Wat is raai, Oupa?

Ek sê nou die dag vir Luca (ons kleinseun) hy moet raai hoeveel klippies in my hand is.

Wat is raai? is sy teenvraag.

En daar snoeker hy my geheel en al. Wat ís raai vir ’n driejarige? Hoe verduidelik jy raai aan ’n driejarige? Of nóg moeiliker; hoe verduidelik jy kleur aan ’n blinde? Hoe gee jy betekenis aan ’n begrip wat vir jou as volwassene amper  te simplisties logies is?

Dit is eers as jy probeer verduidelik, dat jy skielik verstaan dat dit vir hom net ’n woord gaan bly. Sonder betekenis.  ’n Woord wat hy eers kan begryp as hy ervaring daaraan kan koppel.

Ek het nou nog nie ’n antwoord nie, maar dit het my laat dink aan wat Pieter de Villiers (coach) nou die oggend gesê het.

Hy sê, kos is net ’n woord in die woordeboek totdat jy honger is. Dan eers kry dit regtig vir jou betekenis.

Woorde soos lewe en dood is ook vir die meeste van ons sulke woordeboekwoorde.  Ons ken hulle, en kan hulle is die regte konteks in sinne gebruik, maar verstaan hulle eers werklik as ons hulle naby aan ons eie lyf voel.

Soos met die skielike afsterwe van my skoonsuster Esmé drie weke gelede. Skielik is dalk ook die verkeerde woord. Dalk is plotseling ’n beter woord, want hoe beskryf jy om binne sekondes dood te gaan aan iemand? Hoe beskryf jy die verskil van sekondes tussen lewe en dood aan iemand wat dit nie beleef het nie.

Net iemand, soos Beyers, wat die een sekonde nog die lewe in die oë kon sien en die volgende oomblik die leweloosheid kon waarneem, kan dit verstaan en begryp.  Dit is dan eers dat die verskil tussen lewe en dood begin sin maak. En dan wat retoriek soos ek verstaan hoe jy voel as die totale snert wat dit is, ontmasker word.

Want jy kan net verstaan, as jy dit al sélf beleef het.

Maar dit is ook in die verstaan van lewe en dood dat ander woordeboekwoorde betekenis begin kry. Dit is hierdie tyd van hopelose onbegrip en seer dat vriendskap, huil en omgee sin begin maak.

Dit is wanneer jy opgehuil is en die dominee tydens die diens sê dat die kortste teks in die Bybel in Johannes 11:35 staan: Jesus het gehuil, dat jy verstaan hoe Jesus oor sy vriend Laserus se dood gevoel het. En dat jy weet dit is OK om te huil.

Ek het ook besef Naas is verkeerd. Cowboys do cry. Want die hoeveelheid huil wat groot manne kon huil, is verstommend. Johan Kat se lang lyf met die trane wat oor sy wange stroom; André, Balie, Abré, Paul en al die ander se trane het woorde totaal onnodig gemaak.

Geen woorde kan meer betekenis hê as wanneer dit met trane gesê word nie. Trane maak woorde onnodig, want trane sê ek is hier vir jou; ek deel jou pyn asof dit my eie is.

Manne druk mekaar ook glo nie. Sê wie? As dit nie vir druk en vashou in hierdie tyd was nie, sou ons seker weggedryf het in ’n see van hopeloosheid. Vashou en saamhuil was ’n boei in hierdie storm van hartseer. Vasdruk was soos ’n kaai waarteen jy vir ’n oomblik kon rus en sê dankie, hier is ek veilig.

Dit is ook as ons midde in hierdie storm is dat ons woordeboekwoorde beter verstaan. Dit is dan dat ons hand en mond belowe om nie weer vriendskap, omgee en huil op die rak te laat staan nie.

Maar helaas. By die volgende begrafnis besef ons net weer met ’n skok dat van dié woorde weer êrens in die woordeboek opgeneem is.

Wat is raai, Oupa?

Ek kan nog nie verduidelik nie, Luca.  Maar ek weet ek raai nie meer oor wat huil, vriendskap en omgee beteken nie.

Ek verstaan dit nou.  Ek het dit weer vars aan my lyf gevoel en beleef.

Laat Oupa liewers aan jou verduidelik dat huil meer as woorde sê; dat vriendskap meer werd is as goud en dat die lewe régtig baie, baie kort is.

En dat omgee beter is as om vir die eerste span te speel.

Gegroet, Esmé.

Dankie dat jy weer die woordeboek vir my kom oopmaak het.

 

Tears are words the mouth can’t say nor can the heart bare. – Joshua Wisenbaker

Friends are the family you chose. – Jess C. Scott

Hold a true friend with both your hands. – Nigerian proverb

 

(Visited 697 times, 1 visits today)

, , , , , , ,

7 Responses to Wat is raai, Oupa?

  1. Hobbie February, Monday 24 2014 at 6:58 am #

    Dankie!

    Groete,
    Hobbie

  2. erich February, Monday 24 2014 at 7:55 pm #

    Ek is jammer om te hoor van Esme Rian…wat het gebeur? Weereens raak jy ‘n paar goed aan wat diep denkend is…en dis goed. Te midde van dit wat jy sê, staan emosies…………perspektiewe van die ander, waarhede en nog baie meer. Dis goed jy dink en praat oor die goed…..want ek dink baie keer te min word besin en gedink.

    • Rian Truter February, Tuesday 25 2014 at 7:28 am #

      Dankie Erich. ons wag nog vir die ondersoek se uitslae, maar sy het sommer net in die tuin inmekaar gesak en gesterf. Ja, ons het party keer stilstand en sok nodig om te dink.

  3. Ilse February, Wednesday 26 2014 at 10:30 am #

    Baie mooi geskryf oom.

  4. judy van zyl February, Wednesday 26 2014 at 12:09 pm #

    Soos net jy kan.

    • Rian Truter February, Wednesday 26 2014 at 6:21 pm #

      Baie dankie, Judy! Waardeer.

Leave a Reply