Die klein jakkalsies.

Mense kan nogal groot rampe oorleef.

Dink maar aan oorloë, konsentrasiekampe, natuurrampe, siekte, moord en misdaad.  Baie mense ervaar hierdie verskillende vorms van hel elke dag, maar dit is asof die wat dit oorleef, sterker aan die ander kant van dié donker tonnel uitkom.

Maar dit is baie keer die klein dingetjies in die lewe wat jou amper van jou trollie laat aftuimel! Regte onbenullighede as hulle teen die groter dinge van die lewe gespieël word.

My eie klein jakkalsie, wat my omtrent elke keer oor die afgrond van moedeloosheid en magteloosheid dryf, is ‘n leë kramdrukker! Veral as ek  papiere met oorgawe aan mekaar wil kram en die verdomde drukker dan net so ‘n staal-op-staal-geluid baar. Klang!

Die teleurstelling is soos om vir die glimlag van ‘n mooi meisie te wag, maar dan, as sy glimlag, te ontdek sy is tandloos. Die ene gums!

In my toestand van frustrasie wonder ek dan hoekom het die persoon wat die kramdrukker voor my gebruik het, dit dan nie weer volgemaak nie? Maar hoe moes hy geweet het dit was die laaste krammetjie? Die masjien sê dit nie vir jou nie! Miskien is dit ‘n idee vir die nuwe Apple van kramdrukkers? ‘n Aanduider wat vir jou sê daar is nog net vyf, vier, drie, twee, een krammetjie oor.

My vriend Jakkie sê weer ‘n geroeste skuifspeld (paper-clip vir diegene onder 40) breek sy spoed. Veral daai roesbruin strepe wat die speld op sy pragtige wit papier trek!

Ek is oortuig dat almal van ons wat met papier werk, Jakkie se frustrasie deel en ken. Maar die ergste hiervan is dat ons dit nog steeds oorkom! Ons  weet baie goed die geroeste skuifspeld gaan die papier bemors, maar word deur die jakkalsies in ons brein omgehaal dat dit nie hierdie keer sal gebeur nie. En dan doen ons dit weer!

Die oplossing met hierdie klein jakkalsies in ons lewe is om dalk met hulle te maak soos met die klein bobbejaantjie wat mense op jou skouers kom aflaai. As hulle eers die bobbejaantjie aan jou oorgegee het, stap hulle weg en wil om elke hoek en draai by jou weet hoe dit met die bobbejaantjie gaan.

Die bobbejaankenners sê daar is net twee maniere om hierdie probleem op te los. Jy moet óf die bobbejaan voer óf jy moet dit skiet. Alles natuurlik figuurlik gesproke.

Miskien ook só met die klein jakkalsies?

Laat weet watter klein jakkalsies jou teen die muur laat opklim.

 

I don’t have pet peeves; I have whole kennels of irritation. – Whoopi Goldberg

Dit is die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. – Afrikaanse idioom

I have always had a talent for irritating women since I was fourteen. – Marilyn Monroe

 

Image: Gualberto107/FreeDigitalPhotos.net

 

 

(Visited 4,222 times, 1 visits today)

, , , ,

4 Responses to Die klein jakkalsies.

  1. Eugene December, Thursday 5 2013 at 12:52 pm #

    1) As ek nie die begin van ‘n toiletrol vinnig kan kry om die sitplek af te vee nie
    2) As ek op die toilet sit en dan agterkom die toiletrol is klaar
    3) As ek in klein spasie moet werk soos onder ‘n wasbak en ek kan nie iets los kry nie

    • Rian Truter December, Thursday 5 2013 at 2:48 pm #

      Dankie, Eugene! Waardeer die saam praat. Mooi loop!

  2. Catherine August, Tuesday 2 2016 at 4:41 pm #

    My klein jakkelsie is woordewisseling. Ek kan dit nie duld as ek n stry met my familie het nie. Ek het geen geduld nie en wil altyd die laaste woord in kry.

    • Rian Truter August, Wednesday 3 2016 at 1:16 pm #

      Dankie vir die saam gesels, Catherine! Mooi loop!

Leave a Reply