Tag Archives | Aftree

Aftree: Magies of Tragies?

Wat gaan jy doen as jy aftree?

Hoekom soek mense so naarstigtelik ‘n antwoord op dié vraag?

Aftree sê mos presies wat dit is. Dit is soos om van ‘n trein af te klim wat jou tot by ’n sekere punt gebring het.

Maar as jy jou bestemming bereik, het jy eintlik nog ’n keuse. Bly op die trein, of klim af …

Vir my wil dit lyk of die meeste mense baie versigtig is vir dié aanstap. En spesifiek hoe om alles daaraan verbonde te hanteer. Om sake te vererger, help die polissmouse ook nie om die onstuimigheid in jou gemoed tot bedaring te bring nie, want hulle projeksies wys nooit dat jy ooit genoeg sal hê nie!

Ander weer kan nie wag vir hierdie magiese dag nie, want dit klink vir my of hulle lewe dan eers begin.

Al wat ek oor wonder, is: Hoekom tree jy dan af as jy nie weet wat jy gaan doen nie? Mens klim tog mos nie by enige stasie af nie! As jy dan nie niks wil doen nie (dit is tog wat met aftree bedoel word?) kry nóú jou eendjies in ’n ry.

Moenie wag tot jy nie meer kantoor toe hoef te gaan om uit te vind wat jy met al jou vrye tyd gaan doen nie. ’n Mens kan net só veel vakansie hou, winkel toe gaan of op die stoep sit. Jy gaan ontdek dat die res van die wêreld nog werk en nie vir jou sit en wag nie.

Begin nou al met iets wat jou na aftrede kan besig hou en selfs as ’n nuwe inkomste kan dien. Moet dus nie tot stilstand kom nie, verander eerder net van rigting.

Die tweede ding waaroor ek wonder: Hoekom dan tot by aftrede wag om te begin lewe? Wat maak jy dan nou? Bestaan jy net?

Miskien is ons probleem dat ons groot gemaak is met die idee dat ons moet lewe om te werk en nie werk om te lewe nie! Natalie Babbitt het hierdie lewenstragedie baie raak saamgevat toe sy gesê dat ’n mens nie die dood moet vrees nie, maar ’n lewe wat nie geleef is nie!

Ek moet sê, ek verkies eerder om te hoor dat mense wil weet wat ek na aftrede gaan doen, as dat iemand sê hy het nog net vyf, vier, drie, twee, een jaar oor voor hy aftree.

Laasgenoemde het reeds afgetree, maar besef dit nie. Behoede die werkplek wat vir die volgende vyf, vier, drie, twee, een jaar ‘n oorklimstasie na AFTREE word!

Aftree is eintlik net ’n syfer. ‘n Syfer wat deur werkgewers bepaal word.

Dit is wat jy met daardie syfer gaan doen, wat regtig saak maak.

You get old faster when you think about retirement. – Toba Beta

The trouble with retirement is that you never get a day off. – Abe Lemons

Don’t simply retire from something; have something to retire to. – Harry Emerson Fosdick

Image: Stuart Miles/FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading

Memories, Moments en Magic!

Die lewe is só kort en te veel mense wil net met alle mag aftree. Dié begeerte is amper so groot soos hul Lotto-droom …

My vraag is: Wat dan?

Gaan jy op die spreekwoordelike stoep sit en wag vir die spreekwoordelike koeie om huis toe te kom?

Jy gaan lank wag, want daar is min mense wat dit kan regkry. Ek bedoel; min met genoeg finansies in die agtersak wat dié stoepsittery vroeg kan doen.

Die geheim lê, soos Boerneef dit gestel het, tussen die begin van die ding en die end van die ding. Of eenvoudiger gestel, dit lê in timing.

En om te weet dat ’n mens in die tyd waarin ons leef, nie eintlik gaan aftree nie.  Jy verander net so ietwat van koers en tempo.

Johann Coetzee skryf in sy boek It’s About Time dat ’n mens nie moet wag dat iets dramaties jou tref voor jy oor die tyd tot jou beskikking begin wonder nie.

Moenie wag vir eendag om voluit te begin lewe nie. Moenie wag vir die dag as jy aftree dat jy dít of dát gaan doen nie. Die werklikheid is dat dit dan vir die meeste mense te laat is.

Te laat om valskerm te gaan spring, te laat om die verlore tyd met geliefdes in te haal, te laat om nog te wil sê hoe lief jy hulle het. Te laat …

Die tyd is nou. Nie netnou nie. Nou!

Dit is nóú die tyd to Make memories! Make moments! Make magic!

 

Life is what happens to you while you’re busy making other plans. – John Lennon

Magic is believing in yourself, if you can do that, you can make anything happen. – Wolfgang Von Goethe

Don’t simply retire from something; have something to retire to. – Harry Emerson Fosdick

 

Kontak vir It’s About Time: jjlc@mweb.co.za

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading