Tag Archives | Braaitang

Tequila en Jeugdag

Tiergarnale met Tequila

Noudat daar sprake is dat ons vakansiedae dalk gaan minder word, het Braaitang en ek gedink ons moet Jeugdag sinvol aanwend. Wie weet; dit mag dalk die laaste een wees?

Ons beskeie bydrae tot die feesdag sou ’n nuwe (OK, niks is ooit nuut in kosmaak nie en daarom sommer dadelik ons erkenning aan almal wat dalk al so iets gemaak het) reseppie wees.

En omdat onse president ons op dié groot dag in Mexiko verteenwoordig, het ons gevoel ’n mexikaanse geurtjie sal gepas wees. Vandaar die uitreik na die bottel met die wurmpie op die bodem. So in solidariteit met onse prez.

Omdat almal vir die vale ontbeen en vlek, het ons besluit om iets anders te doen.  Tequila was reeds die hoofrolspeler, maar wat sou saam met dit op die braai werk? Slotsom: prawns! Vir die taalpuriste: garnale.

Nie daai pieperige, pienk goetertjies wat jy in ’n seekosmengsel kry nie. Die egte, regte tiere van die see.

Nou hoe gemaak met die tequila en die garnale? Volg hierdie reseppie stap vir stap en ons belowe jou jy sing voor jy jou kom kry Seeman beter as oorlede Gé Korsten.

Jy benodig:

  • 1 Pak tiergarnale (± 25)
  • ½ Koppie olyfolie
  • ¼ Koppie Tequilla (of dalk ’n bietjie meer…)
  • 1 Rooi ui (Fyn gekap)
  • 2 Knoffelhuisies (Gekap)
  • 1 Rissie (of meer na smaak)
  • 2 Teelepels komyn
  • Sout en Peper na smaak

Maak nou so:

  • Voeg al die bestanddele, behalwe die olyfolie, saam.
  • Gooi nou die olyfolie stadig by die eerste mengsel en roer.
  • Plaas die garnale in ’n houer of groot plastieksak. As jy die sakopsie kies, wees versigtig om die garnale met die omdraaislag nie te breek nie.  Sagte handjies word benodig!
  • Gooi marinade oor die garnale. Maak seker dat almal met die marinade bedek word.
  • Bedek met kleefplastiek (as nie in sak nie) en marineer vir ten minste 4 ure in die yskas. Draai so elke uur om vir ‘n egalige bedekking van die marinade.
  • Braai oor matige kole tot die garnale ’n pienkerige kleur kry (so tusen 6 en 10 minute afhangende van jou hitte en die hoogte bo die kole). Moenie die garnale te lank braai nie, want dan kan jy net so wel die rekke op jou seun se kettie eet!

So ja, sit nou terug.  Gooi gister se koerant oop vir die doppe en los die servette, want jy gaan sommer jou vingers skoon lek.

Kom, skink nóg ’n enetjie, want ek sien daar’s suurlemoen en sout op die tafel oor.

Guadalajara!

Op die jeug van Suid-Afrika!

 

Computers have enabled people to make more mistakes faster than almost any invention in history, with the possible exception of tequila and hand guns. – Mitch Ratcliffe

When life hands you lemons – break out the tequila and salt. – Unknown

Now tequila may be the favoured beverage of outlaws but that doesn’t mean it gives them preferential treatment. In fact, tequila probably has betrayed as many outlaws as has the central nervous system and dissatisfied wives. Tequila, scorpion honey, harsh dew of the doglands, essence of Aztec, crema de cacti; tequila, oily and thermal like the sun in solution; tequila, liquid geometry of passion; Tequila, the buzzard god who copulates in midair with the ascending souls of dying virgins; tequila, firebug in the house of good taste; O tequila, savage water of sorcery, what confusion and mischief your sly, rebellious drops do generate! – Tom Robbins

 

Continue Reading

Broodbak is ‘n metafoor.

Self gebak!

Suid-Afrika se MasterChef is aan die kook en elke hierjy dink hy’s ‘n Gordon Ramsay. As jy ‘n lepel kan vashou en ‘n paar knope kan los, dan is jy ‘n groter celeb as Riaan Cruywagen by die KKNK!

Wat ek nie verstaan nie, is dat elke deelnemer meer flambojant as die ander wil wees. Snaakse konkoksies en fyn geurtjies om die beoordelaars te beïndruk. Selfs die goeie ou braai word opgejack dat dit soos ’n pastorie-mammie wat ‘n oorlede Michael J-move op die verhoog uithaal, lyk!

En dit gebeur nou alles net op dié stadium dat ek en vriend Braaitang meen ons het broodbak onder die knie. Let wel, nie daai fancy brode met die krulle en goed nie. Gewone brood. Potbrood en oondbrood. Eenvoudig en reguit van sy ma af.

Dis snaaks, so gesels ons, dis amper asof ons van al ons kookery die meeste genot uit broodbak kry. En moet nou nie ‘n fout maak nie, ons kan ook die stoppe uittrek as dit moet. Cordon Bleu en al daai ander kosserige kragwoorde.

Miskien is die knie, meer Braaitang.  Die knie-ery is terapeuties van aard. Emosioneel amper. Jou eie kopdokter; net sonder die rekening.

Brood het ook ’n eie identiteit.  Amper so asof dit ’n eie wil het. Jy kan dit vorm soos jy wil, maar op die ou einde neem dit sy eie vorm aan.  Nie een brood lyk presies dieselfde nie.

Terwyl jy knie, dink jy ver. Jou kop begin saam met die ritme van die knieproses paaie loop. Die filosoof in jou kom los en jy kry kans om die daaglikse warboel netjies te liasseer.

Die Hongare het ‘n spreekwoord dat brood ouer as die mens is. Vir my is broodbak die aardste bakproses wat ek ken. Eenvoudige bestanddele.  Meel, water, sout, suiker, olyfolie en gis. Basisbestanddele; onopgesmuk en eerlik.

Broodbak is ‘n leefwyse. Braaitang meen broodbakkers is goeie mense.  Naby-die-aardemense.

Broodbak is liefde. Om brood te bak is om van jouself te gee, want dit verg moeite. Anders kon jy maar net so wel kafee toe gery het om ‘n plastiekbrood te gaan koop…

Om brood te bak is ook om te hoop. Te hoop dit flop nie. Meer as dit; om jou brood op die water te werp en te glo dat dit na baie dae sal terug kom.

Om saam brood te breek is vriendskap. Ware vriendskap. Veral as jy die brood self gebak het!

Jy sê jy weet nie waarvan ek praat nie.

Kom, rol op die moue. Laat ‘n bietjie liefde los. Bak ‘n brood!

 

Broodbak is ‘n metafoor vir die lewe. – Pieter Veldsman

There are people in the world so hungry, that God cannot appear to them except in the form of bread. – Mahatma Gandhi

All sorrows are less with bread. – Miguel de Cervantes Saavedra

Continue Reading

Braai Paai

 
Hierdie resep gaan net soos die Oranjerivierkool en die Mexican Eggs tydens ‘n kampeerdery vir baie plesier sorg.
 
Of baie braaiers se bas tydens ‘n somervakansie red, want dit is net as mammie en skoonma begin  kla oor al die baie braaivleis wat hulle moet eet, dat jy hierdie een uit die hoed ruk!

Omdat mense mekaar vandag sommer oor ’n ou reseppie in die koerante aanvat, wil ek sommer dadelik almal wat ‘n hand in die uitdink van hierdie paai gehad het, erkenning gee.  Wie die resep eerste uitgedink het weet ek nie, maar ek het dié resep die eerste keer per e-pos ontvang en nou die dag weer gesien dat Braaiboy dit oor die TV maak.  Hierdie weergawe van die Braai Paai is my vriend en boendoekok, Braaitang, se weergawe.

Voor jy egter onverhoeds gevang word en jy dink jy kan sonder voorbereiding dié paai aanpak, wil ek jou net waarsku.  Daar is ‘n paar kardinale ingrediente wat jy gaan nodig hê om hierdie een deur te trek. Die geheim om van ‘n braainul tot braaibul te vorder, is voorbereiding.  Bedink die oomblik wat jy hierdie verrassing wil loslaat en gaan doen dan eers op jou eie  ‘n paar skelm aankope.

NB Noodsaaklik:  ‘n Rooster wat jy op verskillende vasknypvlakke kan stel. ’n Standaardrooster wat nie kan verstel nie, gaan net jou paai in sy maai knyp! Luister mooi wat ek sê.

Jy benodig

Vir 6 – 8 mense

‘n Rooster soos reeds verduidelik

2 x 500g Rolle Skilferkorsdeeg

1 Pak spinasie

3 Gerookte hoenderborsies

1 Pak salami

1 Ui

½ Rooi soetrissie – gekerf na smaak

½ Geel soetrissie – gekerf

1 x 250 Pakkie sampioene

½ Koppie gerasperde Ceddar-kaas

1 Koppie gerasperde Mozzarella-kaas

½ Koppie gekrummelde Feta-kaas

Speserye na smaak. Aanbeveling: Italian Herbs

So maak mens

1. Ontdooi die deeg en rol dit uit.  Gebruik sommer ’n wynbottel as roller.

2. Plaas een helfte van die uitgerolde deeg in die rooster.

3. Braai die ui en rissies saam en geur met speserye soos jy verkies.

4. Pak die laag deeg heel toe met spinasie.  Blink deel van die blaar na buite.

5. Sny nou die hoenderborsies in dun skywe en pak bo-op die spinasie.

6. Plaas ui-en-rissie-mengsel op die hoenderborsies.

7. Maak nou met die salami soos met die hoenderstukkies. Maw salami op die mengsel.

8. Sny die sampioene in skywe en pak op die salami.

9. Strooi die drie kase in lae op die sampioene.

10. Pak die oorblywende spinasie op die kaas. Blink kant na jou.

11. Pak  die tweede rol uitgerolde deeg op die spinasie.

12. Knyp die rante/kante van die deeg toe.

Opsioneel: Klits ‘n eier en verf deeg daarmee om mooi te verbruin.

13. Braai hoog oor kole tot goudbruin. Draai liewers meer as te min. Die deeg kan jou nogal onverhoeds betrap en pikswart verbrand en dan is dit jy en skoonma. Skat so tussen 20 en 30 minute tot gereed vir afhaal.

Sit nou jou geliefkoosde musiek in die CD-speler.  Skink ‘n glasie Beyerskloof en vra vir mammie om nader te skuif. As sy nie reeds teen dié tyd styf teen jou sit nie!

Hier is ‘n klompie prentjies dat jy kan sien waarvan ek praat (foto’s:Anita Steenkamp en self):

 
 

Pak die 1e laag spinasie

Braai die soetrissie en ui

Pak salami

Amper klaar! Strooi die kaas

 

'n Meneer van 'n paai!

Continue Reading