Tag Archives | Fedsas

Jonathan Jansen soek aksie!

Dit wil my voorkom of prof. Jonathan nou skielik die agbare Minister van Sport, Fikile Mbalula, se voorbeeld met taalgebruik volg.  Nie dat ek fyngevoelig vir kragwoorde is nie. Allermis. Ek is net bang dat ’n mens by die sterretjies vashaak, soos die Scope van ouds, en dan die wysheid in die res van wat hy te sê gehad het, mis.

My ma het my geleer dat jy nie alles moet glo wat in koerante staan nie, maar omdat ek nou nie self by prof. Jonathan Jansen se toespraak in Bloemfontein kon wees nie, moet ek maar glo wat hulle skryf. 

Hier is die hoofpunte van wat professor Jansen tydens ’n toespraak by Fedsas se jaarvergadering aangeraak het (Ek het my veroorloof om ’n paar kantopmerkings in kursief te maak):

1. Die regering het ’n f#k-jou-houding teenoor sy mense.  Is dit vir iemand nuus?

2. Die prof wil hê ons moet, soos die Occupy Wall Street-veldtog, die kantore van die onderwysdepartemente in elke provinsie gaan beset. Al gevolg wat so ’n aksie gaan hê, is dat daar vir ’n slag mense op kantoor gaan wees!

3. Volgens hom het onderwys nou genoeg beleide, maar te min planne.  Makliker om te skryf as om te doen.  Dit is die probleem, prof.

4. Hy wou ook weet hoe gaan die regering vakbonde beheer. Veral Sadou. Dis die ou spreekwoord van wiens brood men eet, wiens woord men spreek. Of is dit eerder: ek luister net na die wat vir my stem?

5. Ons skole het sedert 1994 al hoe slegter geword, maar die meeste geld gaan steeds na onderwys. Raak net ontslae van al die sogenaamde spesialiste!

6. Volgens hom het niemand die “balls om ’n patetiese skoolhoof af te dank nie”. Ek dink die probleem is dalk fisiek, want was na Kader al die ministers nie vrouens nie? Dit sou maar sukkel, professor!

7. Middelmatigheid is die aanvaarde reël. Vir swak wees is daar altyd ’n verskoning.  Goed wees is maklik, maar goed bly, is moeilik.

8. Goeie skole moet swak skole help. Stem 100% saam, maar dan moet die swakkes gehelp wíl word.

9. Te min mans in die onderwys en te min onderwysers in die grondslagfase. Gaap! Gaap! Wonder of die professor ’n kind het wat al na een van die sogenaamd baie poste gesoek het? Kul jou hier, kul jou daar!

Ek is seker professor Jansen het ’n staande ovasie gekry. Mense hou daarvan as iemand jou begeertes en bekommernisse in woorde vasvat. Meer nog as hy ’n kragwoord of twee gebruik en dis boonop nie vir jou rekening nie!

Prof. Jonathan het ook gesê hy soek aktiviste op voetsoolvlak om al hierdie kruisies in regmerkies te laat verander. Luister mooi.  Nie boudevlak nie! Ons sal moet opstaan en begin dinge doen as ons die regmerkies wil sien. Miskien dalk self ook ’n paar kragwoorde moet inspan om die wa deur die drif te kry…

Dankie, professor Jansen.  Jy maak jou mond oop en sê wat ons nie altyd almal die kans kry om te sê nie.

  

Follow the path of the unsafe, independent thinker. Expose your ideas to the danger of controversy. Speak your mind and fear less the label of ‘crackpot’ than the stigma of conformity. And on issues that seem important to you, stand up and be counted at any cost. – Chauncey Depeur.

When angry count to four. When very angry, swear. – Mark Twain

I personally think we developed language because of our deep inner need to complain. – Jane Wagner

  

Continue Reading