Hy was nie net ‘n hond nie. Hy was soos Koos Kombuis oor Kytie sing, ’n vriend vir my.
Dit is nou amper vyf maande dat Kerneels se hart sommer net een skielike dag besluit het om op te hou om bloed te pomp. En ek waag nou eers om daaroor te skryf. Miskien is dit selfs nog te gou, want my trane maak dat en nie die letters op die rekenaar se skerm kan sien nie.
Nie te min. Kerneels was groter as die goue Spaniel wat hy was. Hy was ons leeu, die braaikaptein, Spanjaard en die oortreffende trap van die Energizer Bunny.
Ek moes geweet het dat Kerneels nie normaalweg sou dood nie, want hy het alles met oorgawe en op volspoed gedoen. Selfs op 80 km per uur uit die bakkie geklim. Op sy kop geval. Hom ’n keer of wat geskud en begin aanstap in die teerpad waar hy te lande gekom het. Tipies, Kerneels. ’n Lewende getuienis van pick yourself up, dust yourself off, and start all over again. (Dorothy Fields)
Maar dat hy só skielik dood is, dit kan ek vandag nog nie my kop om kry nie. Of laat ek eerder sê, my hart om kry nie. Oor die gat in my hart wil daar nét nie ’n roof groei nie. Miskien is dit omdat ek nie daar was om afskeid te neem nie. Om regtig die ou leeu te kon groet nie, want sien hy is dood toe ek besig was om die Taj Mahal te bewonder.
Of is dit omdat ek in die hele besigheid my eie verganklikheid sien? Kerneels en ek sou saam oud word. En nou is hy weg. Skielik. Alleen. Sonder om te groet…
En nou moet ek alleen braai.
En oud word …
A dog is the only thing on earth that loves you more than he loves himself. – Josh Billings
If there are no dogs in Heaven, then when I die I want to go where they went. – Will Rogers
Heaven goes by favor. If it went by merit, you would stay out and your dog would go in. – Mark Twain