Tag Archives | Departement van Arbeid

Die Here sal jou seën, Meneer.

My bakkie staan nou die oggend in die oprit, want ek moes weer uit om iets te gaan haal.

’n Fout, want lyk my ’n voertuig in die oprit is ’n ope uitnodiging vir almal wat verby loop om die deurklokkie te kom lui.

Eers die fietspatrollieman wat rekenaaronderdele vir sy kind soek.

Net my sit agter die rekenaar gekry, toe lui die voordeurklokkie weer!

Ek is skielik vies vir my wat die bakkie buite gelos het en vir almal wat die klokkie lui.

Seker weer iemand wat iets kom bedel!

Met ’n beswaarde gemoed ruk ek die deur oop en daar staan sy. Middeljarig en netjies.

Het meneer nie iets vir…

En voor sy die bekende rympie kan voltooi, vertel ek haar dat tussen haar en die vorige hulpbehoewendes, die kerk en die belastinggaarder is ek een van die mooi dae saam met haar besig om voordeurklokkies te lui.

Want sien, speel ek my troefkaart, net gister het ek vir meer as vyf uur by die Departement van Arbeid gaan toustaan om my werkloosheidversekering te gaan kollekteer.

Eintlik soek sy hulp by die verkeerde mense, want ek is ook hulpbehoewend. Dink sy, ons wat hier bly, is ryk en daarom kom soek sy hier hulp?

Meneer, dis nie eintlik wat ek gemeen het nie. Ek was ’n seamster wat met die overlocker gewerk het en verlede Desember het die baas ons net so gelos en verdwyn.

Nou bly ek by die inlaws in die agterplaas.  Toe ek gewerk het, het hulle graag die groceries by my gevat.  Nou eet hulle voor die kinders!

Het meneer nie dalk net ’n glas yswater vir my nie? En ek wonder wat is dit met mense wat bedel en yswater? Is koue water nie goed genoeg nie?

Terug kombuis toe om die water te gaan haal, moet ek by my beursie verby en dié praat met my. Amper soos die advertensie op TV.

Ek haal ’n groen noot en ’n paar muntstukke uit en neem dit saam met die yswater deur toe.

Wat is jou naam? vra ek.

Lillian, meneer.  Dankie meneer, en haar oë skiet vol trane toe sy die geld en water vat.  Ek het nog nooit die soort ding gedoen nie. Dankie meneer, die Here sal meneer seën.

Terug by my lessenaar kry ek nie my sit nie, want Lillian se oë kyk te diep in my siel.

Ek staan op en vat die groot noot uit my beursie en gaan soek na Lillian in die straat.

Twee huise verder af sien ek haar. Sy stap stadig.

Lillian, roep ek haar en stap tot by haar.

Ek het jou geld gegee, sê ek.  Ek wil dit terug hê.

Lillian se oë rek, maar sy grawe in die sak en haal die geld uit en gee dit vir my.

Ek het nou só groot geskrik! Het ek iets verkeerd gedoen?

Nee, wil ek sê, dis nie jy wat iets verkeerd gedoen het nie, dis eintlik ek.

Nee, Lillian. Daar is nie fout nie.  Ek wil net die geld wat ek vir jou gegee het, met dié omruil.

En toe breek die damme agter Lillian en my oë en spoel twee vreemdelinge vir ’n oomblik saam op die eiland van menswees uit .

Meneer, ek gaan nou dadelik huis toe. Die Here sal jou seën, meneer!

Dankie, Lillian. Dis eintlik nie nodig nie, wil ek sê.

Want ek het net vanoggend weer besef dat die Here het my al lankal geseën het!

 

Grace is not part of consciousness; it is the amount of light in our souls, not knowledge or reason. – Pope Francis

I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us. – Anne Lamott

I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And I will not let what I cannot do interfere with what I can do. And by the grace of God. I will. – Edward Everett Hale

 

 

 

 

 

Continue Reading

Burokrasie is gesond en leef tussen ons.

Die HAT verklaar die woord burokrasie as: 1. Gesamentlike staatsamptenaar. 2. Gees, gedrag van ’n burokraat; amptelike kleingeestigheid.

Nou wat is ’n burokraat dan, vra jy? Weer die HAT: Kleingeestige (en eiemagtige) amptenaar wat net aan die letter van die wet vashou.

Na ’n besoek hierdie afgelope Maandag aan die Departement van Arbeid se kantoor in Bellville, verstaan ek hierdie twee begrippe beter. Baie beter!

’n Volle vyf uur en 40 minute se beter!

Want dit was presies hoe lank dit my geneem het om my reeds voltooide UIF-vorms in te dien.

Gedurende dié genoemde vyf plus ure het ek gesien waar die woordeboekmakers hulle definisies kom formuleer.

En ek kan getuig dat hulle definisie een honderd persent in die kol is, want soos ek op my al sensitiewer wordende agterent numeries vorentoe (baie stadig!) vorder, het ek dié definisie in sy volle omvang beleef.

’n Amptenaar wat vorms aan die skare op die bankies verduidelik asof almal totaal stupid is. Maar die ergste is dat dié amptenaar die inligtingsessie gebruik om sy die standup comedy te beoefen. En die enigste wat lag is hy, want hy het die hef in die hand. Luister moet jy luister.

’n Rêrige gevange skare, want maak jy die verkeerde geluid of beweging, wie weet wanneer kom jy hier uit. Dalk nooit en jy word soos hulle. Ek het ook besef dat ons nie ’n inval van wesens uit die buitenste ruimte moet vrees nie. Hulle is reeds hier… hulle is in diens van die Departement van Arbeid.

Amptenare wat vir ’n departement werk wat die edelste woord in enige woordeskat verteenwoordig, maar gerieflik vergeet het wat dié woord beteken. Soos klokslag verdwyn hulle soos mis voor die son en laat die rye vormdraers sonder enige taal of tyding.

Kantore word driemandiep beset en deur die ruit sien ek die breedste glimlagge wat enige tandepasta-advertensie groen van jaloesie sal maak. Dis net dat ons arme drommels met die vorms, soos die minute ure word, ongelukkig nie die grap kan insien of saam wil lag nie.

En hoe later hoe kwater. Dit help nie om te vra wie in beheer van hierdie departement van onarbeidsaamheid is nie. Niemand wil verantwoordelikheid hiervoor aanvaar nie. Die warm patat van leierskap en blote verantwoordelikheid word van die een kantoor na die ander verskuif. En om alles te kroon, staan daar op ’n bordjie bo een van die kantore: Client Services!

En glimlaggend kyk ons president vanuit ’n groot geraamde portret op sy volgelinge en amptenare neer. Alles is wel in die staatsdiens.

Miskien begryp ek die hele besigheid totaal en al verkeerd?

Word dié amptenare se salarisse nie met my en jou swaarverdiende belastinggeld betaal nie?

Is hulle daarom dan nie veronderstel om die publiek as hul kliënte te sien nie? Ook daardie arme mense wat nie anders kan nie en van hospitaal, kliniek en regshulp van bank na bank móét skuif.

Ek weet ek veralgemeen, want in enige organisasie is daar uitsonderings op die reël. En ek het met een of twee van hulle ook te doen gekry, maar hulle was min. Bitter min.

Ek wonder hoe lank hulle (die bittereinders) teen hierdie tsunami van burokrasie staande gaan bly, voor hulle ook die handdoek ingooi en net nog ’n amptenaar word wat alle oogkontak met die publiek vermy?

Ek het die gevoel gekry dat dié met die lêer(s) onder die arm, wat so stip voor hulle staar as hulle loop, skaam is. Skaam omdat hulle geswig het voor die verkragting van die eens edel begrip dat arbeid adel is.

Terwyl ek daar gesit het, het ek gewens ons president wil uit sy portret klim, die tafels kom omgooi en die sweep in hierdie sinagoge kom klap!

Voor dit te laat is.

Of is die skrif reeds aan die muur?

 

Geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit ’n oorpak aanhet en na werk lyk. – Thomas Edison

Om te rus kry jou nie daar nie. – Ugandese spreekwoord

Luiheid laat die dak inval, slap hande laat die huis lek. – Prediker 10:18

 

 

Continue Reading