Tag Archives | Neethlingshof

De Wet Viljoen: Spoormaker op Neethlingshof

Saam met De Wet in die proelokaal op Neethlingshof.

Neethlingshof is alombekend vir sy kilometer lange ry dennebome wat as ’n baken langs die M12 na Stellenbosch staan.

Nadat jy deur dié imposante woudtonnel tot by die proelokaal gevorder het, het hierdie 300-jarige wynplaas jou teruggevoer na ’n vervloë tyd van koetse, slawe en skepe in Tafelbaai.

Jy begin glo dat ’n man met ’n hardebolkeil en swaelstertpak jou by die deur gaan ontmoet en vra dat jy eers net ’n bietjie moet sit voor lord Neethling jou sal sien. En terwyl jy wag, maak sommer jou perd dáár vas…

Ongelukkig, of gelukkig, is dit nie die geval nie. Neethlingshof se outydse uiterlike, verbloem sy moderne binnekant – ’n reeks wyne en tegnieke wat nie net die pas aangee nie, maar ook kersvashou by die beste wat die wêreld kan bied.

Die man wat hiervoor verantwoordelik is, dra nie ’n keil of swaelstertpak nie! En boonop is sy van nié Neethling nie!

De Wet Viljoen is al van 2003 die wynmaker, en laat ek sê spoormaker, op Neethlingshof.

Hy het in die wynwêreld van die Breëriviervallei grootgeword. Wyn, en alles wat daarmee gepaard gaan, was dus eintlik van kleins af deel van sy DNA en op die familieplaas, Lemoenpoort, was hy deel van die sewende geslag wat dié plaas bewerk en bewoon het.

Sy skoolloopbaan begin op Doringrivier waar hy een van die somtotaal van 12 kinders in die skool was. De Wet glo dit is hier waar hy sy fondasie in die lewe gekry het. Laerskool op Worcester Primêr volg en hy matrikuleer aan Worcester Gimnasium.

Na skool is hy Universiteit Stellenbosch toe, waar hy eers medies wou studeer, maar volgens hom het ’n ene mev Spies, wat die keuring vir medies gedoen het, hom van goeie beroepsvoorligting voorsien deur reguit te sê hy is te dom om medies te studeer!

Hy besluit op B.Sc. en gedurende sy derde jaar drop die spreekwoordelike pennie en hy besef hy stel tóg in Landbou belang. Lang storie kort; aan die einde van sy studies verlaat hy Stellenbosch met ’n B.Sc-graad in Mikrobiologie en een in Wingerdbou en Wynkunde.

De Wet sê hy beskou hom nie eintlik as ’n kranige sportman nie, maar hy het op skool tog probeer om aan so veel moontlik sportsoorte deel te neem.  Selfs atletiek en langafstande – waarin hy laaste gekom het – maar tog die prys vir volharding gekry het.

Dit was egter op universiteit dat die sportgene in die regte volgorde gaan lê het. As inwoner van Huis Visser het die koshuisafrigter hom raakgesien en die uiteinde was dat hy vir Maties se eerste span op stut uitgedraf het.

De Wet is met sy universiteitsliefde en klasmaat, Annelie (nee Schloms), getroud en hulle het drie seuns.

Gedurende 2001 word hy as wynmaker by Wamakervallei Wynmakery op Wellington aangestel en in 2003 op Neethlingshof. Soos die meeste Suid-Afrikaanse wynmakers, het De Wet ook sy vaardighede buite die grense van Suid-Afrika gaan slyp, naamlik twee oeste by La Crema in Kalifornië.

’n Vinnige blik deur die proelokaal op Neethlingshof wys ook dat pryse en toekennings nie ’n vreemde verskynsel vir De Wet is nie. Dubbel Goud by Veritas, internasionale trofeë in London en gereelde Absa Top Tien (Pinotage) is eerder die reël as die uitsondering.

