Sommige skole dink hulle bevorder entrepreneurskap deur ’n sogenaamde entrepreneursdag te hou. Die skooldag se program word op ’n dag ’n bietjie aangepas en siedaar … ons het ’n tydjie beskikbaar waar ons toekomstige entrepreneurs hulle talente kan kom uitstal!
Mammie bak cupcakes en Pappie maak vir ’n vale draadkarre van al sy ophooprommel in die garage. Op entrepreneursdag staan Telg breed agter die tafel in die vierkant en pleeg entrepreneurskap. En die skool tik nog ’n boksie as afgehandel af. Dit gaan goed met ons volk, want ons kinders kan steeds nie vir hulself sorg nie. (Met verskoning aan Totius).
Miskien verstaan ons die begrip entrepreneurskap nie goed nie? Miskien dink ons dit is iets teoreties wat jy moet leer. Iets soos Ekonomie of Bedryfsekonomie?
My mening hieroor is dat entrepreneurskap eerder gedemonstreer word, as wat dit onderrig word.
Organiseer dan liewer in plek van die entrepreneursdag ’n volbloed entrepreneur wat aan die kinders kom verduidelik hoe hy/sy dit reg gekry het om buite die boksie te dink en sodoende iets volhoubaar kon skep wat hom/haar aan die lewe hou. Moet asseblief tog nie hierdie mense by die universiteite gaan soek nie; hulle werk ook maar soos die meeste van ons vir ’n salaris. Soek hulle sommer êrens op straat; hulle ís daar, as jy fyn kyk.
My goeie vriend, Heinie Brand van Laerskool Eversdal, het eendag tydens so ’n dag die praktyk van ware entrepreneurskap ervaar.
Nico Nel, die storieverteller, was op daardie stadium ’n ouer van Laerskool Eversdal en was nie lus vir koekbak of draadkarre buig nie. Inteendeel; sy entrepreneurskapgene het totaal uit hul nate gebars en nie net buite die boks gaan draai nie, maar ook sommer buite Bellville.
Die beplande entrepreneursdag het aangebreek en gewapen met stellasies vol dagoudkuikens het Nico se kind die wêreld van die vrye mark ekonomie betree.
Binne vyf minute het die tou klante by Willem (skuilnaam) se tafel rondom die skool gestaan, want watter kind kan die aantrekkingskrag van ‘n kuiken weerstaan? En dit nogal teen die winskoopprys van R3 een. By die ander aspirant-entrepreneurs se tafels het sake nie so rooskleurig gelyk nie. Die cupcakes se icing het soos sneeu op ’n warm dag op die Drakensberge begin smelt, maar nog steeds het die kopers weggebly.
Toe die klok vir die einde van die markdag lui, was al die kuikens verkoop. Omtrent elke kind in die skool het met ’n bruin kardoes, met twee gate vir vars lug, in die vuis rondgeloop. In die kardoes – een van die kuikens.
Heinie het hierdie proses gadegeslaan en Willem gaan gelukwens met sy poging, min wetende wat gaan volg.
Teen 11:00 het die eerste juffrou benoud laat weet iemand moet kom help, want van die kuikens is beseer. Óf hulle word versmoor omdat hulle te styf vasgedruk word, óf hulle kry seer omdat daar te rof met hulle gespeel word. Noodgedwonge moes die adjunkte van hierdie kuikens na die hoenderhemel aanhelp. Natuurlik tot groot ontsteltenis van die nuwe eienaars.
Teen 12:45, toe die eerste leerders huiswaarts keer, was die Dierebeskermingsvereniging by die voorhek om te verneem van wie die skool toestemming vir die nuwe hoenderboedery gekry het. Teen 15:00 was laerskool Eversdal se skakelbord geblok met ouers wat die hoenders in vir Heinie is, want hulle stuur hulle kinders skool toe om cupcakes te koop; nie hoenders nie!
En dan huil ons as ons kinders nie op eie stoom die mas kan opkom nie…
If opportunity doesn’t knock – build a door. – Milton Berle
Everything you want is just outside your comfort zone. – Robert Allen
Business opportunities are like buses, there’s always another one coming. – Richard Branson
The critical ingredient is getting of your butt and doing something. It’s as simple as that. A lot of people have ideas, but there are few who decide to do something about them now. Not tomorrow. Not next week. But today. The true entrepreneur is a doer, not a dreamer. – Nolan Bushnell, founder of Atari and Chuck E. Cheese’s
Image: africa/FeeDigitalPhotos.net