Tag Archives | Kierie

Wie ore het moet luister!

Ek loop my nou die oggend amper disnis teen ’n man wat agteruit na my toe aangestap kom. Onmiddellik dink ek: wie is nou só simpel!      

My irritasie wil my net op ’n knop ruk toe ek sien die man is besig om met ’n kierie op die grond te tik. Nogal met mening. Tik! Tik! Tak!

En so twintig tree verder kom ’n klein seuntjie, seker so ses jaar oud, al agter die geluid aangestap. Ligblou sweetpakbaadjie en die tradisionele grys skoolbroekie. Soms so ’n bietjie van koers af, maar as die man dan harder op die grond kap, korrigeer sy interne GPS hom en zone hy op die geluid in.

Want sien hy is blind.  En die man was besig om hom te leer om in ’n besige winkelsentrum koers te hou. Agter op die sweetpakkie staan daar iets soos In Training geskryf, maar ek kon nie mooi lees nie…

Want lank nadat die man en die alleen figuurtjie al om die volgende hoek verdwyn het, het die wasigheid eers uit my oë verdwyn. En ek het skielik begin wonder watter geluide ek volg?

Is dit die geluid van die kasregister wat my lok? Geld en materiële dinge om my te laat voel die lewe is die moeite werd.

Of is dit dalk die geluid van applous in my ore? For he’s a jolly good fellow en ons sê almal so. Almal se pel. Gewild of die middelpunt van die attraksie.

Of dalk die geluid van jou nuwe selfoon waarsonder jy nerens kan gaan nie? Daai ene waarop jy kliphard in die bussie oppad na die vliegtuig praat.

Of dalk loop jy agter die geluid van jou eie liggaam aan? Die looks, die klere, die lyf. Die ewigdurende gimsessies om beter te wil lyk.

Of loop jy al agter die geween en gekners van tande aan? Saam met al die smartvrate wat glo hulle verdien beter as dit wat hulle reeds het.

Ek sien weer die alleen kleinmensie wat agter die geluid van ’n kierrie aanloop en ek sê dankie Here.

Dankie vir alles wat ek het en nie elke dag waardeer nie.

Dankie vir mense wat bereid is om te sê: Volg my!

Al wat dan nog oorbly om te vra, is: Watter geluid maak ek?

  

The Future’s So Bright, I Gotta Wear Shades. – Timbuk3

There are three classes of people: those who see. Those who see when they are shown. Those who do not see. – Leonardo da Vinci

Wie ore het en kan hoor, moet luister. – Mark 4:9

Image: Danilo Rizzuti/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading