Tag Archives | Carpe Diem

Lig in die Onderwystonnel?

‘n Onderwyser vra my nou die dag of ek regtig glo dat daar lig in die onderwystonnel is? Of sê ek sommer net so om hulle beter te laat voel?

Sy sê sy byt nou nie meer aan daardie seesterstorie nie, want daar is net te veel seesterre wat teruggegooi moet word. En boonop is daar net hopeloos te min hande vir die teruggooislag!

Natuurlik glo ek dit!  Ek glo dit met my hele hart en verstand, maar ek is ook nugter genoeg om te weet die lig gaan nie sommer môre al só helder skyn dat ek ’n donkerbril moet dra nie!

Haar vraag het my onwillekeurig aan my goeie vriend Claude Moller se geliefkoosde gesegde, it’s better to light the candle than to curse the darkness, laat dink.

Hoe dan gemaak om die flou liggie helderder te laat brand?

Daar is baie moontlike antwoorde op dié vraag. Baie geesdrif, passie, omgee, regte pedagogiek, visie, missie, tonne geloof en al dié begrippe is van toepassing. Maar as die branders voel of dit net te veel word en die liggie al dowwer skyn, wil ek die volgende voorstel.

Gaan soggens vroeër skool toe. Ja, jy het reg gehoor. Vroeër.

Moenie personeelkamer toe gaan nie. Gaan reguit na jou klas toe. Maak die deur toe en gaan sit in een van die banke voor jou lessenaar. Sit nou eers net ’n tydjie daar.  Staan dan op en gaan sit heel agter waar Mixit Maans en Facebook Francine wegkruip. En dan wonder jy …

Of die volgende Nelson Mandela dalk nie vandag in hierdie bank gaan sit nie? Of dalk die volgende Louis Pasteur? Of die volgende Moeder Theresa? Mahatma Gandhi? Of dalk jou kind of my kleinkind?

Steek dan jou hand uit en verbeel jou jy raak aan die volgende Nelson Mandela.

Wow! Jy is bevoorreg! Jy raak aan die toekoms!

Nie die tandarts, dominee, burgemeester, of self president JZ, kan dieselfde sê  nie. Net jy!

‘n Laaste oefeninkie voor jy personeelkamer toe gaan: Klim bo-op een van die banke (moenie bang wees dat iemand jou sien nie) en kry die groter prentjie van waarmee jy besig is. Staan stil. Moenie vroetel of selfbewus wees nie. Maak toe jou oë en vergeet ’n slag van al die assessering en ander departementele rompslomp. Jy is hier vir ’n groter taak as net dít.

Jy is nie hier vir ’n job nie, jy het ’n roeping. Jy is by die naam geroep om ’n onderwyser te wees. Die Here wil jou daar waar jy nou is gebruik. Jy hoef nie weg te foeter na ’n sendingveld wie weet waar nie. Hierdie is jou sendingveld. Moenie een oomblik aan die belangrikheid van jou werk twyfel nie. Moenie dat moangatte, slapgatte en natbroeke jou vlammetjie blus nie.

Onthou die volgende woorde van Marianne Williamson: Our deepest fear is not that we are inadequate. Our deepest fear is that we are powerful beyond measure. It is our light, not our darkness that most frightens us. We ask ourselves, who am I to be brilliant, gorgeous, talented, fabulous? Actually, who are you not to be? You are a child of God. Your playing small does not serve the world. There is nothing enlightened about shrinking so that other people won’t feel insecure around you. We are all meant to shine, as children do. We were born to make manifest the glory of God that is within us. It’s not just in some of us; it’s in everyone. And as we let our own light shine, we unconsciously give other people permission to do the same. As we are liberated from our own fear, our presence automatically liberates others.

