Wenke vir ‘n beter nuwe jaar

Ek hoop net dat volgende jaar ‘n beter jaar sal wees!

Hierdie versugting is male sonder tal oor die TV en in die media geopper as mense oor hulle verwagtinge vir die nuwe jaar gepols is.

Wat ek egter nie verstaan nie, is wat hulle met beter bedoel?

Soek hulle meer geld, beter gesondheid of ‘n beter werk?

En hoe kan ‘n nuwe jaar sommer so op sy eie besluit dat dit beter sal wees as die vorige?

Gelukkig is die beter wees van ‘n jaar nie iets waaroor ‘n mens geen beheer het nie. Toegegee, daar is goed soos siekte, dood en ander peste waaroor niemand beheer het nie, maar dis algemene kennis dat die pawpaw die een of ander tyd ons almal se fan gaan tref.

Maar daar is genadiglik baie meer faktore, om van die nuwe jaar ‘n beter een te maak as die vorige, waaroor ons beheer het. Bygesê, as die vorige een dan nie goed genoeg was nie.

Probeer gerus hierdie wenke vir ‘n beter nuwe jaar:

#1: Moenie beloftes maak wat jy nie kan nakom nie. Nie aan jouself of aan ander nie. Ek het hierdie vakansie die waarheid opnuut besef toe Klasie, na herhaalde oproepe en aanmanings, nie my braaihout op Onrus kom aflewer het nie. Maar dit is nie net Klasie nie; ons doen dit ook deur goed aan onsself en ander te belowe wat ons weet net nie waar kan word nie.

#2: Bekommer jou oor die dinge waaroor jy wel beheer het en wat jy kan verander. Sien om na jou gesondheid, vriende en omgewing. Hou op om jou oor wat oor tien jaar van nou af kan gebeur te bekommer, want daardeur vergeet jy om nóú te leef.

#3: Leef ligter. Letterlik en figuurlik. Raak ontslae van goed wat jou denke beperk en besittings wat jou vaspen. Besef dat jy genoeg het en kyk net ‘n bietjie om jou rond om te sien dat jy in elk geval baie meer as die deursnee Suid-Afrikaner besit. En gooi sommer ‘n paar kilo’s af!

#4: Leef hierdie jaar met dankbaarheid. Dankbaar dat jy nog ‘n kans kry. Dankbaar vir elke genade wat jy ontvang en eintlik glad nie verdien nie.

#5: Moenie wag vir groot geleenthede om fees te vier nie. Maak van elke klein geleentheid ‘n feestelikheid!

#6: Vergeet ‘n slag van jouself en konsentreer op ander. Skop die eie ek onder sy jis en leef ‘n slag vir ons.

#7: Soek ‘n slagspreuk of motto vir hierdie jaar en plak dit iewers op waar jy dit elke dag van hierdie jaar kan sien (of maak dit jou screensaver). ‘n Motto wat alles vasvat wat jy die jaar wil bereik. My motto vir dié jaar is die volgende woorde van Richard Branson: The brave do not live forever, but the cautious do not live at all.

Gesondheid op ‘n beter 2013!

I think in terms of the day’s resolutions, not the year’s. – Henry Moore

Cheers to a New Year and another chance for us to get it right. – Oprah Winfrey

New Year’s Day is every man’s birthday. – Charles Lamb

(Visited 580 times, 1 visits today)

, , , ,

10 Responses to Wenke vir ‘n beter nuwe jaar

  1. Heinie Brand January, Monday 7 2013 at 12:38 pm #

    Goed om te sien dat my vriend weer aan die gang is. Hoop jy het goed gerus en dat jy ‘n baie goeie jaar sal beleef.

    Dankie vir jou vriendskap. Dis elke dag meer en meer belangrik !!! – vir alle mense. Ek koester my vriendskap met jou !!!

    Mooi 2013 !!!
    Heinie

    • Rian Truter January, Monday 7 2013 at 4:23 pm #

      Dankie, Heinie! Amigos para siempre!

  2. magda basson January, Wednesday 9 2013 at 9:23 am #

    Welkom terug!!

    Ek het geen nuwejaarsvoorneme nie maar neem elke dag soos dit kom. Elke dag het sy eie uitdagings en daardie dae wat ek my so bekommer het oor wat gaan gebeur oor ‘n maand of jaar of wat ookal is definitief verby.

    Ek wag vir jou volgende piesings en jellie tots.

    Dankie
    Magda

    • Rian Truter January, Wednesday 9 2013 at 10:04 pm #

      Dink dis die manier om die jaar aan te pak! Sterkte vir die jaar en rev hom in die rooi! Groete.

  3. Gys Romijn January, Wednesday 9 2013 at 11:42 am #

    Baie dankie vir al die waarhede, vermanings, verhale van verlede jaar. Ek wens jou die allerbeste toe vir die nuwe jaar.
    Mooi loop.

    Steelcrest high School

    • Rian Truter January, Wednesday 9 2013 at 10:02 pm #

      Dankie, Gys. Mooi loop daar bo in die Noorde. Beste vir jou vir 2013. Groete.

  4. Erich January, Wednesday 9 2013 at 8:21 pm #

    Hallo Rian

    Ek hoop jy het ‘n baie mooi 2013. Voorspoed vir jou, jou gesin en jou familie.

    Dankie vir jou skryf…. soos Seth sou sê: “you’re creating art” Moet nie ophou daarmee nie…..

    Erich

    • Rian Truter January, Wednesday 9 2013 at 10:01 pm #

      Dankie vir die goeie wense, Erich! Net die mooiste ook vir jou en jou geliefdes. Groete

  5. Wayne January, Friday 11 2013 at 12:03 pm #

    Weereens iets om oor na te dink. Hoop jou jaar gaan sommer supersonies wees.

    • Rian Truter January, Friday 11 2013 at 2:09 pm #

      Dankie, Wayne! Selfde daar in die Kom!

Leave a Reply