Moet op prinse nie vertrou nie.

Wat is dit met ons rolmodelle dat hulle so sukkel om staande te bly?

Raak al die aandag en geld net te veel? Maak al die bewondering en gedurige in die kollig wees dat hulle onaantasbaar en verhewe bo die gewone en alledaagse begin voel?

Eers is dit Hansie wat aan ’n duur Indiese samoesa verstik. Toe Tiger wat oor sy gholfstok struikel en daarna vriend Lance wat hom uit sy fiets uit verneuk. En nou is dit onse Oscar wat dink hy is die enigste sheriff in Pretoria.

Paddy Upton (prestasiebestuurder van die Proteas) meen dat mense geneig is om kampioene spesiaal te behandel. Maar hy waarsku ook dat 80% van bergklimmers wat die hoogste piek bereik, hulle nadat hulle die kruin bereik het, doodval. Dieselfde gevaar staar kampioene wat op die kruin van die golf ry, volgens hom, in die gesig.

Behalwe die naar kol op my maag oor my rolmodelle se doen en late, maak hulle eskapades dat ek al my aanbiedings oor rolmodelle moet gaan oordoen. Ek kan hulle nie meer op die rolmodeltroontjie sit en aan mense as die voorbeeld van waarna ons moet strewe, voorhou nie.

Of miskien kan ek nou juis, want dit is dalk ons wat vergeet dat hierdie rolmodeltroontjie nie uit klip gekap is nie, maar uit klei. Net soos die klei waarin ons met ons eie ou voetjies staan.

Al weet ons baie goed dat mense feilbare wesens is, plaas ons hierdie kampioene, helde en celebs tog te graag op die troontjie. En as hulle daar affoeter, is ons geskok. Ons gryp na ons harte en snak na ons asem en wonder hoekom. Hoe kon hulle? Meer nog; hoe durf hulle!

Die Bybel waarsku ons tog al vir eeue: Vertrou nie op prinse, mensekind, by wie geen heil is nie (Ps. 146:3). Maar steeds luister ons nie!

Ons gaan voort om mense te verafgod omdat hulle ’n bal kan skop of ’n noot kan sing. Of ’n filmster omdat sy woorde kan opsê wat iemand anders vir haar geskryf het. Self het hulle niks meer as ek en jy bereik nie. Meer in die kollig en meer geld ja, maar niks minder voete van klein as ons nie.

Ek is oortuig, nou meer as ooit, dat dit tyd geword het dat ons na die ware helde in die wêreld gaan soek. Gewone mense wat elke dag hulle bes probeer om hulle werk so goed as moontlik te doen en onder die moeilikste omstandighede vir hulle kinders kos op die tafel sit.

Daardie skoonmaker op die skoolgronde wat nie die voorreg gehad het om teologie op Potch te gaan swot nie, maar wat Saterdag na Saterdag in die derdeklaswa vir die dronkes en eensames op pad na nêrens preek.

Die vrou wat nooit geleer het om ’n musiekinstrument te bespeel nie, maar elke week die siekes in Worcester se hospitaal begelei en voorgaan in die sing van lofliedere.

Die bode en sy vrou in Heideveld wat nou al tien kinders in hul huis het. Net twee hul eie. Die res wees- en hawelose kinders van die gemeenskap. En elke keer as daar nog een aankom, kry hulle nog ’n gaatjie waar hy/sy kan slaap!

Hierdie is ons ware helde! Hulle dra nie make-up of verdien miljoene in borgskappe nie. Van hulle kan nie eens ’n bal slaan of skop nie. Sommige van hulle sing erg vals en party is nie eens mooi om na te kyk nie. Gelukkig weet hulle nie van die kollig nie, want die meeste het nie eens elektrisiteit nie!

Terwyl ons helde met vervelige reëlmaat om ons val, is dit dalk nou die tyd dat ek en jy weer ons supermanonderbroek aantrek en die rolmodelle word wat van ons verwag word. Moenie skrik nie! Jy hoef nie die wêreld oor heldedade te gaan verrig nie.

Net daar waar jy moet. In jou gesin, by die werk en tussen jou vriende.

Dit is nou tyd dat ons land se kinders weer soos hulle ouers wil wees. My pa is die sterkste en my ma die mooiste …

Al is hulle voete is van klei. Hulle gly en val, maar staan elke keer weer op.

Maar op die wêreld se prinse vertrou hulle nie.

A hero is a man who does what he can. – Romain Rolland

A hero is someone who understands the responsibility that comes with his freedom. – Bob Dylan

A hero is not braver than an ordinary man, but he is brave five minutes longer. – Ralph Waldo Emerson

Image: siraphat/FreeDigitalPhotos.net

(Visited 1,081 times, 1 visits today)

, , , , , , , ,

12 Responses to Moet op prinse nie vertrou nie.

  1. magda basson February, Wednesday 27 2013 at 8:45 am #

    Ek stem saam. Dit voel vir my so asof die mense hulle held die slagoffer wil maak. Geld kan nie alles koop nie!!!! al probeer die mense hoe hard. Ek sê altyd almal is gelyk maak nie saak wie jy is nie, pary het net meer kanse in die lewe gehad. Maar dit maak nie van jou ‘n swakker persoon nie!!!

  2. Marlize Combrinck February, Wednesday 27 2013 at 11:28 am #

    Baie mooi gesê, net God sal nie teleurstel nie!

    • Rian Truter February, Wednesday 27 2013 at 4:20 pm #

      Dankie, Marlize! Jy is reg. Sela en baie seen!

  3. Nico bezuidenhout February, Wednesday 27 2013 at 3:29 pm #

    Ek wil so baie sê en ek tik heeltemal te stadig vir my brein of my mond.
    So hier ‘n stukkie van my gedagtes.

    Miskien moet ons wegkom van rolmodelle. Ek dink dit is ‘n onding! Dit maak dat ons mense uitsonder op wie ons kwansuis ons lewe/loopbaan/talent wil baseer. Dit maak ons armer. Kom ons leer eerder met ‘n oop, leergierige ingesteldheid te leef. Ons kan by soveel mense om ons leer(nie noodwendig supersterre nie), maar… ons ag hulle nie waardig nie. Nee, hulle is mos nie die beste nie. En mammies en pappies… dit begin klein klein. Julle is baie keer die sondebokke. My kind moet net die beste afrigter hê. Die beste sondagskool juff. In die beste skool wees. En wanneer hulle volwasse mense is, dan kan jy hulle niks leer nie, want hulle het by die “bestes” geleer. Hoe arm is ons nie dan nie. En wat het hulle om te gee as hulle hul lewe lank net geleer het om aan hulself te dink?

    Kom ons leer ons kinders van jongs af om kwaliteite in ander mense se lewens raak te sien en te waardeer, ongeag wat sy/haar posisie in die samelewing is.

  4. Rian Truter February, Wednesday 27 2013 at 4:18 pm #

    Raak gevat, Nico! Dankie vir die comment. Hou my plekkie warm daar in OL. Groete

  5. Erich February, Wednesday 27 2013 at 8:44 pm #

    Jy het’n groot ding hier aangeraak Rian, miskien is dit goed. Die situasie met Oscar laat baie mense dink, bespiegel en so baie wil graag die swart en wit antwoord hê? Is jy vir of teen Oscar? Ons het hier te doen met die onvolmaaktheid van die mens aan die een kant en (kan ek nog ‘n klip in die bos gooi)status aan die ander kant. Status in die opsig dat my assosiasie met Oscar of ‘n held in watter mate ook al my goed laat voel…my miskien selfs laat vergeet van my eie foute. Miskien is dit onbewustelik deel van ons heldeverering…die brein se natuurlike behoefte aan status, dat ek my heeltyd meet en vergelyk met die voor my, agter my……dan die ander kant, wie wil met onvolmaaktheid assosieer? Miskien die ware helde…die een wat op die Heideveld die onvolmaakte kind inneem? Miskien is dit die een wat met nederigheid langs Oscar sal gaan sit en vir hom kan sê, ongeag wat jy nou deurmaak, ek is aan jou kant….jy is mens en jy het my baie te bied. Miskien laat die kunsmatigheid van ons helde ons nie toe om werklik van hul menswees te leer nie, die afstand tussen ons en hulle is net te groot. Maar dan, dalk het dit tyd geword dat ons gewone mense, ons ware helde se heldedade begin kommunikeer… knap gedaan met jou skryfwerk!

  6. Rian Truter February, Wednesday 27 2013 at 10:35 pm #

    Dankie vir saam dink en praat oor hierdie onderwerp, Erich! Waardeer jou insette. Mooi loop!

  7. Pierre Hauman February, Thursday 28 2013 at 11:11 am #

    Hallo Rian
    BAIE dankie hiervoor!! Dit is so waar, en mens kan nie genoeg hieraan herinner word nie. Ek en iemand praat juis gister oor iets sootgelyks: ‘n hele aantal jare gelede het ‘n TV-ou ‘n onderhoud met Werner Greeff gevoer net na hy – as ek reg onthou – die wenpunte vir ons aangeteken het in ‘n toets teen die All Blacks. Hy wat Werner is het dit dan blykbaar ook nie maklik gehad as kind nie. Die ou vra toe: “Jou ma is darem seker baie trots op jou?” en hy antwoord: “Nee, ek is baie trots op haar.” Dit bly vir my iets baie moois.
    Groete, en doe zoo voort
    Pierre

  8. Rian Truter February, Thursday 28 2013 at 1:55 pm #

    Dankie, Pierre! Ken vir Werner. Hy was in matriek by ons in DF Malan. Presies soos hy is. Voete stewig op die aarde. Roem het nooit na sy kop toe gegaan nie.

  9. Pierre Potgieter March, Monday 4 2013 at 2:58 pm #

    Hallo Rian
    Lees nou eers jou e-pos en hoe waar is dit nie alles nie. As opvoeder bly dit vir my ‘n uitdaging om my personeel aan te moedig om rolmodelle te wees ner daar waar dit saakmaak. In die klaskamer, op die sportveld tussen ander waar hulle ookal met ons kinders beweeg. My standerd 4 onnie by Laerskool Stulting op Humansdorp was Mnr. Piet Slabbert en wat ‘n rolmodel was hy nie.Sal hom altyd dankbaar wees vir sy invloed op my lewe. Hoop maar net dat ek ook EEN kind kan bereik teen die tyd wat ek aftree.

    Doen so voort!

    Pierre

    • Rian Truter March, Tuesday 5 2013 at 10:05 pm #

      Dankie, Pierre! Ek is seker jy maak ‘n verskil! Onthou die een seester wat terug gegooi word. Dit maak beslis vir hom saak! Mooi loop!

Leave a Reply