Tag Archives | Matriek

40 Days: Tradisie of Turksvy?

Dis weer sulke tyd!

Skoolhoofde en onderwysers bid dié dag verby en sommige dink selfs dat as hulle maak of die dag nie bestaan nie, dit eenvoudig net sal verbygaan.

Helaas. Hierdie volstruistaktiek is net so fataal soos Dewald Potgieter se weiering om pale toe te skop. Op die ou einde verloor jy net.

In enige matrikulant se lewe is 40 Days ‘n gegewe. Net soos Kersvader ‘n gegewe in kleuters se lewe is. Al sê jy nou wat; Kersvader bring die persente. Net so met 40 Days. Saak gesluit en basta verder.

Nou van waar dan gehasie met hierdie 40 Days-gier? Is dit tradisie of ‘n gril wat net geïgnoreer moet word?

Jy kan enige matrikulant oor 40 Days vra, hulle sal met ‘n onwrikbare sekerheid sê dat dit ‘n tradisie is. Vra jy hoekom; is die antwoord: omdat verlede jaar se matrieks dit gedoen het!

Miskien is dit die rede waarom menige skool nie eens wil hoor van 40 Days nie. Presies oor dít wat verlede jaar se matrieks gedoen het. Of liewer; nie moes gedoen het nie!

Die meeste matrikulante assosieer 40 Days met pret en plesier. Soms te veel daarvan en nie altyd in die regte volgorde nie. Dit is die simbolies amper klaar met skool wees. En met reg, want twaalf jaar is nogal ‘n lang tydperk in enige mens se lewe.

Min weet egter van waar die sogenaamde 40 Days-tradisie kom of waar dit ontstaan het. Miskien selfs ook nie die onderwysers nie?

Die mansonderwysers wat diensplig gedoen het, sal die Weermagtradisie van 40 Days verstaan. Min dae! Salueer met ‘n paar vingers en die eretitel van ou manne. Klaar met army en terug na die lewe van civiestraat.

Wat egter baie interessant is, is dat daar in die Bybel baie verwysings na 40 dae is. Dit het vir 40 dae en nagte gereën toe God die wêreld wou reinig (Eks 7:12) en die Israeliete het 40 jaar in die woestyn deurgebring; een jaar vir elke dag wat dit hulle geneem het om die beloofde land verken (Eks 16:35) en Goliat het die soldate vir 40 dae getart voor Dawid hom op sy plek kom sit het (1 Sam 17:16). Miskien het 40 Days dan lank voor ons eintlik daarvan geweet het, reeds sy bestaansreg gekry?

Of was dit Cliff Richard met sy liedjie oor 40 Days wat die tradisie kom vestig het?

Hoe dit ook al sy. 40 Days is hier om te bly.

Matrieks se veertigste dag hoef nie ’n nagmerrie te wees nie. Gesprekvoering en beplanning kan van 40 Days ‘n geleentheid maak wat almal kan geniet en wat op die ou einde ‘n waardige tradisie op die jaarprogram word.

Ruim ‘n gedeelte van die skooldag in waar matrieks die dag op gepaste wyse kan vier. En dit is oor dié gepaste wyse wat daar gesprekvoering en beplanning moet wees.  Ek het al gesien dat ‘n skool in België op die dag suksesvol ‘n matriekkonsert vir die res van die skool aanbied. Elke matriekregisterklas kry ‘n beurt en die klasonderwyser koördineer die betrokke klas se kreatiewe poging. ’n Uitstekende uitlaatklep vir almal wat na amper 12 jaar iets wil sê of gesien wil wees.

Of kry ‘n interessante spreker van hul keuse om met hulle te kom praat en laat hulle daarna êrens op die skoolterrein braai.  En gee hulle ‘n bietjie vroeër af… al sê die Departement dit is teen die reëls. 40 Days maak mos ‘n bietjie van die rebel in ons almal los. Ook in die skoolhoof!

En as al die voorstelle nog té radikaal is, onthou net oor ‘n bietjie meer as 40 dae vier hulle voluit karnaval by die een of ander universiteit. Nie my probleem nie, hoor ek jou sê.

Verkeerde antwoord, Dewald. Verkeerd!

Speel dan ten minste net die liedjie vir hulle…

I’m gonna give you, forty days to geta back … Yea, in forty days(forty days) forty days (forty days).

Tradition is the illusion of permanence. – Woody Allen

It takes an endless amount of history to make even a little tradition. – Henry James.

Tradition is a guide and not a jailer. – W. Somerset Maugham

Image: podpad/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading