Lekker op die plaas!

 

Beyers en die krewe van Vermont

Dit moes darem seker lekker gewees het om op só ’n plaas te kon grootword?

Mense maak baie keer hierdie opmerking as hulle hoor dat ek en Beyers broers is.  Min wetend dat die plaas waarop ons grootgeword het, ’n agterplaas in Kaapstad was!  Bygesê, ’n grote, maar darem nog nie só groot dat ’n mens dit ’n plaas kon noem nie.

Behalwe dat Beyers, vir ’n stadsjapie ’n merkwaardige pad in die Suid-Afrikaanse wynbedryf geloop het, is hy ook ’n besondere mens.  Ek hoor al hoe sê jy dis maklik om so te sê, want hy is jou broer!  Wat kan jy nou eintlik anders sê?

Maar Beyers is nie net ’n wynmaker nie.  En dis ook nie van sy wynmaakvaardighede wat ek wil vertel nie; dit kan jy op ander plekke van gaan lees.  Hy is ook politikus, kerkmens, kosmaker, geselser en ’n mens-mens.  En dit is oor sy  omgee vir mense wat ek wil vertel.

Behalwe vir sy omgee vir elke mens, is dit veral die lot van die mense op Stellenbosch se plase wat hom naby aan die hart lê.  Dit was dan ook om onder andere na hulle belange om te sien dat hy figuurlik gesproke op ’n trekker, met die leuse Stem Trekker en maak die plaaslewe lekker, die plaaslike politiek binnegery het. 

Seer sekerlik een van die uitdagendste probleme wat die wyndistrikte in die gesig staar, is fetale alkoholsindroom.  Baie van die gesinne in die wynland word deur alkoholmisbruik geraak; waarvan fetale alkoholsindroom slegs een aspek is.

Die meeste swanger vroue wat hulle aan alkoholmisbruik skuldig maak, besef nie eens die skade wat hulle aan hul ongebore kind aanrig nie.  Hulle het in die meeste gevalle geen, of die verkeerde, voorligting rakende alkohol en swangerskap ontvang.

Die hartseer van verstandelike vertraging en geboortedefekte as gevolg van fetale alkoholsindroom het by Beyers gespook om iets aan hierdie saak te probeer doen.

Hy stig dan ’n paar jaar terug as ’n nie-winsgewende artikel 21 maatskappy die Beyers Truter Fetale Alkoholsindroom Hulpfonds.  Saam met prominente Suid-Afrikaners soos Chester Williams en Mbhazima Shilowa het hulle net een doel voor oë – om fetale alkoholsindroom vir eens en altyd op sy plek te sit.  Deur middel van die Fonds hoop hy dat hulle genoeg fondse sal genereer om programme te implementeer wat hierdie probleem effektief sal kan aanspreek.

Klik op die Faith-ikoon regs van hierdie blog as jy meer van die Faith Fund wil weet. Of as jy voel jy wil ’n bydrae vir hierdie goeie saak maak.

Pinotage-koning; eerder dienaar.  Nie op ’n troon nie,  maar plat op die aarde tussen sy mense.

Dis my broer, Beyers.

 

A benefit consists not in that which is done or given, but in the intention of the giver or doer. – Seneca

Beyers is a great speaker; like Peter de Villiers, he doesn’t always make sense but he’s fascinating to listen to! – Koos Kombuis

Everybody can be great…because anybody can serve. You don’t have to have a college degree to serve. You don’t have to make your subject and verb agree to serve. You only need a heart full of grace. A soul generated by love.   – Martin Luther King, Jr.  

All you have shall some day be given; 
Therefore give now, that the season of giving
may be yours and not your inheritors. – Kahil Gibran

  

(Visited 378 times, 1 visits today)

, ,

8 Responses to Lekker op die plaas!

  1. Este June, Thursday 14 2012 at 8:02 am #

    Baie mooi!!

  2. magda basson June, Thursday 14 2012 at 8:46 am #

    Sy wyn is darem lekker!!!! so plat op die aarde.

    En baie geluk oupa met die kleinkind – hoop sy bring baie vreugde.

  3. Pierre Hauman June, Thursday 14 2012 at 1:43 pm #

    Dankie, Rian! Met so ‘n broer kan mens maar spog! En die aanhalings, veral dié van Marthin Luther King, is vir my baie treffend. Groete

    • Rian Truter June, Thursday 14 2012 at 4:32 pm #

      Dankie, Pierre! Waardeer jou opmerking(s) en die lees van P&J!

  4. Hawkie June, Wednesday 20 2012 at 4:22 pm #

    Beyers se kleinkind is by ons in die skool , so hy behoort eintlik sy vrygewigheid uit te brei ……Lekker leesstof!!

    • Rian Truter June, Wednesday 20 2012 at 5:28 pm #

      Dit is beslis die minste wat ek sou verwag, Hawkie! Sal met hom praat!

Leave a Reply