Wie is die grootste?

 

IMG_2866

Van die Groot Vyf net buite Letaba.

Sjoe! Ek het lanklaas iets gepost!  Maar liewers lank as nooit!

Ons is pas terug van ’n wonderlike besoek aan die Kruger Park. En laat ek dadelik sê, die Kruger is nog net so ’n belewenis soos toe ek ’n kind was. Tye het verander en so ook die Kruger, maar die diere lyk en doen nog steeds soos  in 1960.  Al wat nie wil verander nie, is sommige mense wat terug hunker na soos toe  dit was… Vir diegene stel ek voor: Besoek volgende keer Jurassic Park!

Maar dit is nie waaroor ek wil gesels nie.

Die Groot Vyf het ons binne 24 uur afgetiek, maar steeds bly soek jy net na katte en die wildehonde. Ongelukkig ontwyk laasgenoemde ons steeds…

Na ons tieklysie amper 100% voltooi is (behalwe die honde), staan ek een aand  langs die heining in Onder-Sabie en braai en uit die donkerte verskyn daar ’n ding wat nié op ons tieklysie is nie. 

’n Vuurvliegie (lampyridae) betower die donkerte anderkant die heining met sy flitsende liggie. Kompleet soos ’n vuurpyl, tydens Guy Fawkes, wat besig is om spoed te verloor en grond toe tuimel!

Amper verbrand ek die vleis, want my aandag is totaal op dié skouspel gefikseer. ’n Vuurvliegie kom steel die show van die Groot Vyf in die Kruger!

Hierdie vertoning laat my onwillekeurig dink aan wie dan nou eintlik die grootste in die Kruger is! Is dit die leeu of renoster… Of dalk moet dit die vuurvlieg wees? Want voorwaar, dié nietige gogga met sy twee maande leeftyd, het my sprakeloos en met verwondering gelaat.

Maar dit is nie net ek wat al gewonder het oor wie of wat die grootste was nie.  Self Jesus se dissipels wou by hom die antwoord op dié vraag weet (Matt. 18). Ek is seker hulle het ’n Groot Vyf-antwoord verwag, maar is ook met die vuurvliegie verras.

Die Kruger het my net weer gewys dat dít wat ek dink groot is, nie eintlik die grootste is nie.

In die wêreld buite die wildtuin, kry die Groot Vyf ook al die aandag, maar dit is eintlik die vuurvliegie wat die kroon behoort te dra.

Miskien moet ek/ons begin soek na die Klein Vyf, want ek is oortuig die beloning wag dáár.

 

Put your heart, mind and soul into even your smallest acts. This is the secret of success. – Swami Sivananda

The smallest deed is better than the greatest intention. – John Burroughs

The smaller the creature, the bolder its spirit. – Suzy Kassem

 

(Visited 258 times, 1 visits today)

, , ,

6 Responses to Wie is die grootste?

  1. Russell September, Wednesday 12 2018 at 1:22 pm #

    Dankie Riaan, great storie. Lekker om weer van jou en “Piesangs en Jellietots” te hoor. Ry nou van PE af – Hoofde. Groete en baie sterkte Russell van Warrenton

    • Rian Truter September, Wednesday 12 2018 at 3:30 pm #

      Dankie, Russell! Hoop die tenk is weer vol na PE.

  2. Hentie Gericke September, Wednesday 12 2018 at 1:29 pm #

    Rian dis heerlik om jou wedervaringe in die Kruger te kon beleef. Mooi wense! Hentie Gericke

  3. Pikkie September, Thursday 13 2018 at 11:14 am #

    Hallo Rian,
    Goed om weer van jou te hoor.
    Bly om te hoor die Kruger is nog die moeite werd om te besoek.
    Dankie vir Piesangs en Jellietots.
    Yzer groete

    • Rian Truter September, Thursday 13 2018 at 5:53 pm #

      Beslis die moeite werd! Mooi loop!

Leave a Reply