Is ‘n matrieksertifikaat nog die papier werd?

As ek na die 7-uur nuus kyk, verstaan ek nogal waarom mense dink Suid-Afrika is besig om op die spreekwoordelike piesangskil te gly.

Veral as jy verlede week gesien het hoe die 2012-matrieks hoopvol toustaan om by ‘n tersiêre inrigting te registreer.

‘n Man met ‘n megafoon skreeu dat hulle seker moet wees hulle is in die regte ry. Watter ry? Daar is dan net een! En boonop ’n baie lang een!

Die woordvoerder van die instelling vertel met trots van die online registrasieproses wat kwansuis so goed werk. Lyk nie so nie, want waarom dan die lang ry? Miskien omdat onlineregistrasie ‘n rekenaar en internettoegang benodig, dommie! En goeie voorligting by die skole van wat om wanneer te doen.

‘n Matrikulant met sterre in haar oë sê sy registreer nou eers, want sy was nie seker oor haar points nie.  Maar noudat sy haar points op die sertifikaat gekry het, kan sy enige iets doen.

Enige iets?  Wie lieg so oop oë vir dié kind?

Die leuenaar in hierdie geval is ons onderwyssisteem wat aan kinders ‘n sertifikaat uitreik wat in baie gevalle nie die papier waarop dit gedruk is, werd is nie.

Kras, hoor ek jou sê. Miskien kras vir jou as jy aan goeie onderwys in een van die plus minus 3 000 funksionele skole (of is dit minder?) in Suid-Afrika blootgestel was.

Hopeloos nie moerig genoeg nie, as jy in ‘n skool was waar die onderwysers nie opdaag vir hul klas nie en waar daar slegs een toilet vir die hele skool is. Of as jou klaskamer ‘n plaaslike bende se sitkamer is.

Ons regering belowe aan ons kinders dat hulle enige iets kan doen, sonder om aan hulle die B-kant van hierdie vervelige seven single te verduidelik. Soos met alles, van behuising tot misdaad, overpromise en underdeliver die politici.

Die matrieksertifikaat overpromise deur vir baie punte op papier te druk waarmee niks gedoen kan word nie. Hoe studeer jy ingenieurswese met 49% vir Wiskunde en hoe word jy ‘n vegvlieënier as jy nie eens Wiskunde op jou papier het nie!

Die probleem lê myns insiens in die underdeliver. Die matrieksertifikaat leer nie die toustaners dat …

1. Harde werk nodig is om sukses te behaal nie. Al sê die matrieksertifikaat dat jy universiteit toe kan gaan, beteken dit nog nie dat jy ‘n sukses daarvan gaan maak of toegelaat gaan word nie. Nie as die points op jou sertifikaat so aangepas en ‘n make over gehad het wat enige realiteitsprogram na sy asem sal laat snak nie. Sukses kom net deur jou eie harde werk en nie deur iemand ander se manipulasie van jou pogings nie.

2. Standaarde oor die wêreld nie soos in SA reggetrek word om  leerders met waardigheid die stelsel te kan verlaat nie (Verstommende woorde van die minister van basiese onderwys, Angi Motshekga, rakende die 30%-slaagstandaard). In sommige plekke in die wêreld is ‘n A nog steeds ‘n A.  Nie soos hier waar die swakste onderwysprovinsie in die land skielik die drie top matrikulante optower nie. Dit is nie onmoontlik nie, hoor ek jou sê. Maar tog ietwat onwaarskynlik, moet jy toegee.

3. Realisme behoort in alles te seëvier. Die spreekwoord if you can dream it you can do it is goed en wel, maar moet net nie die werklikheid vergeet nie. Lees daarmee saam ook dat man must know his limitations. Nie almal is universiteitsmateriaal nie. Universiteit is nie die begin en die einde nie; daar is baie ander opsies.

Wanneer gaan ons beleidmakers wakker word en besef dat hulle met die toekoms van hierdie mooi land dobbel?

Wanneer gaan ek weer na ‘n simbool op ‘n matrieksertifikaat kan kyk en nie wonder of dit die ware punte is nie? Selfs die leerders wat kliphard gewerk het, se punte staan as gevolg van die swakheid van dié sisteem onder verdenking. Wat ’n belediging vir alle matrikulante wat hard gewerk het! En daarom hul eerlike en ware punte verdien.

Wanneer gaan die standaard van ons onderwyssisteem so wees dat ons universiteite nie meer ekstra toetse hoef af te neem om die ware akademiese vaardigheid van ons leerders te bepaal nie?

Ek weet nie.

Miskien eers as dit hopeloos te laat is …

Dit maak geen sin om te probeer bewys dat jy in ‘n eksamen met 30%-slaagsyfer kan uitblink nie. – Jonathan Jansen

Die onverskillige selfbedrog van die Suid-Afrikaanse skoolstelsel gaan tot ekonomiese rampspoed lei. – Leonard van der Dussen

As dit eg is, moet Suid-Afrika ‘n onderwysstelsel hê wat die heel vinnigste in die wêreld verbeter. – Tim Gordon (na aanleiding van die geloofwaardigheid van ‘n slaagsyferverbetering van 13,7 persentasiepunte oor vier jaar.)

Image: africa/FreeDigitalPhotos.net

(Visited 1,731 times, 1 visits today)

, , , , , ,

10 Responses to Is ‘n matrieksertifikaat nog die papier werd?

  1. magda basson January, Monday 14 2013 at 9:42 am #

    Ek stem volkome saam – daar sal iets moet gebeur wat die regering se oë “oop ruk” dat hulle kan sien wat hulle besig is om aan die jeug te doen.
    (Ons sal maar net moet kyk dat hulle almal ‘n bril dra anders sien hulle ook maar niks raak nie!)

  2. stoney January, Monday 14 2013 at 9:55 am #

    Die probleem is dat die regering(beleidmakers) luister nie meer na die advies van die wit minderheid nie; ons het vele meer Jonathan Jansens nodig om die massas te oortuig dat die huidige stelsel tot ekonomiese rampspoed oppad is.

  3. Claude Moller January, Monday 14 2013 at 11:56 am #

    Ek doen n weeklike “insetsel” op/in n radioprogram; Een van die ‘specs’/vereiste voorwaardes is dat ek nie negatief oor negatiewe sake mag klink nie. Hoe sal ons bg saak, re die “onderwyssituasie”, aanspreek, as dieselfde spec as vir die radioprogram, sou geld?

    Wiedehel het ons geleer om elke keer as ons oor OPLOSSINGS moet praat, te begin met iets soos “Hierdie regering van ons……” ??

    As ek oor Riaan Truter dink, dan dink ek aan “It is better to light the candle, than it is to curse the darkness”.

    Myns insiens, moet enigiemand wat sosiale kommentaar lewer, bereid wees om eerstens te sè wat hy/sy SELF aan die saak gaan doen; Nie “hulle, julle, die regering, die minister nie; Selfs nie eers “ons of n mens” nie; Maar “EK, dis wat EK hieraan gaan doen”. Anders hou EK MY bek.

    • Rian Truter January, Monday 14 2013 at 1:55 pm #

      Dankie, Claude! Kom ons hou aan roer! Erens moet die rimpeling die wal tref!

  4. Altus Tolken January, Monday 14 2013 at 12:12 pm #

    Goed gese Rian! Nie dat daar enige iets positief van ons uiters arrogante regering se kant af gaan kom nie. Dit laat mens wonder of hulle nie dalk die oorgrote meerdereheid van ons kinders wil “dom” hou nie..

    • Rian Truter January, Monday 14 2013 at 1:54 pm #

      Dankie, Altus! Kom ons hou aan praat! Iemand luister dalk!

  5. Elzette January, Wednesday 16 2013 at 9:43 am #

    Riaan, (ek praat nou direk met jou onderwyshart:
    Het iemand al ‘n buddy sisteem tussen funksionele skole (al 3 000) en die “ander” 25 000 skole geïnisieer? Nie net nog ‘n kom-ons-skenk-ou-banke-aan-die-arm-skool nie, maar ‘n werklike kom-ons-kyk-waar-vind-ons-sinergie? Natuurlik sal mens met ‘n handvol proefskole begin voor mens so iets grootskaal kan uitrol, maar iemand met inisiatitef, moed, en baie hare op sy tanne sal die leiding moet neem. En nee – nie ‘n privaat organisasie op die aandele beurs nie (hulle kan wel deel van die pakket vorm), maar iemand met onderwysbloed in sy are en suksesvolle ervaring op sy CV (na die skoolgeld betaal is natuurlik…)

    Laat weet my – ek is in!

    • Rian Truter January, Wednesday 16 2013 at 7:20 pm #

      Elzette, baie goeie idee. Ek stem dit moet onafhanklik wees, want niemand moet die toue in die regrukaksie kan manipuleer nie. En soos jy tereg se mense met onderwysbloed in hul are. Nie vakbondmense nie! Kyk volgende week se post vir die soort mense wat ek en jy van praat. Dankie vir jou komentaar! O ja, die skool wat hulp nodig het, moet weet hy is siek en moet WIL gehelp word.

Leave a Reply