Ja, jy gaan moeg en geirriteerd raak.  Jy gaan soms twyfel.  Jy gaan dink jy word nie genoeg betaal nie, maar onthou altyd net dit: as jy eendag in die hemel kom (onderwysers gaan volgens my soontoe, want hulle hel was op aarde J) gaan die grootste onderwyser van alle tye vir jou wag en Sy hand na jou uitsteek en sê:

O Captain! My Captain!

OK.  Klim van die bank af. Jy is nou gereed!

Sit jou donkerbril op en gaan personeelkamer toe.

En as mense jou vra wat is dit dan  nou met dié bril, dan klap jy hulle met Oprah W: die toekoms skyn so helder dat ek ’n donkerbril móét dra!

Carpe diem!

I touch the future. I teach – Christa McAuliffe

Teachers can change lives with just the right mix of chalk and challenges. – Joyce A. Myers

A teacher affects eternity he can never tell, where his influence stops. – Henry B. Adams

Foto: adamr/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Carpe Diem!

My kennis van Julius Ceasar se taal was nog nooit van so ’n standaard dat ek hom teen Brutus sou kon waarsku nie.

Latyn is vir my so helder soos die ou Boesman in die Kalahari se insig in Suid-Afrika se landswapen.  Sy opmerking toe die ontwerpers hom om sy mening daaroor nader:  Ek ken moeilikheid, maar hier kom groot klak!

Ek het darem geweet dat die deurmekaar letters op die ou landswapen eendrag maak mag beteken het. 

Waar carpe diem vir my die eerste keer betekenis gekry het, was in die film Dead Poets Society waarin Robin Williams die rol van ’n onderwyser, John Keating, vertolk. Behalwe dat dié fliek ’n lewenslange impak op my as mens en op my onderwysloopbaan gehad het, het dit ook dié latynse spreuk ’n wêreldterm soos Coke en Elvis gemaak.

Ek kry elke keer hoendervleis as ek die gedeelte sien waar die leerders Keating groet en een vir een op hulle banke klim en sê: My captain, my captain. 

Carpe Diem was op almal se lippe. As jy vandag die frase Carpe Diem op ’n soekenjin intik, kry nie minder as 4, 850, 000 verwysings daarna nie! Oral het iets met carpe diem in of vooraan die lig gesien.  Van dagstukkieboeke tot besighede met die naam.  Carpe Diem Versekeraars, Carpe Veiligheidsdienste en selfs Carpe Diem Begrafnisondernemers!

Sou ons die gedeelte van Horace se gedig vry vertaal, sou dit min of meer soos volg klink: Terwyl ons met mekaar praat, gaan kosbare tyd verlore; oes die dag en moenie jou vertroue in môre plaas nie.

Allerhande vertalings van Carpe Diem het die lig gesien.  Die mees algemene een in Afrikaans is : Gryp die dag!  Meer direk vertaal sou carpe eintlik na die proses van oes in landbouterminologie verwys.   ’n Getrouer vertaling sou dus wees:  Oes die dag!

Al hierdie akademiese vertalings raak egter nie aan my gewone dag-tot-dag-hartsnare nie.  Net soos my Latyn Julius nie kon help nie, mis baie van hierdie vertalings vir my die bus.

Hierdie mooi vertalings is miskien goed vir die omslae en titels van dagstukboekies en besighede wat jou wil beïndruk. 

Vir my bly die raakste en toepaslikste vertaling (deur die uwe natuurlik): Kry jou gat in rat!

Lekker kort.  En dit pas maklik op ’n T-hemp.

Dalk met carpe diem voorop en my vertaling op die agterkant?

 

Dum loquimur, fugerit invida aetas: carpe diem, quam minimum credula postero – Horace (Odes Book 1)

(While we’re talking, envious time is fleeing; seize the day, put no trust in the future.)

Dream as if you’ll live forever.  Live as if you’ll die today.  – James Dean

And in the end, it’s not the years in your life that count.  It’s the life in your years.  – Abraham Lincoln

Image: Renjith Krishnan/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading