Die Here sal jou seën, Meneer.

My bakkie staan nou die oggend in die oprit, want ek moes weer uit om iets te gaan haal.

’n Fout, want lyk my ’n voertuig in die oprit is ’n ope uitnodiging vir almal wat verby loop om die deurklokkie te kom lui.

Eers die fietspatrollieman wat rekenaaronderdele vir sy kind soek.

Net my sit agter die rekenaar gekry, toe lui die voordeurklokkie weer!

Ek is skielik vies vir my wat die bakkie buite gelos het en vir almal wat die klokkie lui.

Seker weer iemand wat iets kom bedel!

Met ’n beswaarde gemoed ruk ek die deur oop en daar staan sy. Middeljarig en netjies.

Het meneer nie iets vir…

En voor sy die bekende rympie kan voltooi, vertel ek haar dat tussen haar en die vorige hulpbehoewendes, die kerk en die belastinggaarder is ek een van die mooi dae saam met haar besig om voordeurklokkies te lui.

Want sien, speel ek my troefkaart, net gister het ek vir meer as vyf uur by die Departement van Arbeid gaan toustaan om my werkloosheidversekering te gaan kollekteer.

Eintlik soek sy hulp by die verkeerde mense, want ek is ook hulpbehoewend. Dink sy, ons wat hier bly, is ryk en daarom kom soek sy hier hulp?

Meneer, dis nie eintlik wat ek gemeen het nie. Ek was ’n seamster wat met die overlocker gewerk het en verlede Desember het die baas ons net so gelos en verdwyn.

Nou bly ek by die inlaws in die agterplaas.  Toe ek gewerk het, het hulle graag die groceries by my gevat.  Nou eet hulle voor die kinders!

Het meneer nie dalk net ’n glas yswater vir my nie? En ek wonder wat is dit met mense wat bedel en yswater? Is koue water nie goed genoeg nie?

Terug kombuis toe om die water te gaan haal, moet ek by my beursie verby en dié praat met my. Amper soos die advertensie op TV.

Ek haal ’n groen noot en ’n paar muntstukke uit en neem dit saam met die yswater deur toe.

Wat is jou naam? vra ek.

Lillian, meneer.  Dankie meneer, en haar oë skiet vol trane toe sy die geld en water vat.  Ek het nog nooit die soort ding gedoen nie. Dankie meneer, die Here sal meneer seën.

Terug by my lessenaar kry ek nie my sit nie, want Lillian se oë kyk te diep in my siel.

Ek staan op en vat die groot noot uit my beursie en gaan soek na Lillian in die straat.

Twee huise verder af sien ek haar. Sy stap stadig.

Lillian, roep ek haar en stap tot by haar.

Ek het jou geld gegee, sê ek.  Ek wil dit terug hê.

Lillian se oë rek, maar sy grawe in die sak en haal die geld uit en gee dit vir my.

Ek het nou só groot geskrik! Het ek iets verkeerd gedoen?

Nee, wil ek sê, dis nie jy wat iets verkeerd gedoen het nie, dis eintlik ek.

Nee, Lillian. Daar is nie fout nie.  Ek wil net die geld wat ek vir jou gegee het, met dié omruil.

En toe breek die damme agter Lillian en my oë en spoel twee vreemdelinge vir ’n oomblik saam op die eiland van menswees uit .

Meneer, ek gaan nou dadelik huis toe. Die Here sal jou seën, meneer!

Dankie, Lillian. Dis eintlik nie nodig nie, wil ek sê.

Want ek het net vanoggend weer besef dat die Here het my al lankal geseën het!

 

Grace is not part of consciousness; it is the amount of light in our souls, not knowledge or reason. – Pope Francis

I do not at all understand the mystery of grace – only that it meets us where we are but does not leave us where it found us. – Anne Lamott

I am only one, but I am one. I cannot do everything, but I can do something. And I will not let what I cannot do interfere with what I can do. And by the grace of God. I will. – Edward Everett Hale

 

 

 

 

 

(Visited 323 times, 1 visits today)

, , , , ,

10 Responses to Die Here sal jou seën, Meneer.

  1. Pikkie March, Thursday 5 2015 at 7:51 pm #

    Hel Rian dit was nie vir my ‘n surprise nie – dis soos jy is en ek jou ken.
    Groete

    • Rian Truter March, Thursday 5 2015 at 9:49 pm #

      Dankie Pikkie! Ook vir die lees.

  2. Martina March, Friday 6 2015 at 8:05 am #

    Wonderlik! Dankie Rian. Dis hoekim jy nie meer in ‘n kantoor sit nie. Ek sal jou navolg.

    • Rian Truter March, Friday 6 2015 at 8:12 am #

      Soos jy daar sê… met alles is daar ‘n rede! Dankie vir die lees!

  3. Jacob Rheeder March, Friday 6 2015 at 8:53 am #

    Ek gaan trek my bakkie nou dadelik uit die waenhuis uit

    • Rian Truter March, Friday 6 2015 at 7:41 pm #

      Mens leer nogal mense ken as jou bakkie buite staan, Jakkie! Maar jy hoef nie. Jy reis so veel paaie en plekke… Mooi loop!

  4. Pierre Potgieter March, Monday 9 2015 at 12:18 pm #

    Rian, jy laat ‘n ou sommer grens. Ons is werklik geseen en kan leer deur hierdie voorbeeld van jou.

  5. Rian Truter March, Monday 9 2015 at 2:24 pm #

    Dankie vir die lees, Pierre!

  6. Gys March, Wednesday 11 2015 at 11:39 am #

    wonderlik, maar ek bly die vraag afvra kan ‘n mens vir elke bedelaar wat op die straathoek staan en by deure aanklop om hulp ‘n groot noot die hand in stop?

  7. Rian Truter March, Wednesday 11 2015 at 12:16 pm #

    Gys, dink nie so nie. ‘n Mens moet maar na jou siel probeer luister en hoop jy hoor reg! Dankie vir die lees en mooi loop!

Leave a Reply to Gys Click here to cancel reply.