Kreatief in slegs 8 minute!

My goeie vriend Gillian Arendse sê graag die volgende: Djy is kwaai gebore my broe…

Wat hy eintlik hiermee bedoel, is dat jy met soveel natuurlike talent en potentiaal gebore word, dat jy in staat is om enige iets te kan doen.

Jy word gebore met die potensiaal om ’n ontwerper, leier, skilder, wynmaker, dosent of master chef te word. By gesê; as jy nét wil!

Die vraag waarmee ek bly worstel, is: wat word by die meeste mense van hierdie natuurlike genialiteit en kreatiwiteit?

Wie ontwurm ons genialiteit en kreatiwiteit?

Moet ons ’n skoolstelsel, wat ons dwing om binne die lyne in te kleur en wat veroorsaak dat ons ons glad nie ons hand wil opsteek as iemand vra of jy kan sing nie, hiervoor blameer?

Of het ons net vroeg geleer dat om goed op skool te doen, nie oor persoonlikheid, oorspronklikheid of kreatiwiteit gaan nie.  Sukses op skool word eerder gemeet in die gee van die regte antwoord en in die vermoë om die vernedering wat met foute en mislukking gepaard gaan, te vermy.

Op die ou einde is dit net makliker om te sê: ek weet nie of ek het nie die talent nie. En om te glo dat ander mense al die kreatiwiteit besit en ek nie.

Robert McCammon noem in sy boek Boy’s life dat ons almal met die kennis van magic gebore word. Maar dat …we get the magic educated right out of our souls. We get it churched out, spanked out, washed out and comed out.

Nou hoe wurm ’n mens hierdie magic, of eerder kreatiwiteit, in jou lewe terug?

In die boek Creativity on Demand van Michael J Gelb word vertel van Vanda North wat verskeie terugslae in haar lewe beleef het. Nie alleen is haar besigheid gelikwideer nie, maar boonop verbrokkel lewenslange verhoudings en geliefdes sterf.

Op sestig moes sy diep grawe om kreatiewe oplossings vir al haar probleme te vind, maar volgens haar is … a creative mindset the most important when we face uncertainty and adversity.

Vanda maak van ‘n eenvoudige 8 minute proses (een minuut vir elk van die agt stappe) gebruik. Sy het hierdie oefening vir die bevordering van ’n kreatiewe ingesteldheid saam met Richard Israel ontwikkel.

Hier is die agt stappe (onthou alle stappe duur een minuut elk.):

  1. Trek jou asem tot diep in jou maag in. Laat toe dat jou maag uitsit en dan na die natuurlike vorm terug keer as jy uitasem.
  2. Konsentreer nou vir die tweede minuut op die hede. Die nou. Kyk na die minuutwyser op jou horlosie en probeer vir hierdie minuut net aan die woord een dink. Wanneer ‘n indringergedagte ontstaan, beweeg aan na die volgende syfer byvoorbeeld twee, drie ensovoorts. ’n Syfer vir elke gedagte. Kyk op watter syfer jy aan die einde van die minuut eindig! Die doel van hiertoe stap is om die telling op een te probeer hou!
  3. Kyk nou terug oor die afgelope 24 uur om te sien waar jy positiewer, meer behulpsaam of kreatiewer kon opgetree of gekommunikeer het.  Tel hierdie gevalle op jou nie-dominante hand.
  4. Volgende, kyk terug oor die afgelope 24 uur om te sien waar jy wel positief, behulpsaam en kreatief opgetree of gekommunikeer het. Tel dié gevalle hierdie keer op jou dominante hand. Vasbyt! Jy is nou halfpad daar!
  5. Let nou weer op jou asemhaling, die liggaamlike sensasies en gevoelens wat jy op hierdie oomblik ervaar.
  6. Verbeel jou nou jy asem kreatiewe energie tot diep tot in jou maag in. Fokus op die positiewe eienskappe en optredes wat jy graag wil verpersoonlik. As jy jou asem uitblaas, verbeel jou jy raak van alles wat stres kan veroorsaak, ontslae.
  7. Visualiseer die volgende 24 uur. Hoe wíl jy dink, voel en optree? Skep ‘n positiewe visie van jou volgende dag.
  8. Laat ’n gevoel van diepe dankbaarheid vir alles wat jy ontvang het en nog kan ontvang, oor jou spoel. Dankbaarheid versterk jou immuunstelsel, verbeter jou gemoedstoestand en veroorsaak ‘n gesonde vloei van kreatiwiteit.

Die geheim met bogenoemde is dat jy agt minute in jou besige dag móét opsy sit om dié oefening te doen.

Hoor ek jou sê juffrou Rottenmeier het al jou kreatiwiteit in graad twee opgevoeter? Of dat jy nie die tyd het nie?

Bog, twak en onsin!

Máák ’n slag tyd om jou kop oop te kry. Raak ontslae van alle blokkasies wat jou natuurlike kreatiwiteit onderdruk en versmoor.

Lees gerus die boek van Michael J. Gelb  – jy hoef nie al die oefeninge te doen nie!

En as ek jou weer sien, dans jy, já jy, op die tafel!

 

Creativity is not a talent. It is a way of operating. – John Cleese

If children grew up according to early indications, we should have nothing but geniuses. – Johan Wolfgang von Goethe

Indeed, our power of imagination makes us infinite. – John Muir

 

Bucket of flowers - David Clark-Brown 2013

Fullcolour Bottleform Ball - Heath Nash 2012

Sureroad PPC Cement Laptop Bag - Wren Wrenden Setzer 2014

Foto’s geneem by Makers + thinkers (Cape TownWorld Design Capital 2014)

Out of Box image: kibsri at FreeDigitalPhotos.net

 

(Visited 449 times, 1 visits today)

, , , , , , ,

10 Responses to Kreatief in slegs 8 minute!

  1. Ian Brand October, Tuesday 21 2014 at 4:55 pm #

    Skitterend Rian! Baie dankie!

  2. Rian Truter October, Tuesday 21 2014 at 6:23 pm #

    Dankie, Ian! Mooi loop!

  3. Cari October, Wednesday 22 2014 at 8:26 am #

    Presies wat ek vandag nodig gehad het om te lees, pappa. Baie goed!! xxx

  4. erich October, Thursday 23 2014 at 9:44 pm #

    Dankie Rian……het verlede week teruggekom van die 20ste kreatiwiteitskongres in afrika…..

    So lekker….impossible staan nie vir onmoontlik nie….net vir dis nog nie gedoen nie. Everything IS possible.

    Dankie vir die skryf!

  5. Rian Truter October, Thursday 23 2014 at 9:51 pm #

    Plesier! Klink of dit ‘n WOW was! Kry jou klimskoene reg; Summit begin volgende week in alle erns. Mooi loop!

  6. Pierre Potgieter October, Friday 24 2014 at 1:29 pm #

    Baie dankie Rian. Dit lyk of ek jou volgende jaar gaan join. Jou naweek is net voor my eerste jagnaweek. sien uit daarna.

    geniet more die rugby.

    • Rian Truter October, Monday 27 2014 at 8:08 am #

      Fantasties! Al die info kom hierdie week na jou toe deur. WP jou lekker ding!

  7. Chilida November, Tuesday 18 2014 at 5:44 pm #

    Rian, Ek is mal oor hierdie 8 minute plan! Het na jou blog kom loer – want ons is in die bevoorregte posisie om jou hierdie naweek by voorbereidingskool Fanie Malan te ontvang. Nou kan ek nie wag nie!

    Upington groete

    • Rian Truter November, Tuesday 18 2014 at 9:57 pm #

      Chilida – Dankie vir die lees van P&J. Waardeer. Sien komende naweek. Mooi loop. Rian

Leave a Reply