Tag Archives | Noag

Wie gaan voor sit?

Ek wonder of daar op die ark ook ‘n besigheidsklas was?

Of Noag en sy gesin die diere bedien het en of daar ’n keuse tussen chicken en beef was? En of die ete wat jy uiteindelik kies, ook altyd, na jy hoe lank oor jou keuse getob het, nie beskikbaar was nie?

Natuurlik sou daar nie ’n chicken-of-beef-keuse gewees het nie, want ek is seker dit sou die diere uiters senuweeagtig gemaak het.  Jy was nooit seker wanneer jou status van passasier na spyskaartinskrywing kon verander nie!

Hierdie tipe vrae hou my op ’n onlangse vlug na Istanbul wakker. Eintlik dink ek dit was my brein se poging om my nie aan my deurgesitte boude te laat dink nie!

Die sneller vir dié vrae was sonder twyfel die lugwaardin wat die gordyn tussen ons en die uitverkorenes in besigheidsklas toegepluk het. Leedvermakerig! So asof ons aan hierdie kant van die gordyn iets onder lede het.

Waarom is mense so behep met hiërargie? Klasse, range, apartheid, posisies en dies meer.

Besigheidsklas mag kom rondstaan tussen die gepeupel, maar waag dit net om jou neus agter daardie gordyn te gaan indruk!  Alle hel in die lugruim daal op jou neer.

Maar wat darem troos, is dat ek weet dat daar eendag geen onderskeid gaan wees nie. Ons gaan almal dieselfde vlug na die ewigheid moet haal.

En soos ek verstaan, is daar nie ’n keuse van watter klas jy wil vlieg nie.

Almal sit aan dieselfde kant van die gordyn!

 

Wil jy vreet, of wil jy vlieg? – Hendrik Schoeman

Things turn out the best for people who make the best of the way things turn out. – John Wooden

Funny, isn’t it? The airlines go to all that trouble to keep you from taking a gun on board, then they just hand you a dinner roll you could kill a musk ox with. – Dave Barry

Image: FreeDigitalPhotos.net

Continue Reading