Daar is iets aan Kersfees wat my weemoedig maak.
Van my pêlle meen dit het met die ouderdom te doen; hulle behoort te weet, want hulle is ouer as ek.
Dalk is dit die onthou van mense wat nie meer daar is nie of dalk is dit die oppervlakkige gejaag van hierdie tyd van die jaar?
Of dalk is dit die wete dat ek nog meer kon gedoen het. Nie harder gewerk het of meer ure agter die lessenaar ingesit het nie, maar …
Ek kon baie meer weggegee het. Ek kon baie meer kospakkies gekoop het. Baie meer skoolklere en -skoene geborg het. Kon baie meer parkeergeld vir die ou by Tygervallei gegee het…
Helder oomblik… ek snap dit! Nou weet ek waarom die droewigheid vlak agter my traankliere inkruip.
Dit is omdat Jesus só alles vir my gegee het.
Kersoggend op Onrus sal my keel weer toetrek as Koos Dup se Somerkersfees gesing word:
welkom o stille nag van vrede
onder die suiderkruis
wyl stemme uit die ou verlede
oor sterrevelde ruis
kersfees kom, kersfees kom …
Gelukkig kan ek in 2013 weer probeer.
Aan almal wat Piesangs & Jellietots lees: ‘n baie geseënde Kersfees en ‘n opwindende 2013! Mag jy die volgende paar weke met nuwe oë na elke sterretjie in die Kersboom kyk. Mag jy lig inpak vir 2013 sodat ons ons bondels kan opneem om in die nuwe jaar ’n verskil te gaan maak.
Drie outas het in die vaal Karoo
die ster gesien en die engel geglo,
hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met ’n jakkalspad.
Al agter die ding wat skuiwend skyn
op ’n plakkie, ’n klip, ’n syferfontein,
hulle loop toe nog ’n bietjie wes
tot waar ’n kersie brand in ’n stukkende fles,
en daar tussens esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.
Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong
en die Here gedank in gesang en gebed
vir ’n kindjie wat ook dié volk sou red …
En oor die hele affêre het uit ’n hoek
’n broeis bantam agterdogtig gekloek.
– DJ Opperman (Kersliedjie)
En die koppie is darem in die Kaap 😉
Dit is net soos jy daar se!
Baie mooi boodskap, geniet Onrus!
Dankie, Stoney! Sal so maak.
More Rian, Baie dankie vir die afgelope jaar se Piesangs en Jellietots. Ek wens jou en jou familie ook ‘n wonderlike Christusfees toe en mag 2013 vir julle ‘n spesiale jaar wees.
Groetnis uit die Oos-Kaap.
Pierre
Dankie, Pierre! Die mooiste ook vir jou en jou geliefdes!
Ja, baie dankie Rian vir ‘n altyd verfrissende boodskap wat jy vir ons geskryf het gedurende die jaar. Mag jy en jou familie baie geseënd wees en alles van die beste vir 2013. Ons sien uit na die nuwe jaar se boodskappe of geselsies.
Dankie Magda! Die mooiste vir jou en jou geliefdes hierdie Kerstyd!
‘n Geseënde Kersfees word ook vir jou en jou gesin toegewens! Geniet die wegbreek en vat maar genoeg rooies vir die are!! Baie dankie vir die jaar se lekker leesstof!!
Dankie, Pierro! Sal so maak. Mooiste ook vir jou en jou geliefdes.
Beste Rian, die mooiste wense vir jou, Elsa en jul familie gedurende hierdie Kerstyd. Rus lekker uit op Onrus!
Baie dankie, Ian! Selfde vir jou en die gesin.