Tag Archives | One-child-policy

Eina, my China!

 
 

Op die Groot Muur!

Ek is een van daardie mense wat China-betotteld is.

Hierdie betotteldheid het die dag toe ek my voete op die Groot Muur gesit het, begin.  Daai dag het China my vasgegryp.

En ’n snaakse soort vasgryp is dit, want aan die een kant wil jy jou verwonder aan China se grootsheid en vernuf, maar terselfdertyd gly daar ’n koue rilling vir sy geheimsinnige andersheid teen jou ruggraat af.

China het dieselfde effek op my as wat ’n disko op ’n non het; dit maak my opgewonde, maar tog ietwat senuweeagtig!

Niemand lig vandag meer ’n wenkbrou oor Made in China nie, want die kenners voorspel mos dat China binnekort die belangrikste moondheid in die wêreld gaan word.  En as jy iets goedkoop gedoen wil hê, moenie verder as die Chinese soek nie.

Nêrens word China se fenomenale konstruksievernuf beter ten toon gestel as met die Groot Muur nie. Die omvang daarvan besef jy eers as jy op die muur staan en dit soos ‘n figuurlike draak oor die verafgeleë heuweltoppe verdwyn.

China se Groot Muur is die langste mensgemaakte struktuur in die wêreld. Ongeveer 3 460 kilometer lank. Daar word beweer dat as al die stene in die Groot Muur gebruik word om ’n ander muur te bou, dit die aarde by die ewenaar sal kan omsirkel met ’n muur wat ’n meter dik en 1.5 meter hoog is! Gedurende die Ming dinastie (1368-1644) is ongeveer 90% van China se bevolking gedwing om aan die muur te werk. Volgens skatting het een van hierdie onwillige bouers vir elke meter van die konstruksie daarvan gesterf!

Maar as jy dieper as die Groot Muur en verby die heerlike Dim Sum kyk, besef jy wat daardie senuweeagtigheid in jou aan die gang hou. 

Dit is nie net Tiananmen Plein en voorsitter Mao se groot portret wat jou ongemaklik laat voel nie. Ook China se uiters kontroversiële een-kind-beleid, wat baie streng deur die staat toegepas word, laat jou nekhare orent staan.

Die Chinese regering verwys na hierdie beleid, wat stedelike paartjies tot slegs een kind beperk, as ’n gesinsbeplanningsbeleid.

Daar bestaan wel ’n klompie uitsonderings soos byvoorbeeld vir paartjies in die platteland wat die vergunning kry om as die eerste kind nie ’n seun is nie, nog ’n kind te mag hê. Voorstanders van dié beleid meen dit is ’n stap in die regte rigting, want die aarde (en veral China) het reeds te veel mense om ’n volhoubare bestaan te verseker.

Die ander kant van hierdie argument lyk egter nie so rooskleurig nie.

Die probleem met die een-kind-beleid lê nie nie in die toegelate aantal kinders nie. Die kwessie is die gedwonge toepassing van dié geboortebeperkingsmaatreëls deur die staat. Of ouers nou toegelaat word om een of twee kinders te hê, dit bly ‘n skending van basiese menseregte om ‘n vrou  teen haar sin ‘n aborsie te laat ondergaan of om haar te laat steriliseer.

Katie Melua sing there are nine million bicycles in Beijing, that’s a fact … Maar terwyl ek my aan die muur verwonder het, was ek salig onbewus van die volgende:

  • Chinese statistiek toon dat daar elke jaar 13 miljoen aborsies in die land gedoen word. Gemiddeld 35 000 elke dag! 
  • Gedurende die jaar 2000 was meer as helfte van alle aborsies in China as gevolg van geslagskeuse.
  • Swaar boetes word opgelê vir die oortreding van die een-kind-beleid.
  • 500 Vrouens pleeg elke dag in China selfmoord. 
  • China is die enigste land in die wêreld waar meer vrouens as mans selfmoord pleeg. 

Skielik voel my volgende tree op die muur asof ek op iemand se graf trap. Op iemand wat, as gevolg van onmenslike beleide, nie hier sal kan staan nie. Dit voel of ek regtig op AVBOB se stoep speel …

Made in China?

Jy laat my lag!

Eerder ‘n grynslag …

  

All of us have to recognise that we owe our children more than we have been giving them. – Hillary Clinton

How can happiness feel so wrong? How can misery feel so sweet? – Katie Melua (The Closest Thing to Crazy)

The real struggle for us is for the citizen to cease of be the property of the state. – Adam Michnik

 Lees gerus die volgende:   A Heart of Freedom – Chai Lee

                                        The Great Run – Braam Malherbe

 Gaan kry meer info by:   www.womansrightswithoutfrontiers.org

                                     www.allgirlsallowed.org

 

Continue Reading