In watter liggaamsdeel kramp jy as jy oor nasionale TV sê jy wens die pikkewyn in jou tuin by Bettiesbaai kry ‘n virus en vrek? En dit as jy 79 jaar oud is?
Wat maak ’n mens so onvergenoeg en só behep met jouself? Ouderdom? Of sommer net ’n ingatgeit wat geen perke ken nie?
Vir sulke mense wil ek sê: Hou ’n slag op om net vir jouself te leef. Die wêreld is heelwat groter as jy.
Hou op kla oor alles en almal en hou op om vir jou kleinkinders te vertel van die goeie ou dae. Miskien weet ek nie so baie van die goeie ou dae soos jy nie, maar ek onthou darem party wat maar bra bollie was!
Moenie jou skouertjies optrek en vir my sê niks wat jy doen gaan tog help nie. Hoe kan die ou klein bietjie wat ek dan nou doen tog ‘n verskil maak? Die oormag is net te groot!
Ek wonder wat moeder Teresa vir die pikkewyne sou gesê het? Beslis nie ek hoop jy vrek nie!
Wat sy wel gesê het, is if you can’t feed a hundred people, then feed just one.
Hou op wag vir die Groot Knal-ingryping wat jou pikkewynprobleem gaan oplos. Doen iets. Span self ’n draad.
Koop ’n roomys en gee dit vir die man, met die baie kinders en geen werk nie, by Willowbridge se kruising.
Glimlag vir die suring langs jou. Oeps, sorrie … Dis jóú weerkaatsing in die ruit!
Borg ’n kind se kampgeld by Potato Foundation of maak ’n donasie vir fetale alkoholsindroom by die Faith Fund.
Raak ontslae van al die klere wat jy nie dra nie en gee dit vir mense wat dit nodiger het as jy.
Dóén ’n slag net iets. Gee die eerste tree. Al dink jy dis klein.
Miskien gaan jy nie dadelik die verskil sien nie, maar jy gaan beslis beter voel.
A bone to the dog is not charity. Charity is the bone shared with the dog, when you are just as hungry as the dog. – Jack London
You can give without loving, but you can never love without giving. – Robert Louis Stevenson
Small deeds done are better than great deeds planned. – Peter Marshall