Tydens ’n besoek aan die KKNK het ek ontdek dat sommige mense soos oom Gert van Tonder skielik ‘n legend geword het, want al die jonges wat saam met die oom gesing het, het hom ‘n legend genoem. Is dit dalk omdat hulle hom van hulle doek- en Wielie-Walie-dae onthou, want oor sy sang kan dit nie wees nie.
Hierdie kwistige gebruik van legend voor en agter het my laat wonder oor wie en wat nou eintlik ‘n legend is.
Volgens my beskeie mening is Staal Burger, tannie Evita Bezuidenhout en die Toyota-bakkie ‘n legend. Maar om sommer links-regs enige iemand met die titel legend te bekroon, wil vir my ‘n bietjie goedkoop voorkom.
Ek vermoed die mense probeer eintlik sê die betrokke persoon is ‘n held. Maar in hierdie tyd waar alles cool is, het held ook seker êrens in die stof gebyt? Legend is nou die woord op die tong.
Nou hoe lyk ‘n legend dan nou eintlik?
Om as ‘n legend geklassifiseer te word, voel ek, moet die persoon as eerste vereiste darem sy/haar eie leeftyd kan oorleef. Daarmee bedoel ek, jy moet darem lank na jy die tydelike met die ewige verruil het, nog altyd oor gepraat of onthou word.
Legends moet ook ‘n bietjie opgeoffer het vir ‘n saak groter as hulself. Om net op ‘n KKNK-verhoog te verskyn en liedjies met drie versreëls te sing, plaas jou nie summier in dié klas nie. Nostalgie of te not!
Legends moet ook guts hê. Soos ‘n Wolraad Woltemade wat ten koste van homself sy perd die branders inry om absolute vreemdelinge te red. Om net Kaptein span die seile te sing, laat jou nog nie eens uit die hawe kom nie! Sarah Palin het die eienskap netjies raakgevat toe sy die volgende opmerking gemaak het: “…the difference between a pit bull and a hockey mum; it’s only the lipstick.”
Wat vir my egter die belangrikste aspek rondom ‘n legend is, is die stories wat hy/sy vertel. En ook die stories wat van hom/haar vertel word.
Suid-Afrika het vandag genuine legends nodig. Nie kunstefees- legends nie. Legends wat ook leiers is. Mense wat bereid is om stories, wat as ‘n morele barometer sal dien, vir die kinders en mense van Suid-Afrika, te vertel. Mense wat ons onvoorwaardelik as morele voorbeelde aan die wêreld kan voorhou.
Fred Harburg meen as leiers die krag van ‘n storie verstaan, maak hulle ‘n blywende verandering. Hy verwys in dié aanhaling na ‘n maatskappy, maar ek dink dis net so van toepassing op enige land in die wêreld. When a company is blessed with leaders who express compelling stories about things that matter — grounded in fact and reason, tied to values that are widely embraced, constructed with logic and expressed in positive, emotionally passionate terms — people not only listen, but are moved to action.
As ons leiers hierdie tipe stories begin vertel, kan ons almal lustig saam sing met al ons helde op die verhoë dwarsdeur Suid-Afrika. Ek sal dan weet dat die legends van hierdie land se stories ‘n verskil gaan maak wat langer as die 90 minute van die vertoning sal duur.
There used to be a time when the idea of heroes was important. People grew up sharing those myths and legends and ideals. Now they grow up sharing McDonalds and Disneyland. (New York, 1989) – Bob Dylan
True Legends never die. – Unknown
Image: mieliestronk
No comments yet.