Tag Archives | Attitude

Wat vertel jou Tattoo?

 Jy beter houding kry, mannetjie!

Het jy my?

Almal wat bevoorreg was om diensplig te kon doen, of om as ‘n eerstejaar in een of ander koshuis te kon tuisgaan, sal hierdie gevleuelde woorde baie goed onthou.

Op daardie stadium van ’n mens se lewe was jy óf so verskrik óf so angsbevange dat jy beslis nie die korporaal se idee van houding-kry lekker begryp het nie!  Wat nog van te wil hê!

Vandag verstaan ek beter wat die korporaal  bedoel het.  Of eintlik nie bedoel het nie.

Hy wou basies net hê dat die uwe moes inval by dit wat hy as houding-hê beskou het.  Reg of verkeerd.  En in die meeste gevalle was dit om onbevraagtekenend te gehoorsaam.

Maar ek wil tog ook glo dat hy iets positief daarmeen bedoel het.  Al het hy dit nie self so deurdink nie.

Ek is seker hy het bedoel dat ek attitude moes kry.  Want sonder die regte houding het hy instinktief geweet sou ek nie die army oorleef nie. 

Meer nog, sonder houding sou jy nie jou lewe kan leef nie.  Let wel.  Ek sê nie lewe nie.  Daar is baie mense wat lewe, maar nie regtig leef nie.  Wat is dan die verskil?

Om te lewe is om sonder ’n houding deur die lewe te gaan.  Jy gaan maar net elke dag deur die bewegings en hou aan om ’n geraas te maak (Soos wat Jan Rabie in een van sy kortverhale geskryf het). Jy bestaan as’t ware net.

Om te leef is om houding te hê; en om houding te hê is soos om knoffel te eet!  Almal wéét jy het dit geëet.  Al kou jy hoeveel pepermente, eet jy handevol pietersielie en al borsel jy jou tande elke vyf minute, gaan die knoffelklankie jou steeds agtervolg!

Almal dink die knoffelreuk kom by jou mond uit, maar dis nie die waarheid nie.  Knoffel word in jou bloedstroom opgeneem en al borsel en gorrel jy hoe baie, gaan dit jou nie help dat die geur nie deur jou sweetgaatjies vrygestel word nie.  Ruik sál hulle jou ruik!

Houding werk ook so.  Dit word deur dit wat jy sê, wat jy doen en ook onwetend vir jou, deur jou sweetgaatjies vrygestel.  Mense hoef nie jou houding te sien nie; hulle kan dit aanvoel.  Amper asof jy tattoo op jou lyf dra vir almal om te sien.

Norman Vincent Peale het eendag tydens ’n besoek aan die Ooste  by ’n tatoeëerwinkel ingestap. In die vertoonvenster en teen die mure was daar voorbeelde van wat die tatoeëerkunstenaar op jou liggaam kon aanbring.  Met ’n bietjie houding, en pyn, kon ’n vlag of ’n vark of ’n slagspreuk op ’n boud of arm verewig word.

Een van die voorbeelde het sy gees erg ontstig, want waarom sou iemand die woorde Born to Lose op enige liggaamsdeel wou tatoeëer?

Hy vra toe die Sjinees met die vlegsel en pajamabaadjie of mense wel so mal is om dié spreuk op hulle te laat aanbring.

Partymaal, ja, antwoord hy.

Steeds was Norman nie oortuig dat enige iemand so dwaas kon wees nie.

Die Sjinees het hom aangekyk en met sy voorvinger teen sy voorkop getik en in gebroke Engels gesê:  But you must remember.  Before tattoo on body, tattoo already on mind.

Wat is op jou brein getatoeëer?

Born to loose?

Want of dit nou ‘n born to lose-houding of ek-het-die-gees-ja-man-ja-houding is; mense gaan jou soos knoffel ruik.  Dit help nie jy praat en sê mooi dinge om hulle te bluf nie.  Dit gaan deur jou hele wese na hulle toe aankom … soos  knoffel.

Kry houding, mannetjie!

Het jý my?

  

A happy person is not a person in a certain set of circumstances but rather a person with a certain set of attitudes.  – Hugh Downs

Life is not about how fast you run or how high you climb
but how well you bounce. –
Vivian Komori 

The most important thing in life is not the triumph but the struggle. The essential thing is not to have conquered but to have fought well. – Pierre de Courbertin 

 

Image: farconville/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading