Archive | June, 2012

Eina, my China!

 
 

Op die Groot Muur!

Ek is een van daardie mense wat China-betotteld is.

Hierdie betotteldheid het die dag toe ek my voete op die Groot Muur gesit het, begin.  Daai dag het China my vasgegryp.

En ’n snaakse soort vasgryp is dit, want aan die een kant wil jy jou verwonder aan China se grootsheid en vernuf, maar terselfdertyd gly daar ’n koue rilling vir sy geheimsinnige andersheid teen jou ruggraat af.

China het dieselfde effek op my as wat ’n disko op ’n non het; dit maak my opgewonde, maar tog ietwat senuweeagtig!

Niemand lig vandag meer ’n wenkbrou oor Made in China nie, want die kenners voorspel mos dat China binnekort die belangrikste moondheid in die wêreld gaan word.  En as jy iets goedkoop gedoen wil hê, moenie verder as die Chinese soek nie.

Nêrens word China se fenomenale konstruksievernuf beter ten toon gestel as met die Groot Muur nie. Die omvang daarvan besef jy eers as jy op die muur staan en dit soos ‘n figuurlike draak oor die verafgeleë heuweltoppe verdwyn.

China se Groot Muur is die langste mensgemaakte struktuur in die wêreld. Ongeveer 3 460 kilometer lank. Daar word beweer dat as al die stene in die Groot Muur gebruik word om ’n ander muur te bou, dit die aarde by die ewenaar sal kan omsirkel met ’n muur wat ’n meter dik en 1.5 meter hoog is! Gedurende die Ming dinastie (1368-1644) is ongeveer 90% van China se bevolking gedwing om aan die muur te werk. Volgens skatting het een van hierdie onwillige bouers vir elke meter van die konstruksie daarvan gesterf!

Maar as jy dieper as die Groot Muur en verby die heerlike Dim Sum kyk, besef jy wat daardie senuweeagtigheid in jou aan die gang hou. 

Dit is nie net Tiananmen Plein en voorsitter Mao se groot portret wat jou ongemaklik laat voel nie. Ook China se uiters kontroversiële een-kind-beleid, wat baie streng deur die staat toegepas word, laat jou nekhare orent staan.

Die Chinese regering verwys na hierdie beleid, wat stedelike paartjies tot slegs een kind beperk, as ’n gesinsbeplanningsbeleid.

Daar bestaan wel ’n klompie uitsonderings soos byvoorbeeld vir paartjies in die platteland wat die vergunning kry om as die eerste kind nie ’n seun is nie, nog ’n kind te mag hê. Voorstanders van dié beleid meen dit is ’n stap in die regte rigting, want die aarde (en veral China) het reeds te veel mense om ’n volhoubare bestaan te verseker.

Die ander kant van hierdie argument lyk egter nie so rooskleurig nie.

Die probleem met die een-kind-beleid lê nie nie in die toegelate aantal kinders nie. Die kwessie is die gedwonge toepassing van dié geboortebeperkingsmaatreëls deur die staat. Of ouers nou toegelaat word om een of twee kinders te hê, dit bly ‘n skending van basiese menseregte om ‘n vrou  teen haar sin ‘n aborsie te laat ondergaan of om haar te laat steriliseer.

Katie Melua sing there are nine million bicycles in Beijing, that’s a fact … Maar terwyl ek my aan die muur verwonder het, was ek salig onbewus van die volgende:

  • Chinese statistiek toon dat daar elke jaar 13 miljoen aborsies in die land gedoen word. Gemiddeld 35 000 elke dag! 
  • Gedurende die jaar 2000 was meer as helfte van alle aborsies in China as gevolg van geslagskeuse.
  • Swaar boetes word opgelê vir die oortreding van die een-kind-beleid.
  • 500 Vrouens pleeg elke dag in China selfmoord. 
  • China is die enigste land in die wêreld waar meer vrouens as mans selfmoord pleeg. 

Skielik voel my volgende tree op die muur asof ek op iemand se graf trap. Op iemand wat, as gevolg van onmenslike beleide, nie hier sal kan staan nie. Dit voel of ek regtig op AVBOB se stoep speel …

Made in China?

Jy laat my lag!

Eerder ‘n grynslag …

  

All of us have to recognise that we owe our children more than we have been giving them. – Hillary Clinton

How can happiness feel so wrong? How can misery feel so sweet? – Katie Melua (The Closest Thing to Crazy)

The real struggle for us is for the citizen to cease of be the property of the state. – Adam Michnik

 Lees gerus die volgende:   A Heart of Freedom – Chai Lee

                                        The Great Run – Braam Malherbe

 Gaan kry meer info by:   www.womansrightswithoutfrontiers.org

                                     www.allgirlsallowed.org

 

Continue Reading

Tequila en Jeugdag

Tiergarnale met Tequila

Noudat daar sprake is dat ons vakansiedae dalk gaan minder word, het Braaitang en ek gedink ons moet Jeugdag sinvol aanwend. Wie weet; dit mag dalk die laaste een wees?

Ons beskeie bydrae tot die feesdag sou ’n nuwe (OK, niks is ooit nuut in kosmaak nie en daarom sommer dadelik ons erkenning aan almal wat dalk al so iets gemaak het) reseppie wees.

En omdat onse president ons op dié groot dag in Mexiko verteenwoordig, het ons gevoel ’n mexikaanse geurtjie sal gepas wees. Vandaar die uitreik na die bottel met die wurmpie op die bodem. So in solidariteit met onse prez.

Omdat almal vir die vale ontbeen en vlek, het ons besluit om iets anders te doen.  Tequila was reeds die hoofrolspeler, maar wat sou saam met dit op die braai werk? Slotsom: prawns! Vir die taalpuriste: garnale.

Nie daai pieperige, pienk goetertjies wat jy in ’n seekosmengsel kry nie. Die egte, regte tiere van die see.

Nou hoe gemaak met die tequila en die garnale? Volg hierdie reseppie stap vir stap en ons belowe jou jy sing voor jy jou kom kry Seeman beter as oorlede Gé Korsten.

Jy benodig:

  • 1 Pak tiergarnale (± 25)
  • ½ Koppie olyfolie
  • ¼ Koppie Tequilla (of dalk ’n bietjie meer…)
  • 1 Rooi ui (Fyn gekap)
  • 2 Knoffelhuisies (Gekap)
  • 1 Rissie (of meer na smaak)
  • 2 Teelepels komyn
  • Sout en Peper na smaak

Maak nou so:

  • Voeg al die bestanddele, behalwe die olyfolie, saam.
  • Gooi nou die olyfolie stadig by die eerste mengsel en roer.
  • Plaas die garnale in ’n houer of groot plastieksak. As jy die sakopsie kies, wees versigtig om die garnale met die omdraaislag nie te breek nie.  Sagte handjies word benodig!
  • Gooi marinade oor die garnale. Maak seker dat almal met die marinade bedek word.
  • Bedek met kleefplastiek (as nie in sak nie) en marineer vir ten minste 4 ure in die yskas. Draai so elke uur om vir ‘n egalige bedekking van die marinade.
  • Braai oor matige kole tot die garnale ’n pienkerige kleur kry (so tusen 6 en 10 minute afhangende van jou hitte en die hoogte bo die kole). Moenie die garnale te lank braai nie, want dan kan jy net so wel die rekke op jou seun se kettie eet!

So ja, sit nou terug.  Gooi gister se koerant oop vir die doppe en los die servette, want jy gaan sommer jou vingers skoon lek.

Kom, skink nóg ’n enetjie, want ek sien daar’s suurlemoen en sout op die tafel oor.

Guadalajara!

Op die jeug van Suid-Afrika!

 

Computers have enabled people to make more mistakes faster than almost any invention in history, with the possible exception of tequila and hand guns. – Mitch Ratcliffe

When life hands you lemons – break out the tequila and salt. – Unknown

Now tequila may be the favoured beverage of outlaws but that doesn’t mean it gives them preferential treatment. In fact, tequila probably has betrayed as many outlaws as has the central nervous system and dissatisfied wives. Tequila, scorpion honey, harsh dew of the doglands, essence of Aztec, crema de cacti; tequila, oily and thermal like the sun in solution; tequila, liquid geometry of passion; Tequila, the buzzard god who copulates in midair with the ascending souls of dying virgins; tequila, firebug in the house of good taste; O tequila, savage water of sorcery, what confusion and mischief your sly, rebellious drops do generate! – Tom Robbins

 

Continue Reading

Lekker op die plaas!

 

Beyers en die krewe van Vermont

Dit moes darem seker lekker gewees het om op só ’n plaas te kon grootword?

Mense maak baie keer hierdie opmerking as hulle hoor dat ek en Beyers broers is.  Min wetend dat die plaas waarop ons grootgeword het, ’n agterplaas in Kaapstad was!  Bygesê, ’n grote, maar darem nog nie só groot dat ’n mens dit ’n plaas kon noem nie.

Behalwe dat Beyers, vir ’n stadsjapie ’n merkwaardige pad in die Suid-Afrikaanse wynbedryf geloop het, is hy ook ’n besondere mens.  Ek hoor al hoe sê jy dis maklik om so te sê, want hy is jou broer!  Wat kan jy nou eintlik anders sê?

Maar Beyers is nie net ’n wynmaker nie.  En dis ook nie van sy wynmaakvaardighede wat ek wil vertel nie; dit kan jy op ander plekke van gaan lees.  Hy is ook politikus, kerkmens, kosmaker, geselser en ’n mens-mens.  En dit is oor sy  omgee vir mense wat ek wil vertel.

Behalwe vir sy omgee vir elke mens, is dit veral die lot van die mense op Stellenbosch se plase wat hom naby aan die hart lê.  Dit was dan ook om onder andere na hulle belange om te sien dat hy figuurlik gesproke op ’n trekker, met die leuse Stem Trekker en maak die plaaslewe lekker, die plaaslike politiek binnegery het. 

Seer sekerlik een van die uitdagendste probleme wat die wyndistrikte in die gesig staar, is fetale alkoholsindroom.  Baie van die gesinne in die wynland word deur alkoholmisbruik geraak; waarvan fetale alkoholsindroom slegs een aspek is.

Die meeste swanger vroue wat hulle aan alkoholmisbruik skuldig maak, besef nie eens die skade wat hulle aan hul ongebore kind aanrig nie.  Hulle het in die meeste gevalle geen, of die verkeerde, voorligting rakende alkohol en swangerskap ontvang.

Die hartseer van verstandelike vertraging en geboortedefekte as gevolg van fetale alkoholsindroom het by Beyers gespook om iets aan hierdie saak te probeer doen.

Hy stig dan ’n paar jaar terug as ’n nie-winsgewende artikel 21 maatskappy die Beyers Truter Fetale Alkoholsindroom Hulpfonds.  Saam met prominente Suid-Afrikaners soos Chester Williams en Mbhazima Shilowa het hulle net een doel voor oë – om fetale alkoholsindroom vir eens en altyd op sy plek te sit.  Deur middel van die Fonds hoop hy dat hulle genoeg fondse sal genereer om programme te implementeer wat hierdie probleem effektief sal kan aanspreek.

Klik op die Faith-ikoon regs van hierdie blog as jy meer van die Faith Fund wil weet. Of as jy voel jy wil ’n bydrae vir hierdie goeie saak maak.

Pinotage-koning; eerder dienaar.  Nie op ’n troon nie,  maar plat op die aarde tussen sy mense.

Dis my broer, Beyers.

 

A benefit consists not in that which is done or given, but in the intention of the giver or doer. – Seneca

Beyers is a great speaker; like Peter de Villiers, he doesn’t always make sense but he’s fascinating to listen to! – Koos Kombuis

Everybody can be great…because anybody can serve. You don’t have to have a college degree to serve. You don’t have to make your subject and verb agree to serve. You only need a heart full of grace. A soul generated by love.   – Martin Luther King, Jr.  

All you have shall some day be given; 
Therefore give now, that the season of giving
may be yours and not your inheritors. – Kahil Gibran

  

Continue Reading

Sosiale media laat my kop raas!

Is dit net ek, of voel dit vir my of die lawaai in die wêreld elke dag meer word.

Lank gelede was dit net die nuus op die radio of die koerant wat my kon ontstel. Nou word ek elke oomblik van die dag met inligting gekonfronteer wat my senuweepunte laat kriewel. Van alle kante en uit alle oorde. Of ek nou wil hoor of nie.

Gemorspos in die posbus. Tele-bemarkers met aanbiedings wat ek nie wil hê nie. Bedelaars by die deur. Massiewe skerms in die winkelsentrums. BBM. SMS. En só kan ek aanhou.

Wat moet ’n mens doen om net weer ’n bietjie stilte te kry?

Of om ’n slag net dit te hoor wat jy wíl hoor?

Die slim ouens sê jy moet eers van alles wat oorbodig of onnodig is, ontslae raak. Weg met alles wat jy die afgelope jaar nie gebruik het nie.  Moenie opgaar nie en les bes my eie raad; raak ontslae van alle natbroeke en moangatte in jou lewe.

Benewens die klompie raserige voorbeelde wat ek genoem het, het ek besef dat sosiale media ook tot die geraas in my lewe bydra. En ek het besluit om iets daaraan te doen.

Ek gaan nie meer mense volg wat probeer kyk hoeveel tweets hulle kan stuur nie! Asof dit ’n kompetisie is! Veral nie as meer as die helfte van die tweets in elk geval gerecycle (retweet) is nie!

Ek gaan ontslae raak van al my FB-vriende wat elke dag hulle papegaai of goudvis se jongste gier en grinne aanstuur.

As dit al is wat jy kan sê, dan is dit nie vir my nie.

Ek wil baie graag van die belangrike dinge in jou lewe weet.  Die oorspronklike en regte jy. Dinge wat jy self uitgedink en ervaar het.

Ek wil nie elke keer weet as jy toilet toe gaan of die lig aanskakel nie. Ook nie dat jy gaan slaap of opstaan nie. Ek verwag dit van jou. Ek like dit om van jou vakansie, jou kinders, kleinkinders en nuwe plekke te hoor, maar Oliver Tambo? Regtig?

Facebook en Twitter, en die res, is seer sekerlik daar om ons lewens te verryk. Beslis nie om nog meer geraas en snert tot ons daaglikse bestaan te voeg nie. Daarvoor het ons in elk geval mos ons politici.

As jy dus waarneem dat jy van my lysie verdwyn het, weet net dit is nie iets persoonlik nie. Ek is steeds baie lief vir jou, maar die geraas maak my doof!

En as ek raas, maak my stil.

Asseblief!

 

Noise proves nothing. Often a hen who has merely laid an egg cackles as if she laid an asteroid. – Mark Twain

When the river is deepest it makes least noise. – Proverb

Ten persons who speak make more noise than ten thousand who are silent – Napoleon Bonaparte

 

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading