Het jy al ooit oor die Karoo gevlieg, en as jy ’n plaashuis se dak daar ver onder sien blink, gewonder wie bly daar?
Is dit iemand se oom wat, soos Laurika sing, soet koffie drink met sy een oog toe. En die tannie tee?
Is dit iemand se oom op sy plaas in Afrika wat bid vir ’n paar druppels reën? Iemand wat nóú nog praat van Mannetjies Roux en sy drie?
En daai stofstreep daar in die verte?
Is dit dalk Opperman se drie manne wat fluks aanstryk in die haai Karoo?
Met hul bondels op die rug en kieries soekend in die jakkalspad al agter die ster aan wat doer in die verte wil verdwyn.
En dan skuif ’n paar wit wolkies ongevraag voor die venster in en die blink van die plaasdak verdwyn so skielik soos wat dit verskyn het.
In die eentonige gesuis van die vliegtuig wonder ek oor die ster en die mense daar onder.
Ken hulle mekaar? Die boer en die stervolgers.
En die wit wolke? Waar kom hulle vandaan en waarheen is hulle oppad?
Hoop hulle kom nie in die pad van die ster nie, want dan gaan die manne daar onder die spoor byster raak.
Miskien is dit al die wolke, donker wolke, wat ons in hierdie land van die spoor af dwing. En laat moed verloor. En die ster verduister.
Donnerse wolke!
God writes the Gospel not in the Bible alone, but also on trees, and in the flowers and clouds and stars. – Martin Luther
I’m a dreamer. I have to dream and reach for the star, and if I miss a star then I grab a handful of clouds. – Mike Tyson
Mystery creates wonder and wonder is the basis of man’s desire to understand. – Neil Armstrong
Image courtesy of Federico Stevanin at FreeDigitalPhotos.net