Tag Archives | Fikile Mbalula

SA Sport soos ‘n Sandkasteel!

En daar gebeur dit weer!

Ek bou weer ‘n keer my hoop op ‘n groen-en-goue sandkasteel! Weer bars my bubble soos ‘n oorwerkte Chappies in ‘n senuweeagtige openingskolwer se kake.

Ons Springbokke speel soos slaapwandelaars teen ‘n opponent wat nie eens in dieselfde asem as ons genoem behoort te word nie. Maar Heyneke hou voet by stuk die saak is nie so swak soos dit lyk nie. Ons span is nog jonk en hulle moet leer…

Ek verstaan hom nie mooi nie. Is rugby dan nie ‘n spel vir jongmanne nie? Ek sou sy verweer verstaan as die manne almal in hul veertigs was, maar te jonk? Miskien bedoel hy in ondervinding te jonk? Maar dit klop ook nie met die statistiek wat Naas en irriterende Ashwin op hul flatscreen wys nie.

Ek dink eerder daar waar Meyer se kop in die sand gedruk is, kan hy nie mooi die modder van die sandkorrels onderskei nie. Of miskien probeer hy vir Peter Div napraat, maar dit gaan hy nie sommer regkry nie! Peter kon ten minste praat!

Ons jongmanne – die 0.20’s – maak skande in Frankryk. Trek weg teen ‘n power VSA en almal dink die wêreldkampioene gaan hierdie jaar amok maak. Rom rom rom! Maar helaas. Weer vee die eerste beste ou brandertjie ons sandkasteel se fondasie onder hom uit. Nóg ‘n span chokers en ek huil saggies in my groen trui.

En dan die cherrie op die koek. Ons ware chokers, die Proteas kry dit weer reg om te wys hoe swak Suid-Afrikaanse sport nou regtig is. Hoeveel keer het ek nie gesê dat ek nou klaar is met hulle nie? En elke keer dwing my patriotisme en hoop my terug om nóg ‘n keer te kyk. Nóg ‘n keer te hoop. En om nóg ‘n keer met my hoop in flarde in my hande te sit.

Nóú is ek klaar.

Maar vir wie moet ek nou ondersteun? Die Bafana Bafana? Ons netbal of hokkie? Ek weet nie so mooi nie.

Maar miskien begin die nate al in ons skoolsport lostorring. Veral as ‘n pa ‘n skool vir R2 miljoen wil dagvaar omdat hulle nie sy seun as hul skool se eerste krieketspan se kaptein wil kies nie! En dan is die skool sommer ook nog rassiste op die koop toe. Verregaande, maar wat verwag jy as ons Minister van Nasionale Onderwys glo 30% is goed genoeg? As drie uit tien ‘n slaagsyfer is, dan is verloor seker nie te vrot nie!

O, ja. Amper vergeet ek van ons Minister van Sport. Fikile Mbalula wil miljoene spandeer om ‘n Oscaraand vir ons sportmanne en –vroue te hou. Ek wil weet vir wát en vir wie? Wie van hulle verdien meer as koue water en die sout van ‘n nasie se trane?

Of het dit iets met ons nasionale embleem te make? Verbeel ek my of verlep ‘n protea net makliker as wat ‘n springbok kan pronk?

Maar wie weet? Eendag wen ons vir Switzerland in kaasmaak.

Of gaan my hoop my hier ook beskaam?

Losers make promises they often break. Winners make commitments they always keep. – Dennis Waitley

Boom, crush. Night, losers. Winning, duh. – Charlie Sheen

We must accept finite disappointment, but never lose infinite hope. – Martin Luther King JR.

Continue Reading

Toe bars my bubble!

Met die Olimpiese Spele iets van die verlede, en die koningin se Corgi’s weer onder haar bed uit, wil ek graag net so ‘n paar kantlynopmerkings oor die Spele maak. Of soos my geleerde vriende sê: ’n paar sake op die tafel plaas.

Heel eerste wil ek die Britte net moerse (ons agbare Minister van Sport Fikile Mbabula se gunsteling woord) gelukwens. En dít is iets wat ek nie maklik doen nie. Om enige Brit te komplimenteer, is vir my soos om glas vir ontbyt te kou! Die Spele was, van waar ek gekyk het, puik georganiseer en die byeenkomsplekke was nie net effektief nie,  maar nog mooi ook.

Met die afsluitingseremonie het die bleekbene hulself oortref. Dit  was ’n skouspel van talent en tegnologie wat my weer laat besef het hulle is nie net bangers en mash nie!  En gelukkig het hulle dié keer hul suurpruim koningin onder paleisarres geplaas. Well done, old chaps!

Terug op eie bodem het ons toe nie 12 medaljes soos verwag huistoe gebring nie. Miskien was die administrateurs te opgewonde oor die Londen toe gaanery, of hulle het dié getal met hul Lotto-nommers verwar. Die feit is eenvoudig net dat hulle nie met die werklikheid rekening gehou het nie.

Al die medaljes wat ons wel verower het, was beslis almal so goed soos goud, maar ek stem met Gideon Sam (President van Sascoc) saam as hy voel Suid-Afrika het ’n paar medaljes in Londen gelos. Sy woorde: At this level you don’t do that; when the medal is there for the taking, you take it.

Miskien is dit hierdie kanse wat ons laat glip het, wat my bubble meer as een keer gedurende die spele laat bars het.

Hoe is dit moontlik dat onse mense, wat die Britte by Magersfontein en Isandlwana op hulle baadjie gegee het, nie hondhaaraf kan maak in dissiplines soos perdry en skyfskiet nie? Is ons dan nie ’n nasie van avonturiers, ruiters, jagters en skerpskutters nie?

Nooit in my wildste drome het ek geweet ons kan roei nie! Ons het dan nie eens water nie… Op die Bergrivier en die Duzi, maar nie soos Bridgitte Hartley en die viertal, Sizwe, John, Matthewe en James nie!

Swem ja; dit het Ryk en Roland ons al by die vorige speles gewys.

Bubblebarsers par excellence was ons spansporte. Ons vrouesokkerspan moet eerder as Banana-Banana bekend staan, want dit het gelyk of hulle een of ander piesangrepubliek verteenwoordig. En dan gaan staan en sê die kaptein van die vrouehokkiespan ’n tiende plek is goed genoeg! Vir haar wil ek net sê: dit mag vir julle goed wees, maar baie ver van great!

En great is wat nodig gaan wees om in 2016 in Rio de Janeiro beter te vaar. ’n Ontevredenheid met goed genoeg en ’n passievolle strewe na great.

Benewens al ons medaljewenners, benodig ons vir Rio meer atlete soos Anaso Jobodwana (200 m), Willem Coertzen (tienkamp) en Burry Stander (bergfiets) wat bereid is om hulle alles op die spel te plaas.

Minder politiek in sport en meer bekwame administrateurs vir wie dit nie oor ’n baadjie met ’n badge gaan nie.  Mense wat dalk al self die sport beoefen het en daarom die behoeftes van die atlete verstaan. Mense wat dalk selfs bereid is om by die huis te bly sodat daar meer geld vir die atlete kan wees.

Meer borgskappe vir ons atlete uit die privaatsektor sodat hulle ’n slag professioneel kan voorberei om met die wêreld te kompeteer. 

Nou hoor ek jou al vra: Wat weet jy?

Weet self nie, maar ek kyk in  hoë-definisie na die Spele. Grootskerm.

Weet jý hoe lyk dit as ons goud in HD kry? Pure groen-en-goud!

Maar weet jy hoe lyk dit as die bubble bars?

Moerse swak!

