Van waar nou weer Gehasi? Of moet ek liewer sê ge-Angie?
Vingerafdrukke vir onderwysers. Bid jou aan!
Seker ook iets wat ons apartheid voor kan blameer, want behalwe vir die dompas is almal voor die voet, bedoel vinger, geafdruk.
Kan ook nie help om in my gedagtes oom PW met sy formidabele vinger te sien nie.
’n Oplossing vir die land se onderwysprobleme? Helaas nie. Net nog ’n foefie om die ware seerplekke mee te verdoesel.
Kom ek help die agbare Minister van Onderwys met hierdie ene:
1. Dit gaan nie help om miljoene (R480 miljoen as ek reg is) op elektroniese skandeerstelsels te mors om te bepaal wie kom werk en wie nie kom werk nie. Veral as jy nie ’n werkbare siteem het vir as jy uitvind wie nie werk nie. Dit is soos ’n hond wat kan blaf, maar nie byt nie. En van hierdie keffers is daar genoeg in die staatsbestel.
As u met die nuwe sisteem bepaal het wie nie kom werk nie, wat dan? U weet nou reeds, net so goed soos ek, wie nie werk nie, maar daar word boggerol aan diegene gedoen. Nou hoe gaan hierdie nuwe biometriesevingerafdrukskandeermasjien dié probleem oplos? Wie gaan dit polisieer as daar hierdie week helder oordag ‘n skool in die Weskaap tot op die fondament afgebreek en weggedra word. En niemand keer of doen iets daaraan nie? Of as miljoene rande se rekenaarsentrums nie eens ingeprop is nie en bokse vol boeke in biblioteke onder die stof staan?
U probleem is dat daar reeds te veel onderwysers by die skool is wat betaal word, maar nie onderrig of opvoed nie. Tegnies gesproke het hulle die vingertoets geslaag. Miskien sal dit help as u masjien nie net inklok nie, maar ook inspuit? Soos jy inklok, spuit die masjien ’n gesonde dosis opgewondenheid en passie in die inklokvinger in. Dit kan werk …
2. Gebruik liewer dié geld om die boeke in Limpopo af te lewer wat nog nie daar is nie. En hou op om te maak of dit wel daar is.
3. Gebruik liewer dié geld om die skole in die Oos-Kaap se onderwysers, wat nie deur die staat betaal word nie, te betaal. Ek praat hier van die onderwysers wat wettig op die skole se diensstaat is, maar nie deur u provinsiale departement betaal word nie. En nou moet die ouers daarvoor opdok. Dan wil u hulle nog verder invinger terwyl hulle nie betaal word nie. Ek dink ek hoor hulle vra: watter vinger verkies u?
4. Bou skole vir daardie toegewyde onderwysers in die platteland wat onder sambrele skool probeer hou. En terwyl u daarmee besig is, sommer ook genoeg toilette en lê sommer krag ook aan.
5. Plant gras op Mitchells Plain se skoolgronde. Geen kind of onderwyser wil skool toe kom as dit soos ’n woestyn lyk nie.
6. Hou op om waar dit nie jeuk nie te krap. Suid-Afrika se onderwysers, die wat elke dag by hul werk is, is professioneel. Hulle het nie ’n sisteem nodig om in te klok vir werk nie. As u my nie glo nie, gaan kyk maar Saterdae op die sportvelde van ons land as hulle nie daar hoef te wees nie.
7. Laaste maar nie die minste nie. Kry tande vir die hond! Fire onderwysers wat nie wil werk nie. U weet wie hulle is.
Onderwys is nie ’n job nie. Onderwys is ’n roeping, agbare minister. Mense wat ’n roeping volg, klok nie met masjiene in of uit nie.
Hulle is 24/7 ingeklok!
How many legs does a dog have if you call the tail a leg? Four. Calling a tail a leg doesn’t make it a leg. – Abraham Lincoln
Public service must be more than doing a job efficiently and honestly. It must be a complete dedication to the people and the nation. – Margaret Chase Smith
Teachers are out there with a very difficult job, which they pursue with tireless dedication. – Chi McBride
Image: digitalart/FreeDigitalPhotos.net