Om die plat op die aarde De Wet nog beter te leer ken, het ek hom die volgende vrae gevra:

  • Waarom het jy ’n wynmaker geword? Deels uit hardkoppigheid, want ek het geglo ek stel glad nie in landbou belang nie. Met ander woorde; ontkenning. As tweede rede sou ek sê omdat ek daarmee grootgeword het. My pa het ons kinders van kleins af daaraan blootgestel.  Ons kon aan tafel saam wyn geniet – natuurlik uit klein glasies! En ek en my broer het die voorreg gehad om saans vir my pa sy drankie te kon skink.  Die wynkonsep was daar en dit was iets van ’n vroeë vereenselwiging daarmee. Derdens weet ek my swaer Eric Saayman (toe van Zevenwacht en nou by Riebeeck Kelders) het baie daarmee te doen. Gedurende naweke het ek met my fiets Zevenwacht toe gery en wonderlike tye saam met hom in die kelder deurgebring.
  • Wat is die beste wyn wat jy ooit gemaak het? Dit was ’n spanpoging, maar dit was Wamakersvallei La Cave 2001 Pinotage.
  • Wat is die beste wyn wat jy nog gedrink het? ‘n Vega – Sicillia 1975 en ‘n Blanco Vin 1907. (Sien foto onder)
  • As jy nie ’n wynmaker geword het nie, wat dan anders? Apteker.
  • Wat is onafgehandel op jou bucket list? Kilimanjaro – maar dit gaan volgende jaar gebeur. En dan so 30 kilogram minder…
  • Enige troeteldier(e)? ’n Jack Russel en ’n gemmerkat.
  • Gewildste TV-program? Under the dome. Enige iets wat nie realisties is nie. Sci Fi.
  • Watter liedjie sing jy in die kelder/stort/kar? U2 se Beautiful day. Ek is ook mal oor Bruce Springsteen en Mike and the Mechanics.
  • Jou lewensmotto? Doen so veel as moontlik terwyl jy kan.
  • Wat dink jy van bokswyn? Ek het geen pyn met John se sussie nie. Dit is ’n gemaklike en gerieflike verpakking, maar die kwaliteit van die wyn móét goed wees. Soos in die Skandinawiese lande waar jy dieselfde wyn in die boks as in die bottel kan kry.
  • Watter wyn drink jy as jy nie jou eie drink nie? Enige wyn wat vir my interessant lyk, maar dit móét lekker wees. Ek soek gedurig na ’n nuwe aroma of neus. Met die kleur is ek nie so veel gepla nie. En dan die kernvraag: Wil ek ’n bottel hiervan opdrink?
  • In watter kultivar het Jesus die water by die troue in die nuwe Testament verander? Muscat.
  • Tent of hotel? Tent
  • Hoe ontspan jy? See, see en weer see! Enige iets wat met die see te doen het. En dan saam met die see: gin en tonic!

In die proeglas:  Neethlingshof Sauvignon Blanc 2014

(Inligting deur Neethlingshof verskaf)

The winemaking: The grapes were harvested at the end of January, between 22º to 22.5º Balling. They were crushed and cool-fermented in temperature-controlled stainless steel tanks between 13º and 15º C.

Winemaker’s comments

Colour: Bright with tints of green.

Aroma: Tropical fruit and green figs are backed by a hint of green pepper asparagus and grass.

Palate: Crisp and refreshing with prominent tropical fruit and green fig flavours that linger long after the last sip.

Maturation potential: Ideal for drinking now, it will retain its vibrancy for at least two years.

Food pairing: Enjoy on its own or with poultry, seafood or salads.

Chemical analysis

Alcohol: 13.72% by volume

Residual sugar: 3.1 g/l

Total acidity: 5.5 g/l

Volatile acidity: 0.58 g/l

pH: 3.38

Extract: 20.0g/l

 

Wine makes all things possible. – George RR Martin

Wine is constant proof that God loves us and loves to see us happy. – Benjamin Franklin

Age is just a number. It’s totally irrelevant unless, of course, you happen to be a bottle of wine. – Joan Collins

Die denneboombaken langs die M12 na Stellenbosch.

Maak jou perd sommer dáár vas.

Die restaurant op Neethlingshof.

Proelokaal.

Blanco Vin 1907

 

Continue Reading