Met die Olimpiese Spele iets van die verlede, en die koningin se Corgi’s weer onder haar bed uit, wil ek graag net so ‘n paar kantlynopmerkings oor die Spele maak. Of soos my geleerde vriende sê: ’n paar sake op die tafel plaas.
Heel eerste wil ek die Britte net moerse (ons agbare Minister van Sport Fikile Mbabula se gunsteling woord) gelukwens. En dít is iets wat ek nie maklik doen nie. Om enige Brit te komplimenteer, is vir my soos om glas vir ontbyt te kou! Die Spele was, van waar ek gekyk het, puik georganiseer en die byeenkomsplekke was nie net effektief nie, maar nog mooi ook.
Met die afsluitingseremonie het die bleekbene hulself oortref. Dit was ’n skouspel van talent en tegnologie wat my weer laat besef het hulle is nie net bangers en mash nie! En gelukkig het hulle dié keer hul suurpruim koningin onder paleisarres geplaas. Well done, old chaps!
Terug op eie bodem het ons toe nie 12 medaljes soos verwag huistoe gebring nie. Miskien was die administrateurs te opgewonde oor die Londen toe gaanery, of hulle het dié getal met hul Lotto-nommers verwar. Die feit is eenvoudig net dat hulle nie met die werklikheid rekening gehou het nie.
Al die medaljes wat ons wel verower het, was beslis almal so goed soos goud, maar ek stem met Gideon Sam (President van Sascoc) saam as hy voel Suid-Afrika het ’n paar medaljes in Londen gelos. Sy woorde: At this level you don’t do that; when the medal is there for the taking, you take it.
Miskien is dit hierdie kanse wat ons laat glip het, wat my bubble meer as een keer gedurende die spele laat bars het.
Hoe is dit moontlik dat onse mense, wat die Britte by Magersfontein en Isandlwana op hulle baadjie gegee het, nie hondhaaraf kan maak in dissiplines soos perdry en skyfskiet nie? Is ons dan nie ’n nasie van avonturiers, ruiters, jagters en skerpskutters nie?
Nooit in my wildste drome het ek geweet ons kan roei nie! Ons het dan nie eens water nie… Op die Bergrivier en die Duzi, maar nie soos Bridgitte Hartley en die viertal, Sizwe, John, Matthewe en James nie!
Swem ja; dit het Ryk en Roland ons al by die vorige speles gewys.
Bubblebarsers par excellence was ons spansporte. Ons vrouesokkerspan moet eerder as Banana-Banana bekend staan, want dit het gelyk of hulle een of ander piesangrepubliek verteenwoordig. En dan gaan staan en sê die kaptein van die vrouehokkiespan ’n tiende plek is goed genoeg! Vir haar wil ek net sê: dit mag vir julle goed wees, maar baie ver van great!
En great is wat nodig gaan wees om in 2016 in Rio de Janeiro beter te vaar. ’n Ontevredenheid met goed genoeg en ’n passievolle strewe na great.
Benewens al ons medaljewenners, benodig ons vir Rio meer atlete soos Anaso Jobodwana (200 m), Willem Coertzen (tienkamp) en Burry Stander (bergfiets) wat bereid is om hulle alles op die spel te plaas.
Minder politiek in sport en meer bekwame administrateurs vir wie dit nie oor ’n baadjie met ’n badge gaan nie. Mense wat dalk al self die sport beoefen het en daarom die behoeftes van die atlete verstaan. Mense wat dalk selfs bereid is om by die huis te bly sodat daar meer geld vir die atlete kan wees.
Meer borgskappe vir ons atlete uit die privaatsektor sodat hulle ’n slag professioneel kan voorberei om met die wêreld te kompeteer.
Nou hoor ek jou al vra: Wat weet jy?
Weet self nie, maar ek kyk in hoë-definisie na die Spele. Grootskerm.
Weet jý hoe lyk dit as ons goud in HD kry? Pure groen-en-goud!
Maar weet jy hoe lyk dit as die bubble bars?
Moerse swak!
It’s what I came here to do, I’m now a legend. – Usain Bolt
My mother used to tell us in the mornings Carl put on your shoes, Oscar you put on your prosthetic legs… So I grew up not thinking I had a disability. I grew up thinking I had different shoes. – Oscar Pretorius
Inspire a generation is our motto. Not necessarily Create a generation, which is what they sometimes get up to in the Olimpic village. – Boris Johnson (London Mayor)
Image: FreeDigitalPhotos.net