Tag Archives | Klippe

As jou kop raas.

Cartoon of man with messy hair, bags below bloodshot eyes, and stubble on face and chin

Nou die middag luister ek hoe ’n skoolhoof vertel dat sy snags nie kan slaap nie, want haar kop kom net nie tot rus nie. Ek is seker almal van ons weet presies waarvan sy praat, want die meeste mense ken dié gevoel.

Dit is daardie vroegoggend, magtelose gevoel dat skape tel boggherol help. Jy het alles (behalwe drank) probeer, maar jy kán net nie die geraas in jou kop stil kry nie! Dit voel kompleet of jou kop ’n leë konfytblik vol klippe is.

En om sake te vererger, onthou jou brein, wat deesdae die onbenulligste feite nie kán onthou nie, al die idiome oor leeg en klippe wat jy geleer het!

Die kopdokters sal natuurlik verskeie redes kan aanvoor waarom dit vir jou voel dat jou kop raas.

Vir die skoolhoof wil ek eintlik net sê dat sy nie bekommerd moet wees nie. Dit is nie ’n mediese probleem nie. Die klippe in die kop kom eintlik maar saam met die job!

Die persone wat haar aangestel het, het net vergeet om te sê dat dit een van die newe-effekte van dié posvlak is. Maar sy moet tog die uitdrukking, uneasy lies the head that wears the crown, ken?

Vir die res van ons gewone voetvolk is dit ook nie vreemd dat jou kop raas nie. ’n Gewone dag in Mzanzi is genoeg om enige Amerikaner, Brit of Griek nooit ooit weer te laat slaap nie!

Maar laat my toe om net ’n paar alledaagse wakkerblyklippe in jou pad te rol.

Eerste voorbeeld: Hoe kan enige iemand, behalwe ANC-lede, slaap na jy die opening van ons parlement aanskou het?

Tweede voorbeeld: Die waarde van jou kosbare Suid-Afrikaanse rand teenoor omtrent enige ander geldeenheid in die wêreld.

Derde voorbeeld: Die droogte in ons land en wêreldwye klimaatsverandering.

Vierde: Armoede en korrupsie.

Vyf: Soek jy regtig nog?

Ok, jy gee toe. Maar hoe gemaak om dié geraas af te skakel?

Ek wil my nou nie as ’n doktor Phil uitgee nie, maar ek dink die maklikste is om eers al die klippe uit te gooi. Spreekwoordelik, natuurlik. Want dit is tog wat jy met ‘n regte blik met klippe sou doen.

Keer die blik om en gooi die klippe op ‘n hoop. Die maklikste is natuurlik om die hele hoop klippe net daar te los, jou blik te vat en weg te stap. As jy dít kan regkry, is jy van die gelukkiges. Jy gaan ‘n verkwikkende nagrus hê.

Maar vir die ander van ons wat nie van die hoop klippe kán wegstap nie, wil ek voorstel dat jy elke klip op sy eie sal optel, sal weeg en dan besluit of dit die moeite werd is om dit weer in die blik te sit. ‘n Mens kán mos nie elke klip kop toe vat nie!

Kan jy enigiets aan die klip se saligheid verander deur dit in die blik terug te sit? Indien nie; los dit op die hoop. Net klippe wat die potensiaal het om te verander, beland weer in die blik.

As jy met hierdie proses klaar is, het jy hopelik minder klippe wat minder geraas sal maak. Klippe wat in plaas van ‘n kakofonie ‘n rustige melodie in jou kop speel.

Maar of al die klippe ooit sal verdwyn; dit sal ek nie kan sê nie.

Myne raas nog gereeld!

 
Worry does not empty tomorrow of its sorrow, it empties today of its strength. – Leo Buscaglia

Fear can keep us up all night long, but faith makes one fine pillow. – Philip Gulley

There is a great difference between worry and concern. A worried person sees a problem, and a concerned person solves a problem.
– Harold Stephen

Continue Reading