Die woorde dissipline en straf is vir ouers en onderwysers nie vreemd nie. Dissipline is ’n woord wat in elke notule en agenda van ’n personeelvergadering voorkom en menige ouer sukkel die een of ander tyd met die balans tussen dissipline en straf.
Om presies dié rede wou ek aan die begin van die tweede kwartaal hierdie blog vir onderwysers en ouers skryf, maar min het ek geweet daar gaan nie ’n tweede kwartaal wees nie!
Miskien ook goed, want hierdie tyd van inperking het my laat besef ek moet alle beleidmakers, ons hele kabinet en die nasionale bevelsraad (wie hulle ook al mag wees!) by die onderwysers en ouers voeg.
Jordan Peterson het in sy boek, 12 Rules for Life, hierdie oënskynklik vreemde vyfde reël, naamlik: Do not let your children do anything that makes you dislike them.
In reël vyf bespreek hy ’n paar beginsels wat ouers, en die res wat ek bygevoeg het, kan help om opbouende dissipline daar te stel en toe te pas.
Maar laat ek dadelik my standpunt rakende dissipline op die tafel sit. Ek glo beslis dat gesonde dissipline nodig is, want sonder dissipline gaan ons kinders nie in volronde, gebalanseerde volwassenes ontwikkel nie.
Duidelike reëls (ek verkies reëlings) lei tot geborge kinders en kalm, rasionele ouers. Helder, deursigtige beginsels en die gebalanseerde toepassing daarvan, bly ons keerwal teen chaos en anargie.
Dissipline wat verkeerd toegepas word, word eerder drakoniese reëls wat daarop uit is om ten alle koste te straf of een persoon of groep se mag oor ander te bevestig. Eerder as om op te bou en te ontwikkel.
Hier volg Peterson se beginsels met my kantaantekeninge:
-
- Limit the rules : Of dit nou in die klaskamer, sitkamer of raadsaal is, die eerste vraag behoort altyd te wees: Is dié reël werklik nodig? Ons het almal al met situasies te doen gehad waar as die reël nie werk nie, iets bygevoeg word met die hoop dat dit dan sal werk, maar wat dit net nóg lomper maak. Hierdie punt vereis nugtere denke waarom ‘n reël nodig is. Belangriker; of dit enigsins nodig is. Die Israeliete het net tien reëls gekry en hulle moes deur die woestyn trek. Ons het tydens inperking duisende moets en moenies en ons moet in die huis bly!
- Use the least force necessary to enforce the rules : As jy dan die reël gemaak het, bepaal dan wat die minimum toepassing sal wees om dié besluit af te dwing. Op skool kry jy detensie vir min of meer enige oortreding onder die son. Wat hierdie argaïese koekiedrukkerstraf tot gevolg het, is dat die toepasser nie meer hoef te dink nie. Een straf is die oplossing vir elke oortreding. Die graad van die oortreding en die straf balanseer die skaal van geregtigheid soms glad nie. Amper soos die arme man wat sy sypaadjie tydens inperking skoonmaak en dan ’n boete van R5 000 op die lyf loop. ’n Man of vrou in blou wat tonne welwillendheid kon koop deur eerder te waarsku, as om te straf!
- Parents, teachers and ministers should come in pairs : Die ou spreekword van twee koppe is beter as een! Iemand met ’n koeler hoof wat jou kan keer om jou naam gat te maak. Iemand wat net kan sê: Stop en dink voor jy doen. Gelukkig word ouers en onderwysers se dissiplinêre blapse nie op nasionale televisie ontbloot nie!. Ons regering se inligtingsessies tydens die inperkingstyd, lyk eerder na ’n uitsending van stomstreke as na ingeligte kabinetsministers wat probeer keer dat Suid-Afrika deur ’n viruspandemie verswelg word. Ongelukkig verberg selfs ’n masker nie stommiteit nie.
- Parents, teachers and ministers should understand their own capacity to be harsh, vengeful, arrogant, resentful, angry and deceitful : Nie eers die beste onder ons is sonder genoemde krake nie. En hierdie krake word afgronde in uitdagende dissiplinêre situasies. Dink maar aan die tyd toe jou kind ’n vloermoer in die supermark se gangetje gegooi het, en hoe jy in jou gedagtes planne beraam het om hom/haar terug te kry (hopelik het dit darem net by gedagtes gebly). Of hou net vir Donald Trump tydens ’n sessie met verslaggewers dop.
- Parents, teachers and ministers have a duty to act as proxies for the real world : Al drie die genoemde groepe het die verantwoordelikheid om dissipline toe te pas. Ons kan hierdie verantwoordelikheid nie op iemand anders afskuif nie. Die kwessie bly egter steeds hóé ons dit toepas. Doen ons dit as rolmodelle wat reëls, regulasies en wette in belang van diegene aan ons toevertrou maak, of doen ons dit as diktators wat ons eie belang in die hele proses eerste stel. Of dit nou jou eie kinders, iemand anders se kinders of ’n nasie wat jy goedgunstiglik verteenwoordig, ons skuld hulle ’n voorbeeld van wat en wie hulle behoort te wees.
Of ons in elke geval in die toekoms die beker gaan kry vir die beste reëls gemaak, dit is te betwyfel, want daarvoor is ons maar net te feilbaar.
Maar as ons net die bostaande vyf wenke sal onthou as ons enige dissipline moet toepas, of reëls moet neerlê, behoort ons beslis baie beter te vaar.
If you destroy a free market you create a black market. If you make 10,000 regulations you destroy all respect for the law. – Winston Churchill
Nothing in life is to be feared, it is only to be understood. Now is the time to understand more, so that we may fear less. – Marie Curie
I follow three rules: Do the right thing, do the best you can, and always show people you care. – Lou Holtz