  

It’s what I came here to do, I’m now a legend. – Usain Bolt

My mother used to tell us in the mornings Carl put on your shoes, Oscar you put on your prosthetic legs… So I grew up not thinking I had a disability. I grew up thinking I had different shoes. – Oscar Pretorius

Inspire a generation is our motto. Not necessarily Create a generation, which is what they sometimes get up to in the Olimpic village. – Boris Johnson (London Mayor)

 

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Jonathan Jansen soek aksie!

Dit wil my voorkom of prof. Jonathan nou skielik die agbare Minister van Sport, Fikile Mbalula, se voorbeeld met taalgebruik volg.  Nie dat ek fyngevoelig vir kragwoorde is nie. Allermis. Ek is net bang dat ’n mens by die sterretjies vashaak, soos die Scope van ouds, en dan die wysheid in die res van wat hy te sê gehad het, mis.

My ma het my geleer dat jy nie alles moet glo wat in koerante staan nie, maar omdat ek nou nie self by prof. Jonathan Jansen se toespraak in Bloemfontein kon wees nie, moet ek maar glo wat hulle skryf. 

Hier is die hoofpunte van wat professor Jansen tydens ’n toespraak by Fedsas se jaarvergadering aangeraak het (Ek het my veroorloof om ’n paar kantopmerkings in kursief te maak):

1. Die regering het ’n f#k-jou-houding teenoor sy mense.  Is dit vir iemand nuus?

2. Die prof wil hê ons moet, soos die Occupy Wall Street-veldtog, die kantore van die onderwysdepartemente in elke provinsie gaan beset. Al gevolg wat so ’n aksie gaan hê, is dat daar vir ’n slag mense op kantoor gaan wees!

3. Volgens hom het onderwys nou genoeg beleide, maar te min planne.  Makliker om te skryf as om te doen.  Dit is die probleem, prof.

4. Hy wou ook weet hoe gaan die regering vakbonde beheer. Veral Sadou. Dis die ou spreekwoord van wiens brood men eet, wiens woord men spreek. Of is dit eerder: ek luister net na die wat vir my stem?

5. Ons skole het sedert 1994 al hoe slegter geword, maar die meeste geld gaan steeds na onderwys. Raak net ontslae van al die sogenaamde spesialiste!

6. Volgens hom het niemand die “balls om ’n patetiese skoolhoof af te dank nie”. Ek dink die probleem is dalk fisiek, want was na Kader al die ministers nie vrouens nie? Dit sou maar sukkel, professor!

7. Middelmatigheid is die aanvaarde reël. Vir swak wees is daar altyd ’n verskoning.  Goed wees is maklik, maar goed bly, is moeilik.

8. Goeie skole moet swak skole help. Stem 100% saam, maar dan moet die swakkes gehelp wíl word.

9. Te min mans in die onderwys en te min onderwysers in die grondslagfase. Gaap! Gaap! Wonder of die professor ’n kind het wat al na een van die sogenaamd baie poste gesoek het? Kul jou hier, kul jou daar!

Ek is seker professor Jansen het ’n staande ovasie gekry. Mense hou daarvan as iemand jou begeertes en bekommernisse in woorde vasvat. Meer nog as hy ’n kragwoord of twee gebruik en dis boonop nie vir jou rekening nie!

Prof. Jonathan het ook gesê hy soek aktiviste op voetsoolvlak om al hierdie kruisies in regmerkies te laat verander. Luister mooi.  Nie boudevlak nie! Ons sal moet opstaan en begin dinge doen as ons die regmerkies wil sien. Miskien dalk self ook ’n paar kragwoorde moet inspan om die wa deur die drif te kry…

Dankie, professor Jansen.  Jy maak jou mond oop en sê wat ons nie altyd almal die kans kry om te sê nie.

  

Follow the path of the unsafe, independent thinker. Expose your ideas to the danger of controversy. Speak your mind and fear less the label of ‘crackpot’ than the stigma of conformity. And on issues that seem important to you, stand up and be counted at any cost. – Chauncey Depeur.

When angry count to four. When very angry, swear. – Mark Twain

I personally think we developed language because of our deep inner need to complain. – Jane Wagner

  

Continue Reading