Archive | Reis

Wie is die grootste?

 

IMG_2866

Van die Groot Vyf net buite Letaba.

Sjoe! Ek het lanklaas iets gepost!  Maar liewers lank as nooit!

Ons is pas terug van ’n wonderlike besoek aan die Kruger Park. En laat ek dadelik sê, die Kruger is nog net so ’n belewenis soos toe ek ’n kind was. Tye het verander en so ook die Kruger, maar die diere lyk en doen nog steeds soos  in 1960.  Al wat nie wil verander nie, is sommige mense wat terug hunker na soos toe  dit was… Vir diegene stel ek voor: Besoek volgende keer Jurassic Park!

Maar dit is nie waaroor ek wil gesels nie.

Die Groot Vyf het ons binne 24 uur afgetiek, maar steeds bly soek jy net na katte en die wildehonde. Ongelukkig ontwyk laasgenoemde ons steeds…

Na ons tieklysie amper 100% voltooi is (behalwe die honde), staan ek een aand  langs die heining in Onder-Sabie en braai en uit die donkerte verskyn daar ’n ding wat nié op ons tieklysie is nie. 

’n Vuurvliegie (lampyridae) betower die donkerte anderkant die heining met sy flitsende liggie. Kompleet soos ’n vuurpyl, tydens Guy Fawkes, wat besig is om spoed te verloor en grond toe tuimel!

Amper verbrand ek die vleis, want my aandag is totaal op dié skouspel gefikseer. ’n Vuurvliegie kom steel die show van die Groot Vyf in die Kruger!

Hierdie vertoning laat my onwillekeurig dink aan wie dan nou eintlik die grootste in die Kruger is! Is dit die leeu of renoster… Of dalk moet dit die vuurvlieg wees? Want voorwaar, dié nietige gogga met sy twee maande leeftyd, het my sprakeloos en met verwondering gelaat.

Maar dit is nie net ek wat al gewonder het oor wie of wat die grootste was nie.  Self Jesus se dissipels wou by hom die antwoord op dié vraag weet (Matt. 18). Ek is seker hulle het ’n Groot Vyf-antwoord verwag, maar is ook met die vuurvliegie verras.

Die Kruger het my net weer gewys dat dít wat ek dink groot is, nie eintlik die grootste is nie.

In die wêreld buite die wildtuin, kry die Groot Vyf ook al die aandag, maar dit is eintlik die vuurvliegie wat die kroon behoort te dra.

Miskien moet ek/ons begin soek na die Klein Vyf, want ek is oortuig die beloning wag dáár.

 

Put your heart, mind and soul into even your smallest acts. This is the secret of success. – Swami Sivananda

The smallest deed is better than the greatest intention. – John Burroughs

The smaller the creature, the bolder its spirit. – Suzy Kassem

 

Continue Reading

Die wilde perde van Aus – ‘n Perd van ‘n ander kleur!

Tweede beste vriend?

 

Ek kan uit eie ondervinding nie anders as om Amen op die spreekwoord, dat ‘n hond die mens se beste vriend is, te sê nie.

Maar dan wil ek met nuut verworwe kennis byvoeg; as die eerste stelling waar is, dan vermoed ek dat die perd dan die mens se tweede beste vriend moet wees.

 

En dit komende van my wat eintlik boggerol van perde weet!

Die wilde perde van Aus in Namibië, het vandat ek van hulle bestaan bewus geword het, my intens geïnteresseer. So intens, dat hulle stil-stil op my bucket list ’n staanplek kom kry het.

Of dit hulle uithouvermoë in die dorre woestyn is, of net die raaisel van waarom hulle vir jare al op dié barre plek swerf wat my aangetrek het, dit weet ek nie. Maar dat ek hulle met my eie oë wou sien, dít het ek geweet.

En verlede week kon ek die wilde perde van Namibië met my eie oë sien. En aan hulle raak! Wat ’n onbeskryflike voorreg en ‘n ondervinding wat ek vir almal sal aanbeveel.

