nou vir die eerste keer hiervan hoor, lees gou weer my post Leer omgee deur te voel. Of kliek op Potato Foundation se logo regs op Piesangs & Jellietots.
Ai, ek kan jou nie maak gee nie, maar kyk net weer bietjie om jou rond om te sien hoeveel jy het om voor dankbaar te wees.
Kom ons hou op om te hoop dat dinge gaan verander. Kom kon begin dinge self verander.
Wag ek hoor iets…
Die kinders sê dankie vir die skoene.
O ja! Onthou om jou kaalvoetfoto’s te stuur dat ek van hulle op P&J kan plaas.