Toe ek hoor Tom Peters kom Suid-Afrika toe, was ek al halpad Jozi toe. Tot my linkerbrein inskop om te kyk wat die uitstappie my sal kos. Ek weet ghoeroes soos Tom is nie goedkoop nie, maar die hoop beskaam mos nie.
Groot was die ontnugtering na al my somme gemaak is. Nodeloos om te sê, ek kon nie Jozi toe nie. Ek kon met dié geld amper vir Bryce Lawrence in Nieu-Seeland gaan kuier!
My teleurstelling het in moerigheid omgesit toe ek sien wie wel daar sou wees. Maatskappye en instansies wat my swaarverdiende geld mors, het reeds geregistreer. En ek wat hulle befonds om aan te jaag, kan nie. ’n Baie bitter pil om te sluk!
Maar, ten spyte van my afwesigheid, sê Tom het hy sy besoek aan Suid-Afrika baie geniet. Hy het die hoop uitgespreek dat die afgevaardigdes huiswaarts sou keer om met groter vasberadenheid nuwe goed te probeer. Of soos hy dit stel …which is not truly new, but, rather, old things we all know that are typically overlooked in the heat of pressing events.
Toevallig dat hy dit sou noem, want nou die dag na ’n praatjie van my, sê ’n vrou vir my dit was vir haar vreeslik lekker, sy het die praatjie geniet en al daai ordentlikhede. Maar, gaan sy voort, dit wat ek gesê het, is mos eintlik nie iets nuut nie. Ons weet mos die goed.
My flipflop as jy dit dan weet, hoekom doen jy dit nie? En hoe kan ’n mens nou eintlik begrippe soos visie, passie en roeping elke keer nuut verpak? Die ou spreekwoord sê mos jy kan nie van perdedrolle vye maak nie. Dalk soms, maar nie elke keer nie.
Tog, die tannie is reg. As dit by motivering kom, is daar nie te veel nuut onder die son nie. Dit is dieselfde goed wat ons baie goed weet, maar net nie doen nie.
Motivering, en positiwiteit, is soos pille drink. Jy moet dit gereeld doen. Een pil is net nie genoeg nie. Behalwe natuurlik as dit ’n setpil is.
Meer as een pil is nodig om die kiem op sy plek te sit. En dan is dit in die meeste gevalle dieselfde pil. Nie elke keer ’n ander een nie. Hoor mooi: Dieselfde pil, maar die truuk is dat jy dit gereeld neem.
Ek glo die mense wat so gelukkig was om na Tom Peters te kon luister, het na sy aanbieding op die wolke geloop, want die man kán mense besiel.
Net tot die wolkeloper by sy kar kom en sien die lugdraad is afgebreek. Poef! Weg is Tom se motivering!
Om onder sulke omstandighede positief te bly is nie altyd maklik nie, maar daar is tog ’n paar pilletjies wat help:
- Praat positief – met ander en in jou eie kop.
- Dink positief – oor ander en oor jou self.
- Doen positief – voel jou pols. Jy lewe!
- Bevriend positief – Hallo vir positiewe mense; bye-bye vir natbroeke en moangatte.
- Vee voor jou eie deur – Daar is geen verskoning dat jy nie positief kan wees nie. Jy verwag dit dan van ander!
Alweer meer as een pil! En ek hoor jou sê, dit is niks nuut nie. Ek weet dit alles.
Doen dit dan; hoop ek hoor jy mý sê!
Motivation is what gets you started. Habit is what keeps you going. – Jim Rohn
My life is my message. – Gandhi
Excellence is an art won by training and habituation. We do not act rightly because we have virtue or excellence, but we rather have those because we have acted rightly. We are what we repeatedly do. Excellence, then, is not an act but a habit. – Aristotle
Image: posterize/FreeDigitalPhotos.net