Die hele belewenis was so veel meer as wat ek ooit verwag het. My hoop was om hulle van ’n afstand te beskou. Selfs al moet dit met ’n verkyker wees; dit sou al genoeg wees. Maar om so naby aan hulle te kom om aan hulle te kon raak, dit sou ek nooit kon droom nie.

Daar bestaan heelwat bespiegelinge oor hoe die perde in die woestyn te lande gekom het. Van ’n storie oor ‘n skip wat by die Oranjerivier gestrand het tot by perde van die Duitse en Suid-Afrikaanse troepe wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog in die woestyn agtergebly het.

Hoe dit ook al mag wees; die wilde perde van die Namib oorleef al van meer as 90 jaar naby die watergat by Garub in hierdie ongenaakbare omgewing.

Behalwe vir die troppies perde langs die hoofpad na Luderitz, is daar die groot samedromming by die watergat. Nie net perde nie, maar ook gemsbokke, volstruise en selfs ’n jakkals wat sy beurt moes afwag om sy dors te les.

Terwyl ek na die perde by die watergat kyk, kon ek nie help om so ’n bietjie jaloers op hulle te wees nie. Hierdie perde leef nou wel in ’n woestyn, maar hulle het weggebreek uit die normale patroon wat vir perde voorgeskryf word. Hulle trek nie iemand se karretjie of hardloop vir iemand ander se gewin die July nie. Hulle lewe onder hulle eie reëls en orde. En wie van ons wil dit nie ook doen nie?

Maar al die wilde perde is nie meer só wild nie. Nie soos die perde wat ons in stofwolke op die sigaretadvertensies oor die vlaktes sien hol nie. Nee, hulle het ongelukkig slim geword en weet dat mense hulle sal voer as hulle naby genoeg kom. Aan die eenkant is dit wonderlik, maar aan die ander kant tragies. Nie alleen verloor hulle hul wildheid nie, maar ook stel hulle hul bloot aan die mens se wispelturigheid. Die een mens voer, maar die volgende kan moor of vermink.

Toe ek die bakkie se neus van die watergat wegdraai, was daar saam met die blydskap ook ’n knaagende bekommernis in my lyf. Selfs ’n melancholiese hartseer om die perde daar te los.

En noudat ek hulle gesien het, nou hou ek elke dag my hart vir my tweede beste vriende in die Namib vas.

I’ve often said there’s nothing better for the inside of a man than the outside of a horse. – Ronald Reagan

Horse sense is the thing a horse has which keeps it from betting on people. – WC Fields

A horse is the projection of peoples’ dreams about themselves – strong, powerful, beautiful – and it has the capability of giving us escape from our mundane existence. – Pam Brown

Daar's water.

 

Nie meer so wild nie!

'n Perd(e) van 'n ander kleur.

 

No regrets. En jy?

Aus regs, of Luderitz links?

By die watergat van Garub moet jy jou beurt afwag.

Continue Reading

Indië: Wierookindrukke

Taj Mahal: Regtig 'n wonderwerk

Is jy in jou bol gepik? Wat wil jy daar gaan maak?

Ek hoor dis so vuil daar en …

Die tipe vrae en ander waarskuwings moes ek aanhoor, maar omdraai kon ek nie meer nie. Toegegee, die eerste dag in Delhi het ek vir ’n oomblik gewonder of dié mense nie dalk reg was nie!

Want dit was nie 20 minute nie, toe het twee Tuk-Tuk-operateurs en hulle trawante my reeds om die bos gelei. En dis mos nie dat dit my eerste keer oorsee is nie. Ek het dan al saam met Turke gebad en behoort van beter te weet!

Die eerste les wat Indië my net weer geleer het, is dat dit nie is hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig. ’n Mens kán en móét nie ’n land of ’n plek op die eerste dag beoordeel of veroordeel nie. Veral nie Indië nie. Jy is moeg en jy is nie heeltemal by jou sinne nie.

Indië is verseker nie jou tipiese Peter Stuyvesant-advertensie bestemming nie. Ek het dit nogal vir myself uitgemaak dat as jy nie kan kamp nie, dan gaan jy maar sukkel in Indië. As jy uiters gesteld is op jou persooonlike ruimte gaan dit ook maar knor, want Indië het baie mense en almal stoei vir hulle ou plekkie in die son.

Ongelukkig word ’n mens so gebreinspoel met alles wat kan verkeerd loop, dat jy aan die begin altyd die ergste verwag. Ja, die water moet jy nie drink nie en jy moet versigtig wees om te veel kerrie te eet. Maar dit is alles goed wat jy met ’n bietjie gesonde verstand kan beheer.

Die geheim is om skiet te gee. Om te laat los. Geestelik en fisiek. Gooi die idees in jou kop van hoe dit moet wees weg en maak plek vir Indië se andersheid. Dit is eers as jy ontspan dat jy Indië se ongelooflike kleure en geure ervaar.

Indië se grootste pluspunt was vir my nie alleen sy wonderlike argitektoniese skeppings of die kos nie, maar ook sy mense. Die romantiek van die Taj Mahal, die eertydse prag en praal van die Agrafort en die mistiek van die Qutab Minar is beslis iets om oor te kwyl en op jou emmerlysie te plaas. Hoe hulle dit gebou en die marmerinlegwerk gedoen het bly ongelooflik, maar dit is die mense van Indië wat die land maak.

Die Indiërs is ongelooflik vriendelik en behulpsaam (al wil hulle jou soms verneuk) en altyd gereed vir ’n geselsie. Of dit nou die sjef in die hotel is wat kom aanbied om jou kos nie so spicy te maak nie of die smous in Janpur Market wat ’n beursie aan jou wil afsmeer.

As hulle eers hoor jy kom van Cape Town, dan is die gesprek oor die IPL-krieket aangeknoop. Gary Kistern en Jaques Kallis is huishoudelike name in Indië.

Leergierig en nuuskierig is die mense van Indië. Altyd gereed vir ’n foto saam met jou en met ’n joie de vivre wat menige miljoener skaam sal maak.

Hulle verkeersisteem, of laat ek liewer sê gebrek aan ’n sisteem, versinnebeeld vir my hulle lewensfilosofie. ’n Filosofie van verdraagsaamheid en go with the flow wat maak dat almal tog een of ander tyd by hulle bestemming opdaag.

En dis asof hulle horlosies nie so ’n groot impak en invloed op hulle dag het nie. Dit wil amper voel of hulle meer ure as ons 24 het!

Soos Boeta ons Tuk-Tuk-bestuurder verduidelik: my way is not the only way. En daar is altyd nog sitplek in ’n voertuig! Of ons nou vier op die motorfiets is of net twee, dit is presies dieselfde. En dan dan speel ydelheid ook nog ’n rol, want die mans wat die motorfiets bestuur móét ’n valhelm dra, maar die vrou wat agterop sit hoef nie. Verklaring (of Indiese logika): Beauty is more important than safety!
Indiërs lag en glimlag maklik. Miskien is dit omdat die meeste van hulle met baie min moet klaarkom en daarom ook met min tevrede is? Volgens ons gids in Jaipur verdien 70% van Indië se inwoners ongeveer 20 rupees per dag. Klink nie te sleg nie, maar as jy dit omskakel na ons swak rand, laat die ekwivalent van vier rand selfs ons bedelaars hulle neuse van verontwaardiging optrek.
Ten spyte van die armoede, het ek nooit gevoel Indië is agterlik nie. Die land het net te veel getuienis van ’n verbygegane era van prag en praal. Maar ongelukkig is die gevolge van verknegting, en die onvermoë om na bevryding op eie bene te staan (net soos in groot dele van Afrika), nou duidelik sigbaar.

Tussen die kakofonie van duisende toeters en met heilige koeie wat na willekeur oor die straat stap, het ek nooit een oomblik onveilig gevoel nie. Selfs nie in ’n Tuk-Tuk nie. En al was ons op vele geleenthede die enigste mense van ligte gelaat tussen baie plaaslike inwoners.

Of ek weer sal gaan?

Beslis.

Behalwe dat Indië te groot is om op een slag te sien en te verstaan, kruip Indië op ’n onverklaarbare manier onder jou vel (of is dit in jou kop) in.

