Tag Archives | Twitter

Sosiale media laat my kop raas!

Is dit net ek, of voel dit vir my of die lawaai in die wêreld elke dag meer word.

Lank gelede was dit net die nuus op die radio of die koerant wat my kon ontstel. Nou word ek elke oomblik van die dag met inligting gekonfronteer wat my senuweepunte laat kriewel. Van alle kante en uit alle oorde. Of ek nou wil hoor of nie.

Gemorspos in die posbus. Tele-bemarkers met aanbiedings wat ek nie wil hê nie. Bedelaars by die deur. Massiewe skerms in die winkelsentrums. BBM. SMS. En só kan ek aanhou.

Wat moet ’n mens doen om net weer ’n bietjie stilte te kry?

Of om ’n slag net dit te hoor wat jy wíl hoor?

Die slim ouens sê jy moet eers van alles wat oorbodig of onnodig is, ontslae raak. Weg met alles wat jy die afgelope jaar nie gebruik het nie.  Moenie opgaar nie en les bes my eie raad; raak ontslae van alle natbroeke en moangatte in jou lewe.

Benewens die klompie raserige voorbeelde wat ek genoem het, het ek besef dat sosiale media ook tot die geraas in my lewe bydra. En ek het besluit om iets daaraan te doen.

Ek gaan nie meer mense volg wat probeer kyk hoeveel tweets hulle kan stuur nie! Asof dit ’n kompetisie is! Veral nie as meer as die helfte van die tweets in elk geval gerecycle (retweet) is nie!

Ek gaan ontslae raak van al my FB-vriende wat elke dag hulle papegaai of goudvis se jongste gier en grinne aanstuur.

As dit al is wat jy kan sê, dan is dit nie vir my nie.

Ek wil baie graag van die belangrike dinge in jou lewe weet.  Die oorspronklike en regte jy. Dinge wat jy self uitgedink en ervaar het.

Ek wil nie elke keer weet as jy toilet toe gaan of die lig aanskakel nie. Ook nie dat jy gaan slaap of opstaan nie. Ek verwag dit van jou. Ek like dit om van jou vakansie, jou kinders, kleinkinders en nuwe plekke te hoor, maar Oliver Tambo? Regtig?

Facebook en Twitter, en die res, is seer sekerlik daar om ons lewens te verryk. Beslis nie om nog meer geraas en snert tot ons daaglikse bestaan te voeg nie. Daarvoor het ons in elk geval mos ons politici.

As jy dus waarneem dat jy van my lysie verdwyn het, weet net dit is nie iets persoonlik nie. Ek is steeds baie lief vir jou, maar die geraas maak my doof!

En as ek raas, maak my stil.

Asseblief!

 

Noise proves nothing. Often a hen who has merely laid an egg cackles as if she laid an asteroid. – Mark Twain

When the river is deepest it makes least noise. – Proverb

Ten persons who speak make more noise than ten thousand who are silent – Napoleon Bonaparte

 

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading