Tag Archives | Dead Poets Society

Carpe Diem!

My kennis van Julius Ceasar se taal was nog nooit van so ’n standaard dat ek hom teen Brutus sou kon waarsku nie.

Latyn is vir my so helder soos die ou Boesman in die Kalahari se insig in Suid-Afrika se landswapen.  Sy opmerking toe die ontwerpers hom om sy mening daaroor nader:  Ek ken moeilikheid, maar hier kom groot klak!

Ek het darem geweet dat die deurmekaar letters op die ou landswapen eendrag maak mag beteken het. 

Waar carpe diem vir my die eerste keer betekenis gekry het, was in die film Dead Poets Society waarin Robin Williams die rol van ’n onderwyser, John Keating, vertolk. Behalwe dat dié fliek ’n lewenslange impak op my as mens en op my onderwysloopbaan gehad het, het dit ook dié latynse spreuk ’n wêreldterm soos Coke en Elvis gemaak.

Ek kry elke keer hoendervleis as ek die gedeelte sien waar die leerders Keating groet en een vir een op hulle banke klim en sê: My captain, my captain. 

Carpe Diem was op almal se lippe. As jy vandag die frase Carpe Diem op ’n soekenjin intik, kry nie minder as 4, 850, 000 verwysings daarna nie! Oral het iets met carpe diem in of vooraan die lig gesien.  Van dagstukkieboeke tot besighede met die naam.  Carpe Diem Versekeraars, Carpe Veiligheidsdienste en selfs Carpe Diem Begrafnisondernemers!

Sou ons die gedeelte van Horace se gedig vry vertaal, sou dit min of meer soos volg klink: Terwyl ons met mekaar praat, gaan kosbare tyd verlore; oes die dag en moenie jou vertroue in môre plaas nie.

Allerhande vertalings van Carpe Diem het die lig gesien.  Die mees algemene een in Afrikaans is : Gryp die dag!  Meer direk vertaal sou carpe eintlik na die proses van oes in landbouterminologie verwys.   ’n Getrouer vertaling sou dus wees:  Oes die dag!

Al hierdie akademiese vertalings raak egter nie aan my gewone dag-tot-dag-hartsnare nie.  Net soos my Latyn Julius nie kon help nie, mis baie van hierdie vertalings vir my die bus.

Hierdie mooi vertalings is miskien goed vir die omslae en titels van dagstukboekies en besighede wat jou wil beïndruk. 

Vir my bly die raakste en toepaslikste vertaling (deur die uwe natuurlik): Kry jou gat in rat!

Lekker kort.  En dit pas maklik op ’n T-hemp.

Dalk met carpe diem voorop en my vertaling op die agterkant?

 

Dum loquimur, fugerit invida aetas: carpe diem, quam minimum credula postero – Horace (Odes Book 1)

(While we’re talking, envious time is fleeing; seize the day, put no trust in the future.)

Dream as if you’ll live forever.  Live as if you’ll die today.  – James Dean

And in the end, it’s not the years in your life that count.  It’s the life in your years.  – Abraham Lincoln

Image: Renjith Krishnan/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading