Ek wonder of daar op die ark ook ‘n besigheidsklas was?
Of Noag en sy gesin die diere bedien het en of daar ’n keuse tussen chicken en beef was? En of die ete wat jy uiteindelik kies, ook altyd, na jy hoe lank oor jou keuse getob het, nie beskikbaar was nie?
Natuurlik sou daar nie ’n chicken-of-beef-keuse gewees het nie, want ek is seker dit sou die diere uiters senuweeagtig gemaak het. Jy was nooit seker wanneer jou status van passasier na spyskaartinskrywing kon verander nie!
Hierdie tipe vrae hou my op ’n onlangse vlug na Istanbul wakker. Eintlik dink ek dit was my brein se poging om my nie aan my deurgesitte boude te laat dink nie!
Die sneller vir dié vrae was sonder twyfel die lugwaardin wat die gordyn tussen ons en die uitverkorenes in besigheidsklas toegepluk het. Leedvermakerig! So asof ons aan hierdie kant van die gordyn iets onder lede het.
Waarom is mense so behep met hiërargie? Klasse, range, apartheid, posisies en dies meer.
Besigheidsklas mag kom rondstaan tussen die gepeupel, maar waag dit net om jou neus agter daardie gordyn te gaan indruk! Alle hel in die lugruim daal op jou neer.
Maar wat darem troos, is dat ek weet dat daar eendag geen onderskeid gaan wees nie. Ons gaan almal dieselfde vlug na die ewigheid moet haal.
En soos ek verstaan, is daar nie ’n keuse van watter klas jy wil vlieg nie.
Almal sit aan dieselfde kant van die gordyn!
Wil jy vreet, of wil jy vlieg? – Hendrik Schoeman
Things turn out the best for people who make the best of the way things turn out. – John Wooden
Funny, isn’t it? The airlines go to all that trouble to keep you from taking a gun on board, then they just hand you a dinner roll you could kill a musk ox with. – Dave Barry
Image: FreeDigitalPhotos.net
Haha, die staat het my so 10 jaar terug op BAIE kort kennisgewing Gauteng toe laat vlieg, en al wat oor was was besigheidsklas, laanie! Maar deur die metaalverklikkers kry hulle ‘n langbektangetjie en konfiskeer dit net daar. Maar toe die vliegtuig in die lug is kry ek ‘n staal mes en vurk!
Groete!
Net soos die burokrasie werk! Ook maar lekker die pad af. Mooi loop Jakkie!
Ja, Rian daardie vlug mis niemand nie. Die ouens in die besigheidsklas kan ook nie willens en wetens daardie vlugte kanselleer nie. As jy moet vlieg moet jy vlieg dan is daar nie onderskeid nie.
Ek wil ook graag net weer dankie se vir jou storie oor die vrou van Springbok. Ek het dit al gehoor, maar toe ek dit weer lees het ek ‘n knop in my keel gekry. Ek besluit toe om dit Maandag vir my my personeel te lees en wragtie daar tjank ek toe. Wat ‘n voorreg en verantwoordelikheid is dit nie om met ander se belangrikste besittings te werk nie.
Groete uit die Baai!
Vreugde, Pierre! Hou aan om die grense te skuif!