’n Rustigheid, of liewer ’n vrede wat alle westerse gejaag eenkant toe druk, oorval jou. Dit is asof jou liggaam en siel in balans kom met alles om jou. Selfs met die verkeer, want jy jaag nie meer êrens heen nie.

In my bol gepik?

Miskien …

Maar na my besoek aan Indië voel ek, hoe sal ek dit stel … meer mens!

Everything will be all right in the end and if it’s not all right, then it’s not yet the end. – Sonny Kapoor (Best exotic Marigold Hotel)

How can the mind take hold of such a country? Generations of invaders have tried, but they remain in exile. – E.M. Forster

Indians are the Italians of Asia and vice versa. Every man in both countries is a singer when he is happy, and every woman is a dancer when she walks to the shop at the corner. For them, food is the music inside the body and music is the food inside the heart. Amore or Pyar makes every man a poet, a princess of peasant girl if only for second eyes of man and woman meets. – Gregory David Roberts (Shantaram)

 

 

Continue Reading

Daar’s ‘n Turk in my badwater!

 
 
 

My badplek in Istanbul

Het jy al van ’n Hamam gehoor?

Nog nie? En nee, jy kan dit beslis nie met ’n mes en vurk eet nie! Dit is ook nie ’n mediese kondisie of ‘n danspassie nie.

’n Hamam is ’n Turkse bad!

Amper ‘n kruising tussen ’n sauna en ’n massage.

Tydens my vorige besoeke aan Turkye het ek nog nooit by die neem van ’n Hamam gekom nie. Deels omdat daar te baie was om te sien, en die tyd min, maar ook omdat ek ’n bietjie skrikkerig was.

Daarom was dit hierdie keer heel bo aan my lysie.  Ek het opgelees en uitgevra en uiteindelik was ek gereed om daai dunnerige handdoekie, ‘n pestamal, om my lende te vou.

By hierdie delikate stap in die voorbereidingsproses het ’n mens ’n keuse.  Jy kan ’n swembroek of iets anders onder die handdoek aan hou, of jy maak soos ’n ware Turk dit doen. Au naturel. En wie is ek nou om vroom te wees as ons leiers vir ons die voorbeeld stel? Oop ketel – Afrika is leeuwêreld!

Met net die handdoek om verdwyn ek in ’n mistige vertrek, wat glo lank voor Jan van Riebeeck geweet het hy kom Kaap toe, gebou is. Nogal in 1584 deur ’n een of ander Turkse sultan se vrou.

In hierdie saal is daar ’n moewiese groot verhitte marmerblad waarop jy veronderstel is om te gaan lê. Ek kyk rond en wonder waar my hulp vandaan gaan kom, maar al wat ek sien, is manne met sulke groot oë. Nóg vreemdelinge in Istanbul wat die moed bymekaar geskraap het om te kom bad!

Uiteindelik maak ek maar soos almal om my en strek my op die warm klip uit.  En ek begin te sweet. Nie normale sweet nie. Letterlik soos die uitdrukkig sê, jy sweet op plekke wat jy nie eens geweet het jy het nie!

Toe ek net soos ’n droë vrug wil begin voel, verskyn daar uit die mis ’n besnorde Turk lang my. Ook met ’n handdoekie om. Nou worrie ek nie meer oor die bo bly van my ou doekie nie. Ek hou nou Evel Knievel sin dop, want as daai doekie val, is ek in die verkeerde plek!

Gelukkig by dit bo en hy beduie ek moet nader skuif. Hier tot op die rant, want hy wil my nou begin bad. Voor ek ’n geluid kon maak, kry hy my beet en keer ’n paar gellings water oor my uit! En net voor ek kan verdrink, gryp hy iets wat soos ’n kussingsloop lyk en druk dié in ‘n emmer langs hom. Die sloop verskyn wonderbaarlik soos ’n seepballon bo jou kop en met een vernuftige trek van sy hand word ’n bolling seep oor jou uitgegiet.

Ek wou nog vra of hy dalk seep kan gebruik wat nie my oë sal brand nie, toe begin ou Snorre my al skrop. Letterlik van kop tot toon. Al wat nie deurloop nie, is my presidensiële plekke. Dié verneem ek genadiglik moet jy self verf, ek bedoel skrop.

Hierna volg nog emmers water en uiteindelik kan ek weer sien. Die Turkse weergawe van Magnum PI druk my weer op die marmer plat en verduidelik met handgebare en drie woorde Engels dat ek moet lê. Nog tien minute en dan kan ek gaan stort. En dan volg sy ander drie Engelse woorde: Then you tip!

Na my stort dog ek die ondervinding is verby en ek kry so ’n amperse verligting oor my. Daardie vermakerige gevoel as jy iets waaghalsig gedoen en reggekry het. Maar net voor ek whê kan sê, keer ’n ander seun van ’n sultan my voor en beduie dat ek moet terug na die warm kamer.

Regtig? vra ek. Regtig, sê hy in Turks en daar lê ek weer op die marmer.

Ek begin nou wonder hoe kom ’n mens hier uit?

Later begin ek my oorgee aan die warmte en kom ek agter ek sweet nie meer nie. Dit is wat die Turk wou hê. Ek begin die affêre nou verstaan. My spiere ontspan en ek gee my aan die wonder van die hamam oor.

Waarom jaag ons alles so af? Hierdie Turke het beslis iets beet.

Ek begin visioene sien. Turkse sultans en hul harems wat dae lank bad. Cleopatra en haar bad vol melk. Dalk moet ek ook so iets in Bellville begin?

Bou my braaiplek toe. Koop nog ’n ketelbraai en sit ’n stuk marmer bo-op. Snorre (Div) is hoeka sonder werk en met ’n handdoekie om kan hy maklik vir die ware Jakob deurgaan…

’n Koue emmer water tref my tussen die blaaie en my visioene verdamp saam met Snorre by die koepel van die hamam uit.

Dit is weer Magnum PI.

You finish. When you tip? 

En tot my skok besef ek dat die Wet van Transvaal selfs so ver soos hier in Turkye geld!

If the poor overweight jogger only knew how far he had to run to work off the calories in a crust of bread, he might find it better in terms of pond per mile to go to a massage parlor. – Christiaan Barnard

Don’t call the world dirty because you forgot to clean your glasses. – Aaron Hill

A pint of sweat will save a gallon of blood. – George s. Patton

Continue Reading

Ver in die Ou Kalahari

 
 
 
 
 
 
 

Kalahari-rooi

Was jy al in die Kalahari?

Nog nie?

Pak dan onmiddellik jou kar en kry jou ry, want van uitstel, weet jy, kom afstel.

Stel nie belang nie, hoor ek jou sê.  Dan sit ek jou dadelik op my gebedslys, want jy weet duidelik nie waarvan jy praat nie.

’n Groepie van ons het ’n paar weke terug in Namibië gaan jag.  En ook na die hart van die Kalahari gaan soek. 

Gaan soek na daar waar hy begin.  Waar hy van sy ma af loskom en op eie bene staan.

En ons het dit gekry.  Net so anderkant Koës.  Daar begin die hart van die Kalahari.

Dit is daar waar die rooi duine soos golwe oor die see mekaar in ’n amper eentonige reëlmaat opvolg.  Dit is daar waar die versamelvoëlneste die kameeldoringboom se takke laat afbreek, want te veel plakkers het kom intrek.

Dit is daar waar jou naaste buurman 20 kilometer van jou bly.

Die hart van die Kalahari lê vasgevang in oë van sy spring- en gemsbokke wat vroegoggend die son se strale teen die duin weerkaats. Jy voel sy hart klop as jy in die strate tussen die duine jou bakkie in die tweespoorpad probeer hou.

Maar dit is eers as dit donker word dat die Kalahari die binnekant van sy hart vir jou wys.  Dit is dan wanneer jy in ’n grootse skepping kan opkyk en weet dis genade.  Genade dat jy weer die hart van die Kalahari kon hoor klop, want jy is net nog ’n skepsel in hierdie wonderlike Skepping.

  

Kan sulke klein voeltjies sulke groot neste bou?

Kameeldoringboom en sand…

Daar begin die Kalahari - volgens Hentie Gericke

Oor die duine!

Continue Reading